Caster Semenya se ouers gaan in lewende lywe sien hoe hul dogter volgende maand in die Londense Olimpiese Spele aan die 800?m-wedloop deelneem.
Dit is die eerste keer dat dít gebeur en sal ook die eerste keer wees wat die 21-jarige atleet se ma, Dorcas, haar in ’n vliegtuig begewe.
“Dit is my eerste reis oorsee en om eerlik te wees, ek is ’n bietjie senuagtig oor die vlug, want dis my eerste keer. En al die kere wat ons Caster sien meeding het, was op die televisie,” sê dié 53-jarige inwoner van Limpopo. Sy en haar man, Jacob, sal saam met die ma van die Olimpiese swemmer Cameron van der Burgh na Londen reis.
Hulle gaan tuis in die vyfsterhotel Park Plaza Riverbank, met ’n uitsig van die Teemsrivier. Die maatskappy Procter and Gamble borg hul reis.
“Ek sien uit daarna om te sien hoe ’n ander land lyk. Ek is opgewonde oor die reis, veral omdat dit lekker sal wees om eendag vir my kleinkinders te vertel dat ek in ’n vliegtuig was en oorsee gegaan het,” sê Semenya se ma.
In Londen gaan ’n chauffeur hulle na alle geleenthede neem, hulle sal ’n persoonlike kok hê en ’n toer deur Londen onderneem.
“Dis net jammer hulle het nie pap waar ons heen gaan nie, want dis vullend. Maar ek gaan nie eens moeite doen om mieliemeel saam te neem om te kook nie, want ons sal te besig wees om mense te ontmoet en die plek te verken. Ons sal maar die kos daar moet probeer.”
Oor of sy ’n nuwe uitrusting aangeskaf het, sê sy: “Ek gaan nie nuwe klere koop nie. Die mense in Londen weet tog nie die klere wat het is goed genoeg nie; en dis nie asof hulle dit al in Londen gesien het nie.
“Vir die openingsplegtigheid gaan ek eenvoudig ’n mooi rok dra wat ek op ’n tyd gekoop het vir ’n geleentheid hier by die huis.”