Peter de Villiers, die voormalige Springbok-afrigter, glo sy drome is van meet af aan deur twee Suid-Afrikaanse rugby-administrateurs ontspoor.
’n Nieu-Seelandse skeidsregter het dit die finale nekslag toegedien.
Vol in die visier in Politically Incorrect, De Villiers se outobiografie, is die Oos-Kaapse rugby-administrateur Cheeky Watson.
De Villiers loop ook vir Oregan Hoskins, president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), en Bryce Lawrence, die skeidsregter wat in beheer was van 2011 se Wêreldbeker-kwarteindstryd waarin die Bokke teen Australië verloor het.
Watson, pa van die omstrede Springbok-flank Luke Watson, is veronderstel om ’n goeie Christen te wees, skryf De Villiers.
“Maar hy herinner my aan wat Gandhi bedoel het toe hy gesê het hy kon maklik ’n Christen gewees het as dit nie vir die Christene was nie.
“Toe Cheeky besef het hy kan my nie beheer nie, het hy alles opgediep wat tussen ons gebeur het en dít teen my probeer gebruik.”
De Villiers beskuldig Watson daarvan dat hý agter die skinderstorie was van ’n “seksvideo” wat glo wys hoe De Villiers tydens ’n besoek aan die Oos-Kaap in ’n motor intiem verkeer met ’n vrou.
Dit het nooit gebeur nie en ’n video het dus nie bestaan nie, sê hy.
Maar die storie het in die media beland en hom en sy gesin diep gekwets.
Cheeky Watson was deel van ’n ANC-gesinde steungroep wat De Villiers vroeg op die been gebring het toe hy besef het dat hy bitter min steun van Saru af kon verwag.
Aan die hart van sy latere botsings met Watson was dat Watson wou hê De Villiers moes Luke by die Bok-beginspan insluit, verkieslik as kaptein.
Daarby wou Watson ook aan hom voorskryf oor spankeuses.
De Villiers skryf hy het Watson vroeg in sy termyn ingelig hy wil John Smit en Victor Matfield terugbring.
“Wat de hel dink jy doen jy?” het Watson toe tydens ’n ontmoeting in die Paarl getier.
“Besef jy nie dat die blerrie Afrikaners jou nie steun nie?
“Hulle het nog nooit nie en sal ook nooit nie!”
’n Woedende De Villiers het Watson toe gevra of hy dink “ek is maar net ’n swart man wat hy kan manipuleer”.
De Villiers skryf daar was gerugte dat sekere Bokke uit die Jake White-era nie vir “’n swart afrigter” sou speel nie.
Matfield se naam is gedurig in dié verband genoem.
“Victor, is jy ’n rassis?” het De Villiers gevra toe hy Matfield vir die eerste keer ontmoet het.
Die Bok-slot was heeltemal uit die veld geslaan en hy kon uit sy eerlikheid en benadering aflei dat dit nié die geval was nie, skryf De Villiers.
Voor ’n Drienasies-toets teen Nieu-Seeland het hy wéér hewig met Cheeky Watson gebots.
De Villiers skryf Watson het hom in sy hotelkamer kom spreek en gesê hy is Nieu-Seeland toe gestuur om die ontevredenheid van Makhenkesi Stofile, toe minister van sport, oor te dra. Stofile was glo gegrief oor hoe De Villiers Luke Watson behandel het deur hom nie in die beginspan in te sluit nie.
“Ek het vir Cheeky gesê ek neem nie politieke besluite nie, net my eie.”
Terug in Suid-Afrika het De Villiers die minister oor dié beweerde sending van Watson uitgevra.
“Stofile het geantwoord dat hy omtrent ’n jaar lank nie met Cheeky gepraat het nie. Hy het regtig verbaas gelyk oor my bewering.”
De Villiers is uiters bitter teenoor Hoskins oor sy woorde by die aankondiging van die Springbok-pos op 9 Januarie 2008, ’n dag wat die gelukkigste van sy lewe moes wees.
Hoskins het gesê die aanstelling (met ’n stemuitslag van 11-10 in sy guns) was nie net op rugbyredes gegrond nie. “Ons het die kwessie van transformasie baie, baie ernstig in ag geneem.”
Hy is daarmee permanent gebrandmerk as ’n regstellende aksie-aanstelling, skryf De Villiers.
“Dit het gevoel of ek met die vuis in die maag geslaan is.
“Hoskins het opvattings help vorm wat dit vir my so moeilik gemaak het om deur die rugbypubliek, die media en ander belanghebbendes aanvaar te word.”
Volgens De Villiers het Hoskins later aan hom gesê die gewese Bokkaptein Morné du Plessis en die sakeleier Johann Rupert het hom geadviseer wat om te sê.
“Waar is die ruggraat wat jy van ’n sterk leier verwag? Ek kan my nie indink dat rugbyleiers soos dr. Danie Craven só maklik voorgesê sou word wat om te sê nie.”
Nadat die Wallabies die Bokke in Oktober 2011 met 11-9 uit die Wêreldbeker-toernooi geboender het, het hy alleen op die paviljoen gesit en tob, skryf De Villiers.
Die moontlikheid van wedstrydknoeiery, wat dikwels in krieket voorkom, het by hom opgekom.
“Tydens die Wêreldbeker het ons gehoor van gevalle waar mense tot £400 000 (sowat R5 miljoen) op ’n wedstryd verwed het.
“Dit het dus by my opgekom dat my span dalk ’n teiken was.”
De Villiers sê statistieke toon Lawrence het in sy loopbaan gemiddeld ses foute in ’n wedstryd gemaak, “wat heel goed is”.
In die gewraakte toets het Lawrence 47 foute begaan.
“Sy ‘foute’ het die hele gang van die wedstryd verander.”