Rapport WEBWERWE/DIENSTE >

Clive wil weer parool vra

Deur: Lizel Steenkamp in Kaapstad 2012-08-13 08:30
Clive Derby-Lewis wil nie in die tronk doodgaan nie.

Derby-Lewis, ’n “bekeerde Christen”, is 75 jaar oud en het al 19 jaar van sy lewenslange vonnis weens die moord op Chris Hani, destydse SAKP-leier, uitgedien.

Sy vrou, Gaye, gaan vandeesmaand om mediese parool aansoek doen om vrygelaat te word soos ­Jackie Selebi, die korrupte oudpolisiebaas.

Marius Coertze, Derby-Lewis se regsverteenwoordiger, het gesê benewens prostaatkanker het Derby-Lewis ook velkanker en hoë bloeddruk en hartversaking is vroeg vanjaar by hom gediagnoseer.

“Die prostaatkanker is onder beheer, maar dis net ’n kwessie van tyd voor dit na sy omliggende organe versprei. Sy gesondheid word al hoe swakker. Dis wreed om hom daar te hou.”

Die Jong Kommunisteliga het die afgelope week egter volgehou “die sataniese” Derby-Lewis en sy makker, Janus Walusz, “moet vrot in die tronk”. Derby-Lewis is wat hulle betref “’n simbool van apartheidsgeweld en boosheid”.

Dié ingesteldheid druis in teen die boodskap van vergifnis van S’bu Ndebele, minister van korrektiewe dienste, die afgelope Dinsdag in die parlement toe hy gesê het daar bestaan nie meer iets soos lewenslange tronkstraf nie.

“Die samelewing moet besef niemand gaan in die tronk vrot nie.

“Almal moet een of ander tyd vrygelaat word. Die Bybel sê ons moet vergewe,” het Ndebele aan die portefeuljekomitee oor korrek­tiewe dienste gesê.

Ingevolge wetgewing wat verlede jaar aanvaar is, sal Ndebele in sy hoedanigheid as minister die finale sê hê oor Derby-Lewis se lot, sou die mediese paroolraad bevind hy is terminaal siek en aanbeveel dat hy vrygelaat moet word.

Enige gevangene wat terminaal siek is, kan om mediese parool aansoek doen.

’n Doktersverslag en mediese rekords moet die siekte bevestig.

Die mediese paroolraad moet die misdaad, vonnis en hoeveel daarvan uitgedien is, ook in ag neem.

Derby-Lewis het in 2010 om gewone parool aansoek gedoen, maar Nosiviwe Mapisa-Nqakula, Ndebele se voorganger, het dit afgekeur omdat hy “nie berou toon nie”.

Sy het ook aangevoer Derby-Lewis en Walusz verswyg die volle waarheid oor die sluipmoord op Hani in 1993 in die oprit van sy huis in Boksburg.

Volgens Coertze is dié aantygings “nonsens”. “Die SAKP het die idee in hul kop daar was ’n (politieke) komplot om Hani uit te haal en hulle wil Clive daarvoor straf.”

«Terug