Derek Hanekom, adjunkminister van wetenskap en tegnologie, het die sakeman Cyril Ramaphosa eergisteraand by ’n openbare geleentheid gevra om hom as ANC-president verkiesbaar te stel.
Hanekom het ’n paneelbespreking gelei oor die ontslape Walter Sisulu, ’n ANC-strydros en voormalige sekretaris-generaal van die regerende party, by die Universiteit van die Witwatersrand.
Die Ahmed Kathrada-stigting, waarvan Ramaphosa voorsitter is, en die Gautengse ANC het die bespreking aangebied.
Hanekom het aan die gehoor van sowat 300 mense gesê: “Ons het leiers soos Cyril nodig. Ek weet kameraad Cyril is goed met sake, maar ek wens regtig hy wil al sy geld in ’n trust laat en vir ’n hoër, meer senior posisie mik.”
Hanekom, wat ook die voorsitter is van die ANC se nasionale tugkomitee, het later teruggekrabbel en aan die laggende gehoor gesê: “Ek het nie ’n debat oor die opvolgstryd hier begin nie.”
Max Sisulu, speaker van die parlement, die regeringswoordvoerder Jimmy Manyi en Barbara Hogan, voormalige minister van openbare ondernemings, was ook in die gehoor.
Ramaphosa het Hanekom se uitlating afgelag. “Jy kan nie enigiets daarin lees nie, hy het net ’n grap gemaak,” het hy aan
City Press, susterkoerant van
Rapport, gesê.