Gedurende dié vergaderings kalmeer hy vrese in die landbousektor oor grondhervorming en nasionalisering.
Hy het onlangs superryk sakemanne na sy plase gevlieg om hulle aan te moedig om in die wildbedryf te belê.
Die vergaderings was in die Noord-Kaap tussen Ramaphosa en ’n top-wildboer wat ook lid is van Wildbedryf SA (WRSA) en ander wildboere.
Danie Minnaar, ’n wildboer van Kroonstad, sê hy het Ramaphosa gevra of wit boere nog ’n heenkome in Suid-Afrika het.
“Hy het aan my gesê: ‘Ons het ouens soos julle nodig. Ons het kos nodig. Sonder kos sal ons ’n revolusie hê,’” sê Minnaar.
Boet Troskie, ’n wildboer en vriend van Ramaphosa, sê sy verkiesing was die beste nuus in jare.
“Vir die eerste keer het ek weer hoop vir Suid-Afrika.
“Die klem moet skuif van politieke partye en ons land moet as ’n veilige hawe bemark word. Cyril is die regte man daarvoor. Hy het baie geloofwaardigheid,” sê Troskie.
– Volksblad