Rapport WEBWERWE/DIENSTE >

Fairacres se baas begelei Rapport self deur plaas

Deur: Jacques Steenkamp in Ogies 2012-05-19 23:43
’n Week nadat Rapport toegang geweier is tot ’n Fairacres-plaas is ons eergister per e-pos genooi om dit te besoek.

John Byrne, direkteur van Fairacres, het Rapport persoonlik by die hoofhek verwelkom en deur die plaas begelei.

Hy het verduidelik sowat 350 000 henne word in verskeie ou en nuwe hoenderhuise aangehou en dat van die Italiaanse masjinerie gereeld onklaar raak.

Van die oudste hoenderhuise op die plaas dateer van 1978.

Rapport het opgemerk die meeste van die huise wat besoek is, het skoon en higiënies voorgekom.

Byrne het by een van die ou huise, waaroor die NDBV verlede week vir hulle ’n waarskuwing gegee het, erken dat die mis onder die hokke tot heuphoogte opgehoop het. Die hokke strek oor sowat 60 m. Dit was egter skoongemaak met Rapport se besoek.

Byrne se broer, David, het verduidelik hoe die eiers deur die pakstasie beweeg. Volgens hom word net die verskriklik vuil eiers, wat byna toe is onder mis, uit die produksielyn gehaal. Die eiers word dan na die Lanseria-plaas gestuur waar dit gewas word.

Die res van die eiers word ongewas verpak en na supermarkte versend.

Byrne het bevestig hy is reeds die afgelope ses maande bewus van die foto’s wat onlangs aan Rapport gewys is.

«Terug