“Inmenging” deur en die “geldgierigheid” van Suid-Afrika se Olimpiese base het die land se desperate manshokkiespan die afgelope week ’n groot borgskap gekos en dreig glo om nóg ’n ooreenkoms van miljoene rande te verongeluk.
Dié span, wat al die afgelope agt jaar borgloos is, het verlede maand geskitter toe hulle ’n kwalifiserende toernooi in Japan gewen en só die vliegtuig Spele toe gehaal het.
Maar nou is die span se voorbereiding in die gedrang nadat Clere Active Dinsdag sy aanbod teruggetrek het om R350 000 by te dra tot oefenkampe, internasionale wedstryde en ’n televisie-advertensieveldtog.
Dié veldtog, waarvan die verfilming volgende week sou begin, is gekanselleer.
Clere Active is ’n handelsmerk van Amka Products, een van die land se grootste vervaardigers van toilet- en kosmetiese ware.
Karen Kruger, Clere Active se bemarkingsbestuurder, wou by navraag nie bevestig óf ontken dat dié borgskap van die baan is nie.
Maar verskeie bronne wat by die onderhandelinge betrokke was, het aan Rapport gesê die “inmenging” en “geldgierigheid” van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) en die Suid-Afrikaanse Hokkievereniging (Saha) se “hopelose bestuur” het die ooreenkoms gekelder.
Verteenwoordigers van Clere Active het Saha reeds op 10 Mei genader nadat Marissa Langeni, dié beheerliggaam se uitvoerende hoof, en Dave Carr, die Saha-president, in koerante en op webwerwe gesoebat het om geldelike steun.
Die verteenwoordigers is egter meer as ’n week later laat weet dié bedrag is nie groot genoeg nie.
Clere Active het toe aangebied om as medeborg op te tree, maar Saha het teen vroeër die afgelope week steeds nie ’n memorandum van verstandhouding onderteken nie.
Aan Rapport is gesê Saskok het Dinsdag boonop daarop aangedring dat ’n deel van die borgskap na sy eie geldkoffers gaan én het gewaarsku Clere Active “mag geensins betrokke wees” by die span tydens die Spele nie.
Dié ultimatum was glo die laaste druppel aan die emmer.
* Langeni het by navraag aan Rapport bevestig die span het steeds nie ’n borg nie.
“Ons sukkel al die afgelope ses tot agt jaar lank om ’n groot borg te kry, maar ons is tans in onderhandelinge met ’n maatskappy om finansiering wat gebruik sal word vir die voorbereidende deel van die span se veldtog,” sê sy.
Rapport verneem dié onderhandelinge – glo met ’n boureus – het ’n dooiepunt bereik, aangesien Saha en Saskok aandring op ’n bedrag van R3 miljoen.
“Die onderhandelinge is in ’n sensitiewe stadium, maar ek is hoopvol dat ons binnekort ’n ooreenkoms sal bereik,” sê Langeni.
* Die span se eerste Spele-wedstryd is reeds op 30 Julie in die Riverbank-arena teen Australië.
Die span was vroeër feitlik verseker van ’n plek in Londen nadat hy as Afrika-kampioen gekroon is.
Die kampioenspanne van elke vasteland het in die verlede outomaties deurgedring na die Spele, maar Saskok het besluit die Suid-Afrikaners moes aan die toernooi in Japan gaan deelneem én wen.
* Volgens Gregg Clark, die span se afrigter, was hul voorbereiding tot dusver “allesbehalwe ideaal”.
“Die probleem was deels finansiering en deels swak tydsberekening.
“Ons is veronderstel om op 25 Junie na Europa te vertrek vir agt oefenwedstryde. Ek weet nie wie daarvoor gaan betaal nie, maar ons is die versekering gegee dat dit wel sál gebeur,” sê Clark.