Rapport WEBWERWE/DIENSTE >

Groep kry berading ná hul uit Angola verjaag is

Deur: Marlene Malan in Kaapstad 2012-05-19 23:43
Geskok en getraumatiseer.

Dit is hoe ’n groep Suid-Afrikaners voel nadat hulle hardhandig uit Angola verwilder is terwyl hulle die oorskot van vier gestorwe Suid-Afrikaanse soldate opgegrawe het.

Dit kom ná maande se reëlings, ’n lang en duur reis en fyn antropologiese werk om dié oorskot terug te bring huis toe. Die vier soldate het in November 1975 tydens Operasie Savanna in Ebo, Angola, gesterf.

Die span van agt onder leiding van genl.maj. (afgetree) Gert Opperman was so geskok dat hy Vrydag ontlontingsberading vir die groep gereël het.

Opperman en onder andere die forensiese antropoloë prof. Maryna Blignaut-Steyn, prof. Willem Boshoff en Coen Nienaber, het vroeg in Mei na Ebo vertrek.

Die span het ook twee naasbestaandes ingesluit van kavalleris Niel Lombard en die lugmagoffisiere kapt. Daniël Taljaard, 2de lt. Keith Williamson en 2de lt. Eric Thompson.

Jare lange navorsing oor die grafte van die soldate het gelei tot ’n besoek aan Angola in Februarie.

Opperman het toe skriftelik met die goewerneur van die provinsie Kwanza-Sul, Serafim do Prado, geskakel om die opgrawingsprojek van 5 tot 15 Mei te finaliseer.

’n Gedetailleerde besoek- en werkplan is verskaf.

Volgens Opperman het die adjunk-administrateur van die dorpie Ebo op die eerste dag van hul besoek gesê “bepaalde tradisionele sake” moet afgehandel word voordat met die opgrawing begin kon word.
’n Kontantbetaling van $750 (sowat R6 200) is ook geëis.

“Ons het dit betaal en ná twee uur se opgrawingswerk die beendere gevind van die lugmagoffisiere wat afgeskiet is.”

Lombard se graf is ook geïdentifiseer, maar toe het gewapende polisiebeamptes Opperman-hulle beveel om alle aktiwiteite te staak.

Opperman sê alle pogings om ’n aanvaarbare oplossing te vind, het misluk en hulle moes Angola verlaat – met R250 00 se koste wat reeds met die Ebo-projek aangegaan is.

«Terug