Rapport

Handboeke: Amptenaar wou rondry

Deur: Lizel Steenkamp 2012-08-18 23:49
Die raaisel oor hoe skoolhandboeke op ashope en aan flarde langs paaie in Limpopo beland het, is ontrafel.

’n Onderwysamptenaar het handboeke by ’n pakhuis in ’n staatsmotor gepak onder die voorwendsel dat hy dit by skole gaan aflewer, maar het dit langs paaie uitgesmyt sodat hy onwettig in die staatsmotor kon rondry sonder om uitgevang te word.

“Hy het dit gedoen, want hy moes met ’n leë motor na die pakhuis terugkeer,” het Bobby Soobrayan, direkteur-generaal van basiese onderwys, Dinsdag in die parlement gesê.

Voorts het ’n korrupte kontrakteur met ’n verouderde brief van die provinsiale onderwys­departement by skole opgedaag om oortollige handboeke te versamel.

Dié is dan onwettig versnipper. Hoe meer handboeke die kontrakteur by skole versamel het, hoe vetter was sy tjek omdat die provinsiale departement hom per gewig betaal het.

Soobrayan het gesê dit is strydig met regeringsbeleid om staatseiendom te vernietig. “Maar die diensverskaffer het net aangegaan en handboeke versnipper en verbrand.”

Volgens hom is korrupte kontrakteurs wat só geld maak ’n “generiese probleem”. Hoewel die departement tans net bogenoemde voorvalle ondersoek, is daar waarskynlik nog kontrakteurs wat onwettig van hand- en werkboeke ontslae raak.

Dié skandes het aan die lig gekom te midde van die debakel van gr. R- tot gr. 3- en gr. 10-leerlinge wat teen einde Julie nog geen handboeke ontvang het nie.

Soobrayan het die skuld vir dié vergrype en die laat aflewering van handboeke gepak op ’n provinsiale departement “wat al jare lank op ’n administratiewe vlak wanfunksioneel is”.

Volgens hom is daar ’n ineenstorting van stelsels in Limpopo se onderwysdepartement en is korrupsie en bedenklike kontrakte ’n uitvloeisel daarvan. Soobrayan het teen druktyd nie op talle navrae van Rapport oor wié die skuldiges is, of daar al teen hulle opgetree is en wat die omvang van die vernietiging van handboeke is, gereageer nie.

Hy en Matanzima Mweli, waarnemende adjunk-direkteur-generaal, het die impak van die afleweringsprobleme op onderrig in Limpopo Dinsdag in die parlement onderspeel.

Mweli het aangevoer onderwysers kon wél klasgee omdat hulle opleiding oor die nuwe kurrikulum ontvang het en in sekere vakke ou handboeke kon gebruik.

“Laat aflewerings het nie in alle gevalle onderrig verongeluk soos voorgegee word nie. Ons het nêrens klagtes van onderwysers óf skoolhoofde gekry nie.”

Soobrayan het gesê dit is verregaande om die indruk te wek daar was “geen onderrig” nie.

Die ANC-beheerde portefeuljekomitee het die departement se plan om die agterstand in onderrig uit te wis, goedgekeur.

Die DA was nie oortuig nie.

“Dit besweer nie my vrese nie,” het Annette Lovemore, DA-LP, gesê.
«Terug