Share

‘Hokaai met te veel iPad’

Binne twee jaar gaan sowat 30 000 laerskoolleerlinge in 250 openbare skole tablette kry, sê die departement van onderwys. Hoe nou gemaak met kenners se waarskuwings oor “skermtyd”? Vania van der Heever berig.

Die gr. 1’s aan die Primêre Skool Vaalpark in Sasolburg sit vasgenael op hul iPads en somme doen. In ’n ander klas staan ’n gr. R-leerling op ’n stoel, iPad in die hand en lewer ’n praatjie oor haar troeteldiere.

Dis hoe die klaskamer van die toekoms lyk, sê Jan Viljoen, skoolhoof. Vaalpark het verlede jaar dié iPads aangeskaf en is verstom oor die onderrigwaarde.

“Kinders se vermoë om te spel, tel en skryf, ontwikkel vinniger met die iPads.”

Hy meen die skool sal later nie meer handboeke of swartborde gebruik nie.

Nie so haastig nie, waarsku dr. Louis Naudé, ’n ortopedagoog van Bellville in die Wes-Kaap wat in kognitiewe neuropsigologie spesialiseer. Hy werk die afgelope 36 jaar met kinders wat leerprobleme het en meen kinders in die grondslagfase – gr. 1 tot gr. 3 – moet glad nie aan tegnologie soos iPads blootgestel word nie. Dit belemmer hul lees- en skryfvaardighede en maak hulle lui, sê hy.

By Vaalpark gebruik die kinders spesiale pennetjies om op die iPad-skerms te skryf en leer dus steeds hoe om ’n pen vas te hou en letters te vorm, sê Viljoen. Maar Naudé meen dis nooit dieselfde om op ’n iPad te skryf as in ’n boek nie.

“Kinders leer nie op ’n iPad of tablet oor spasiëring tussen woorde nie. Ook nie waar die beginpunt is om ’n letter te vorm nie. Met dié tegnologie leer kinders ook nie meer klank nie. Om fisiek te leer skryf met ’n pen bevorder hul hand- en oogkoördinasie.”

Danksy iPads kan studiemateriaal nou meer stimulerend aangebied word, sê Viljoen. En die kinders hoef nie meer swaar te dra aan dik handboeke nie.

Hulle kan tjoef-tjaf al die inligting wat hulle benodig van die internet aflaai. Hy kry mense jammer wat sukkel om die oorgang na die tegnologie vir studiedoeleindes te maak.

“Tegnologie is die toekoms. Kinders kan beter navorsing met tegnologie doen. Dit bespaar tyd.”

Nee, sê Naudé, dis nie tegnologie wat kinders leer nie; hulle leer bloot hoe om met verskillende toestelle te werk. Die programme wat hulle vandag aanleer, moet hulle gou weer verleer wanneer die tegnologie verander.
 
Dit veroorsaak dat kinders aan inligtingsangs begin ly, sê hy. Hy meen ook kinders leer nie om bronne te beoordeel, te verwerk en op wetenskaplike wyse te integreer nie. Die leerproses gaan juis oor meer as knip-en-plak. Hy het ook bedenkinge oor die uitwerking van tegnologiese leermiddels op kinders se vermoë om te konsentreer. Kinders sukkel om te luister as hulle te veel visueel gestimuleer word, waarsku Naudé.

“Ek het al kinders so jonk as vyf en ses jaar oud gesien by wie aandagafleibaarheid gediag­noseer is, maar dan blyk dit hulle is bloot aan te veel tegnologie soos selfone, rekenaars, TV en tabletrekenaars blootgestel.

“Sulke kinders het ’n agterstand in motoriese koördinasie.

“Hul spiere is swak. Die kind kan nie lank stilsit nie en sukkel om sonder visuele stimulasie te konsentreer.”

Viljoen stem nie saam nie. Hulle het bevind kinders konsentreer juis beter danksy die iPad. Hulle geniet vakke soos wiskunde en taal omdat dit soos ’n speletjie word.

“Dit is vir die kind lekker om visueel die probleem veral in wiskunde te sien. Die prentjies hou die kind se konsentrasie.”

Inteendeel, sê Naudé. Dié soort onderrig strem eerder ’n kind se vermoë om te konsentreer. Jong kinders moenie langer as twee uur per dag aan enige vorm van tegnologie blootgestel word nie, is in ’n studie deur die Amerikaanse akademie van pediaters bevind. Vir ouer kinders is die perk net een uur.

Naudé sê: “Albert Einstein het gesê wanneer tegnologie ons beheer, is ons idiote.”

Te veel blootstelling aan tegnologie belemmer kinders se ouditiewe ontwikkeling, beaam ­Annemari Bateman, ’n arbeids­terapeut in Johannesburg. Maar vir outistiese kinders wat sukkel om met ander te kommunikeer, is die tegnologie goed, sê sy.

“Kinders wat te veel aan tegnologie blootgestel is, sukkel om sosiaal met ander oor die weg te kom. Omdat hulle nie met ander praat wanneer hulle met ’n rekenaar, TV, selfoon of tablet besig is nie, beïnvloed dit hul vermoë om fyn te luister.”


iPads se soet en suur


Voordele
* Kinders kan vinniger navorsing doen.
* Handboeke kan van die internet afgelaai word.
* Bespaar papier.
* Visuele stimulasie.
* Skoolwerk word soos ’n speletjie.
* Duisende opvoedkundige toepassings om kinders met hul skoolwerk te help.

Nadele
* Te veel blootstelling aan tegnologie beïnvloed kinders se slaappatrone.
* Maak hulle lui omdat inligting maklik verkry word.
* Beïnvloed skryfvaardighede.
* Sosiale vaardighede word geknou omdat hulle nie met ander praat nie.
* Al hoe meer is oorgewig weens baie tyd voor die TV en rekenaars.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Do airplane mishaps have any effect on which airline you book your flights with?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
No, these things happen. I pick based on price
49% - 492 votes
Yes, my safety matters. I don't take any chances
51% - 522 votes
Vote
Rand - Dollar
19.11
+0.4%
Rand - Pound
23.80
-0.4%
Rand - Euro
20.46
-0.0%
Rand - Aus dollar
12.40
-0.2%
Rand - Yen
0.12
+0.4%
Platinum
920.40
-1.1%
Palladium
1,026.50
+1.1%
Gold
2,322.61
-0.2%
Silver
27.34
+0.6%
Brent Crude
87.00
-0.3%
Top 40
68,051
+0.8%
All Share
74,011
+0.6%
Resource 10
59,613
-2.2%
Industrial 25
102,806
+1.7%
Financial 15
15,897
+1.8%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE