Dawid Kruiper (!Xamaub!), die Khomani San-leier, was voor sy dood maande lank in gesprek met ’n Johannesburgse regsfirma en die Suid-Afrikaanse statutêre regshulpsentrum, die Legal Resources Centre, om “geregtigheid” vir die Khomani San te soek.
Kruiper is verlede naweek op ’n semi-staatsbegrafnis in die Kalahari ter ruste gelê.
Die Khomani San, wat ’n sukkelbestaan in die Kalahari voer, wil ’n hofbevel bekom om die regering te dwing om sy verpligtinge teenoor die groep na te kom.
Moray Hathorn van die prokureursfirma Webber Wentzel het aan Rapport gesê so ’n aansoek word oor twee weke by die hooggeregshof in Kimberley ingedien.
Die respondente is die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, die kommissaris van die grondeisekommissie en die direkteur-generaal van landelike ontwikkeling en grondhervorming in die Noord-Kaap.
Kruiper het in ’n grondeis die regering destyds oorreed om in 1999 ses plase ter waarde van R15 miljoen in die suide van die Kalahari aan die Khomani San te oorhandig.
Die “tradisionele” en die “moderne” (groepe wat verwesters en na dorpe getrek het) Khomani San-groepe het toe hier gaan woon.
Maar ’n kommunale eiendoms-bestuurskomitee wat in die lewe geroep is om die groep te monitor, kon nie die mas opkom nie.
Ook het onderlinge verdeeldheid, swak kommunikasie, maar veral ’n tekort aan hulp van die regering die vooruitgang van die Khomani San erg gestrem.
In 2002 het die departement van grondsake ’n hofbevel bekom en is die bestuurskomitee onder die administrasie van die direkteur-generaal van grondsake geplaas.
Die groep het bly krepeer met min basiese geriewe.
Maatskaplike probleme soos werkloosheid en drank- en dwelmmisbruik was algemeen.
In ’n verslag deur die Verenigde Nasies in 2005 oor menseregte en fundamentele vryheid van inheemse mense is aanbeveel dat “hoë-prioriteit aandag gegee word aan die behoeftes en griewe van die Khomani San”.
Kruiper se wens was dat John, een van sy drie seuns, as leier by hom oorneem.
Maar ingevolge die ontbinde komitee se grondwet moet ’n nuwe leier tydens ’n verkiesing verkies word – ’n reël waarteen Kruiper sr. erg gekant was.