Rapport WEBWERWE/DIENSTE >

Maak progressiewe lede regters – ANC

Deur: Lizel Steenkamp 2012-06-09 23:36
Die ANC in KwaZulu-Natal wil hê “progressiewe ANC-lede” moet as regters aangestel word.

Die ANC in dié provinsie sê ’n ongetransformeerde regbank is die grootste bedreiging vir demokrasie en die Grondwet, onder meer weens ’n “gebrek aan die skeiding van magte” tussen die uitvoerende gesag en die regbank.

Dat die meeste (61%) regters swart is, beteken volgens hulle nié die regbank is getransformeer nie.

KwaZulu-Natal, die tuisprovinsie van pres. Jacob Zuma, is die ANC se grootste provinsie in terme van ledetal – bykans 245 000 – en is die eerste om dit só prontuit te stel wat met die “transformasie van die regbank” bedoel word.

Die resolusies wat die provinsie verlede maand op sy provinsiale kongres aanvaar het, is Dinsdag bekend gestel en stel die hoofstandpunte wat afgevaardigdes einde Junie op die ANC se nasionale beleidskongres by Gallagher Estate in Midrand sal inneem.

Een so ’n resolusie oor die regbank lui dat regslui wat “progressiewe ANC-lede” is as regters gewerf moet word “en uit die ANC moet bedank sodra hulle aangestel is”.

Nie een van KwaZulu-Natal se ANC-leiers kon vir kommentaar bereik word nie en ’n senior ANC-LP van die provinsie het geweier om daaroor te praat.

Debbie Schafer, DA-LP wat in die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie dien, sê dié resolusie toon “die ANC wil ’n regbank hê wat sal doen wat die ANC wil hê”.

“Die boodskap is duidelik: Die ANC wil nie ’n onafhanklike regbank hê nie, maar regters met ’n ANC-ingesteldheid wat nie teen die ANC se besluite sal beslis nie,” sê Schafer. Volgens haar staaf dit vermoedens dat die regering ’n verskuilde agenda het met sy voorneme om die uitsprake van die konstitusionele hof en die appèlhof te ontleed.

Prof. Pierre de Vos, grondwetkenner aan die Universiteit van Kaapstad, sê regters moet aangestel word op grond van hul waardes en verbintenis tot die Grondwet, nié tot watter politieke party hulle behoort nie.

“Met dié resolusie wek die ANC die indruk iemand kan net progressief en pro-transformasie wees as die persoon ’n lid van die ANC is. Dit is verkeerd.”

Nog ’n resolusie lui “ANC-kinders moet aangemoedig word om in die regte te studeer” en die ANC se skakeling met die Black Lawyers Association en die National Asso­ciation of Democratic Lawyers moet verskerp word.

Voorts wil die ANC in KwaZulu-Natal hê wetgewing “wat teen die aanvaarde sosiale norme indruis” moet herroep word. Die resolusie hou waarskynlik verband met wetgewing wat aborsie wettig en vryheid van seksuele voorkeur (wat grootliks gay-regte vaslê) verskans.

De Vos sê die resolusie is strydig met die Grondwet, wat respek vir verskille en diversiteit vereis.

“Die sosiale norme van die meerderheid vereis dikwels diskriminasie teen mense wat nié dieselfde norme aanhang nie. Dis ongrondwetlik. Sulke resolusies versterk die indruk dat die ANC besig is om meer konserwatief en regs te raak.”
«Terug