Rapport WEBWERWE/DIENSTE >

Marikana: ‘Ek sou ook die skietbevel gegee het’

Deur: Johan Eybers 2012-08-18 23:49
Die lewe van polisielede wat Donderdag 34 betogers doodgeskiet en 78 beseer het, was heel moontlik in gevaar en hulle het uit selfverdediging opgetree.

So sê dr. Johan Burger, ’n se­nior navorser van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS).

“Die beskuldiging dat die polisie nie in staat was om skarebeheer toe te pas nie, is onwaar.

“Die polisie het nie met ’n groep oproeriges te doen gehad nie. Hulle was in die middel van ’n gewapende konflik met ­3 000 mans gewapen met pangas en vuurwapens,” sê Burger.

Hulle het vroeër die afgelope week twee polisielede met pangas doodgekap wat wys dat hulle bloeddorstig was en hul woede op die polisie gefokus het, sê hy.

Hulle het ook glo op polisiehelikopters geskiet en ’n R5-geweer by een van die vermoorde polisielede afgevat, sê Burger.

“Dit was ’n oorlogsone en die gebruik van rubberkoeëls en traanrook was heeltemal ondoeltreffend,” sê hy.

Volgens Burger wys videomateriaal dat die betogers Woensdag in twee groepe verdeel het. Die een groep was op pad na die naburige township toe hulle deur die polisie gekeer is.

“Die gewapende groep het op die polisie afgestorm. Die polisie kon nie toelaat dat hulle oorrompel word nie.

“In so ’n situasie sal ek ook opdrag gee om te skiet.

“Ek glo dat indien die polisie anders opgetree het, sou ons vandag nog steeds van ’n slagting gelees het. Die slagoffers sou dan net polisielede gewees het,” sê hy.

Volgens Burger was daar lede van die nasionale intervensie-eenheid op die toneel, wat daarop wys die polisie het in hul evaluering van die situasie besef gewone maatreëls is nie genoeg nie.

Lede van dié eenheid is uiters goed opgelei en word net ontplooi in ’n hoërisiko-situasie.

Burger sê dit sou uiters kortsigtig wees as die kommissie van ondersoek wat deur pres. Jacob Zuma aangestel word, net die polisie se optrede ondersoek.

“Die kommissie moet ’n mandaat hê om holisties na die saak te kyk,” sê hy.
«Terug