Die “mentorskap” van opkomende boere en begunstigdes van grondhervomingsprojekte is deesdae ’n vloekwoord weens “kansvatters”.
Gedurende ’n besoek aan plase in die Ermelo-distrik in Mpumalanga en die Harrismith-distrik in die Vrystaat het Rapport telkemale by boere gehoor hoe kansvatter-mentors wit kommersiële boere ’n “slegte naam” gee. Mentors kan tot R15 000 per maand verdien om hul kundigheid te deel.
Bewyse van die teendeel is egter volop. Verskeie appelplase – ingerig om met die beste besproeiing vooruit te boer – is tot niet. Waar hoenderplase kon floreer, staan net verbrokkelende assteen-strukture.
Dr. Leon van Rooyen, voorsitter van Mpumalanga Landbou, het lig gewerp op dié verskynsel en waarom dit wit boere ongemaklik maak.
Hy noem dit “eindentrepreneurskap”.
“Boere het nie altyd die gesindheid om regtig begunstigdes te wil help nie,” het hy gesê.
“Maar die ding wat my bekommer, is dat dit lyk of niemand dit bestuur nie. Wie kyk dat die wit mentor sy werk doen, dat die regte kunsmis gebruik word? Waar is die kriteria waarvolgens die mentors aangestel word?”
Mtobeli Mxotwa, ministeriële woordvoerder vir landelike ontwikkeling en grondhervorming, het gesê die nasionale departement het juis verlede week bestekopname gedoen en vasgestel sowat 75% van sy projekte werp vrugte af. “Die res is erg problematies. Hoewel ons mentorskappe moniteer, moet ons ’n beter stelsel kry.
“Dinge moet begin verander. Teen 2016 moet ons projekte ten volle suksesvol wees,” het hy gesê.
Luidens die departement se beleidsraamwerk oor mentorskappe moet gevestigde boere aangemoedig word wat hul nuwe bure wil help.
Volgens Shadrack Mbele, Vrystaatse voorsitter van Afasa, die vereniging vir swart boere, in die Vrystaat, is dit nie heeltemal hoe dit gebeur nie.
“Die regering adverteer poste vir mentors. Dan bring hy die mentor vir ons: iemand wat ons nie ken nie en nie die gebied ken nie. Dit is die grootste fout.
“Diegene wat hulself as mentors by die regering aanbied, is bankrot of het ’n groot mislukking van hul eie plaas gemaak en die regering doen nie sy huiswerk om dít uit te vind nie. Vra dan eerder die mense wat weet. Hulle ís daar. Hulle wíl help,” het hy gesê.
Van Rooyen deel dié siening: “Gee georganiseerde landbou ’n kans om by te dra.”