Rapport WEBWERWE/DIENSTE >

Minder as 50% van taksgeld reg bestee

Deur: LIZEL STEENKAMP IN KAAPSTAD 2012-06-18 07:36
Minder as die helfte van elke rand wat staatsdepartemente van belastingbetalers ontvang, word doeltreffend bestee.

Dít blyk uit ’n voorlegging deur die Staatsdienskommissie (SDK) Woensdag in die parlement en bevestig die waarskuwing van Pravin Gordhan, minister van finansies, die vorige dag dat belastingbetalers se geduld opraak omdat hulle nie waarde kry vir die miljarde rande se belasting wat hulle betaal nie.

Die SDK het die prestasie van 15 strategiese staatsdepartemente – waaronder gesondheid, onderwys, polisie, vervoer, justisie, openbare werke, landbou en grondhervorming – ontleed en bevind die meeste van hulle bestee hul volle jaarlikse begrotings, maar behaal minder as 50% van die dienslewerings­teikens waarvoor dié geld bedoel is.

Só het die departemente van landbou en gesondheid in 2010-’11 bykans 98% van hul begrotings bestee, maar onderskeidelik net 35% en 37% van hul diensleweringsteikens behaal.

Die departement van vervoer het die beste gevaar deur 67% van sy teikens in 2010-’11 te behaal nadat hy sy héle begroting bestee het.

Prof. Richard Levin, direkteur-generaal van die SDK, het die beroerde prentjie aan LP’s voorgehou en gesê hoewel dit lankal nie meer nuus is nie, bly korrupte en wanpresterende amptenare ongestraf.

“Die staatsdiens vaar swak en die verslae toon dienslewering gaan agteruit... Die samelewing is besig om sy vertroue in die staatsdiens te verloor,” het hy gesê.

Die SDK skoei sy bevindings op sy eie inligting, die ouditeur-generaal se verslae en die staatsdepartemente se jaarverslae. Só is bepaal tot R3,7 miljard is in 2009-’10 in die drein af weens ongemagtigde, onreëlmatige, nuttelose en vrugtelose uitgawes omdat departementshoofde nie finansiële dissipline afdwing nie.

Poste vir senior bestuurders en professionele lui is in sommige staats­departemente tot twee jaar lank vakant, wat beteken dit moet deur waarnemende personeel beman word. By die polisie is dié tydperk selfs langer.
Luidens die SDK se statistieke was bykans 14% van bestuursposte in die polisie teen Desember 2011 vakant en dit duur gemiddeld 46 maande om so ’n pos te vul.

So ook was bykans 40% van bestuursposte in die departement van kommunikasie teen Desember vakant en dit duur daar gemiddeld 31 maande om ’n pos te vul.

Staatsamptenare se vaardigheidsvlakke wek ook kommer.

Die meeste personeellede van die departemente van openbare werke, landbou, gesondheid, justisie en polisie val in die “laer geskoolde afdeling”, wat beteken dié amptenare het net basiese vaardighede. Voorts is net 27% van die bykans 10?000 klagtes wat tot dusver by die SDK se teen-korrupsie-noodlyn aangemeld is deur die betrokke departemente ondersoek en afgesluit.

Levin het aan die LP’s gesê die staatsdiens kan nie só voortploeter nie. “Daar móét nagevolge wees vir mense wat nie hul kant bring nie.”

Dr. Sean Phillips, direkteur-generaal van die presidensie se kantoor vir monitering en evaluering, het toegegee “daar moet beter waarde wees vir elke rand wat die staat bestee”.

Phillips het egter ook van die SDK se bevindings bevraagteken en aangevoer dit is op foutiewe inligting geskoei.

“Dit vat die staatsdiens nou gemiddeld vyf maande om vakante poste te vul en die vaardigheidstekort is eerder ’n probleem op provinsiale vlak.”

LANDBOU EN GESONDHEID het in 2010-’11 bykans 98% van hul begrotings bestee, maar onderskeidelik net 35% en 37% van hul diensleweringsteikens behaal.

VERVOER het die beste gevaar deur 67% van sy teikens in 2010-’11 te behaal nadat hy sy héle begroting bestee het.

ALGEMEEN
Tot R3,7 miljard is in 2009-’10 in die drein af weens ongemagtigde, onreëlmatige, nuttelose en vrugtelose uitgawes.
«Terug