’n Minderjarige familielid van Deon Steenkamp (44), sy vrou, Christel (43), en hul dogter, Marthella (14), wat op Goeie Vrydag in hul plaashuis by Griekwastad vermoor is, is vanoggend gearresteer by sy skool in Bloemfontein.
Hy sal Donderdag in die hof op Griekwastad verskyn.
Don Steenkamp, wat vroeer vandeesmaand sy sestiende verjaardag gevier het, is die enigste oorlewende van die treurspel. Don was glo ten tyde van die aanval in die skuur ‘n ent van die huis doenig.
Die oggend van die driedubbele moord was die Steenkamp-gesin saam by ’n Goeie Vrydag-nagmaaldiens in die NG gemeente op Griekwastad.
Enkele ure later het Don glo skote gehoor en op die gru-toneel in die huis afgekom. Hy het later met bloedbevlekte klere by die Griekwastad-polisiekantoor ingebars om die moord aan te meld.
Don het sy pa se .22-geweer en .357-Ruger-rewolwer aan die polisie oorhandig wat hy glo by die plaashek opgetel het toe hy met ’n bakkie dorp toe gejaag het.