Die plan van die regering om uitsprake van die konstitusionele hof en appèlhof te hersien, asook die onafhanklike regulering van advokate en prokureurs, was gister hoog op die agenda tydens die onderhoude met vier regters vir ’n vakature in die konstitusionele hof.
Die indruk dat die regbank “’n regering op hul eie is en die land deur die howe wil regeer” is ook deur kommissarisse van die Regterlike Dienskommissie (RDK) in Kempton Park geopper.
Regters Ronnie Bosielo, Mandisa Maya en Robert Nugent, almal van die appèlhof, en regter Ray Zondo van die Noord- en Suid-Gautengse hooggeregshof was op dié kortlys.
Jeff Radebe, minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, het aan die kandidate gesê die regering wil nie uitsprake van die howe hersien nie, “dit is ’n skepping van die media”.
“Al waarvan ons praat is ’n evaluering van die uitsprake. Daar skuil niks onbehoorliks of ’n geheime agenda daaragter nie.”
Bosielo het gesê hy glo in die onafhanklike regulering van advokate en prokureurs.
Hy meen daar is egter vrae oor die onbekostigbaarheid van advokate en prokureurs vir die meeste Suid-Afrikaners.
“Ons is dit egter aan Suid-Afrikaners verskuldig om onsself te ondersoek om te sien of ons die doelwitte van die Grondwet bereik.”
Oor of regters hul magte oorskry met uitsprake waarin dit lyk of met regeringsake ingemeng word, het Maya – die enigste vrouekandidaat – gesê daar skort niks met ’n regter wat uitspraak lewer teen ’n regeringsdepartement nie, “soos onlangs waar die Noord-Gautengse hof die regering van Limpopo beveel het om handboeke aan skoolkinders te verskaf, want dit is wat die Grondwet vereis”.
Nugent, wat erken het hy voldoen as wit man nie aan die gewenste geslags- of rasprofiel nie, het gesê dit is belangrik dat die samelewing vertroue het in ’n onafhanklike regbank. Hy is erg deur lede van die RDK aangeval nadat hy vroeër gesê het hy vertrou nie die RDK nie.
Volgens Zondo sal onafhanklikheid van advokate en prokureurs ook daartoe lei dat die regbank onafhanklik bly omdat baie regters uit die professie kom.
Die RDK sal nou die name van die geskikte kandidate aan pres. Jacob Zuma stuur, wat sal besluit wie die pos gaan vul.