Rapport WEBWERWE/DIENSTE >

Pippie: Môre is D-dag

Deur: Christine van der Westhuizen in Johannesburg 2012-06-17 00:26
“Ek kan nie wag om môre my klein presentjie oop te maak nie,” sê Anice Kruger, ma van die driejarige Pippie (Isabella), wat die afgelope week ’n geskiedkundige operasie in Johannesburg ondergaan het waarin ge­kweekte vel op haar oorgeplant is.

Sy het op Oujaarsaand derdegraadse brandwonde oor 80% van haar lyfie opgedoen toe ’n bottel vuuraanstekerjel in die hande van haar pa, Erwin, ontplof het.

Hy was besig om die vuur aan te steek en sy het daar naby gespeel.

Maandagaand is ’n baanbreker-veloorplantingoperasie op Pippie uitgevoer en sy is daarna van kop tot tone in verbande toegedraai.

Die verbande word môremiddag afgehaal. Dan sal ma Anice en pa Erwin weet of die operasie op hul “klein presentjie” ’n sukses was.

Dit was die eerste operasie in sy soort in Afrika.

Twee stukke vel van 2cm x 6cm uit Pippie se lies is in Mei na die Epicel-laboratorium van Genzyme, ’n biotegnologie-maatskappy in Massachusetts in Amerika, gestuur waar dit gekweek is.

’n Bietjie meer as twee weke later is 41 stukke vel van 4cm x 5cm teruggestuur na Suid-Afrika. Dr. Ridwan Mia, ’n plastiese chirurg wat hoofsaaklik met brandslagoffers werk, het die vel oorgeplant.

“Individuele selle uit die vel word geïsoleer en op ’n basis bestaande uit blokkies muisweefsel waarvan die DNS verwyder is, geplaas. Dit vermeerder dan deur hulself te kopieer,” sê dr. Alan Barrett van Genzyme Suid-Afrika, wat verantwoordelik was vir die logistieke reëlings rondom die wegstuur van die biopsie en die ontvangs van die nuwe vel.

Spesiale toestemming moes van sowel die Amerikaanse as Suid-Afrikaanse owerhede verkry word om menslike weefsel te vervoer.
Barrett meen Epicel hou groot moontlikhede vir ander brandslagoffers in.
“Dit sal wonderlik wees as hier in Suid-Afrika ’n laboratorium tot stand gebring kan word.
“Dit is natuurlik ’n groot droom, net soos dit ’n groot droom was om vir Pippie ’n vel te kweek en dít het werklikheid geword.”

MENSVEL SEDERT 1975 SÓ OP MUISWEEFSEL GEKWEEK

* Die tegnologie wat Pippie ­Kruger se operasie moontlik gemaak het, is al bekend sedert 1975. Twee Amerikaanse wetenskaplikes, drs. James Rheinwald en Howard Green, het in daardie jaar bewys menslike epidermiese selle kan geïsoleer en gekweek word op ’n dun lagie DNS-lose muisweefsel.
* Ontvangers van hierdie veloorplanting mag nie bloed, eier- of spermselle skenk of borsvoed nie omdat muisselle ’n infeksie aan mense kan oordra.
* Die tegnologie word sedert 1988 as “Epicel” bemark en meer as 1?500 pasiënte met brandwonde het al hierby baat gevind.
* Van twee posseëlgrootte stukkies kan genoeg vel gekweek word om binne vier weke ’n pasiënt se hele liggaam te bedek.
* Die gekweekte Epicel-vel op sigself is gratis omdat dit as ’n “humanitêre uitvinding” geklassifiseer is. Uitgawes is wel hoog weens die navorsing, ontwikkeling, vervaardiging en vervoer daarvan.
* Dit word steeds in dieselfde laboratorium in Massachusetts en op dieselfde wyse gemaak as deur Rheinwald en Green.
* Epicel is die eerste kruisoorplantingsproduk – so genoem weens die insluiting van dierselle – wat in die VSA goedgekeur is.
* Genzyme spesialiseer eintlik in seldsame genetiese siektes, maar het die maatskappy wat Epicel vervaardig in 1994 gekoop.
* Lees meer oor Pippie se herstel op die Facebook-bladsy ­Isabella Pippie Kruger Ondersteunings Groep.







«Terug