Selfmoord is nie iets wat onder die mat gevee moet word nie, sê die
7de Laan-akteur Deon Coetzee oor klagtes van kykers dat ’n toneel waarin sy karakter homself wou skiet, te grafies uitgebeeld is.
Maar, sê Coetzee wat die rol van Herman Croukamp vertolk: “Ek het die tonele na die beste van my vermoë as akteur uitgebeeld en as die kykers dit oortuigend gevind het, is ek verheug.”
Kort nadat die toneel einde April uitgesaai is, het minstens vier kykers klagtes by die Uitsaaiklagtekommissie (UKKSA) ingedien.
UKKSA het onlangs bevind die tonele is inderdaad te grafies vir die gesinstydgleuf waarin die sepie op SABC2 uitgesaai word, selfs al het dié episode ’n ouderdomsperk van 13 gehad.
Die toneel begin waar Croukamp ’n rewolwer vashou en kyk of dit koeëls bevat. Dan sit hy die vuurwapen onder sy ken, waarna Felicity (Melanie du Bois) op hom afkom.
Croukamp het nie voortgegaan met die selfmoord nie.
Coetzee het die afgelope week aan Rapport gesê hy is nie verbaas oor die reaksie nie.
“Die hoë selfmoordsyfer in Suid-Afrika is ’n uiters ontstellende kwessie, maar ek glo nie dit is iets wat onder die mat ingevee moet word nie. Dit behoort liewer uitgelig en gepak te word – ook die oorsake wat aan die wortel daarvan lê.
“Ek voel bitter jammer vir mense wat deur so ’n trauma geraak is.”
Liby Nel, woordvoerder van
7de Laan, sê hoewel hulle die uitspraak respekteer, sal hulle voortgaan om sosiale kwessies deur middel van die storielyn aan te pak.
“Ons sal voortaan meer omsigtig werk met kwessies wat ontstellend kan wees.”
Dit is nie die eerste keer wat dié sepie ’n selfmoordtoneel uitbeeld nie.
Voorheen het ’n tienerkarakter selfmoord gepleeg deur ’n oordosis pille te drink nadat sy deur ’n onderwyser gemolesteer is.
Nel het erken dat selfs dié toneel nie so baie reaksie ontlok het nie.
“
7de Laan raak dikwels sosiale kwessies aan omdat dit deel van ons samelewing en dus van sekere kykers se lewenservaring is. Dit maak die program aktueel en kykers kan daarmee identifiseer.
“Selfmoord is ’n tragiese deel van ons samelewing en dus ’n relevante kwessie.
“Die noodsaak van voorkoming, asook hulp en ondersteuning aan die persoon wat selfmoord oorweeg én naasbestaandes, kan nie oorbeklemtoon word nie. Dis ook belangrik dat mense weet hulp is net ’n foonoproep ver,” sê Nel.
UKKSA het die uitsaaier gewaarsku om in die toekoms versigtiger te wees.