Ook van die Universiteit van die Vrystaat se planne om almal in Kovsie-koshuise welkom te laat voel. By Maties is die vermeende voorwaarde vir “inklusiwiteit” ’n geleidelike skuif van die taal-swaartepunt weg van Afrikaans na Engels, asof Engels, die kleiner moedertaal, nie uitsluit nie. By Kovsies, soos Rapport verlede week berig het, het Rudi Buys, studentedekaan, verlede maand gesê ’n koshuis “sál verander . . . in elke opsig”.
Dit word gedoen in die naam van vernuwing (tog ’n goeie ding?).
Kyk na dié skuiwe deur die prisma van die ANC se oogmerk om alle vlakke van die samelewing verteenwoordigend te maak van die demografie van die land en dit spel onheil.
Waarom aanvaar ons so onkrities dat dit ’n nastrewenswaardige doelwit is dat alle organisasies, klubs, klaskamers, sportspanne en koshuise verteenwoordigend moet wees van ’n nasionale demografie?
Waarom aanvaar ons dat dit noodwendig goed en progressief is as ’n instelling minder Afrikaans word, of selfs minder wit of bruin?
Diversiteit het baie aantoonbare voordele.
Onbillike diskriminasie op grond van ras, geslag, taal, seksuele oriëntasie of geloofsoortuiging is onwettig en moreel verkeerd.
Maar ons durf nie sonder meer aanvaar dat dit ’n deug is om daarna te streef dat elke werkplek of dorp of klaskamer of ontspansaal in hierdie land moet lyk soos die geheel nie.
Diversiteit hoef tog nie te beteken elke universiteit huisves klomp tale nie; dit kan ook beteken dat studente van alle tale ’n universiteit het om aan te studeer.
Diversiteit kan tog ook nie beteken alles wat uniek en eie is aan Afrikaners of Zoeloes moet plek maak vir generiese Suid-Afrikanismes nie.
Dit vereis tog veel eerder dat verskille tussen Suid-Afrikaners toegelaat en gevier word.
Ons moet versigtig wees om nie bloot op autopilot te vlieg na die “utopie” van demografiese verteenwoordigendheid nie. Dit kan maklik in ’n eenselwige hel ontaard eerder as ’n pluralistiese land wat krag uit die intrinsieke waarde van andersheid put.