Sowat R100 miljoen word jaarliks wêreldwyd uit Suid-Afrika se volkslied verdien, maar die land sien nie ’n sent daarvan nie.
Dié miljoene uit
Nkosi Sikelel’ iAfrika beland in die sakke van die internasionale musiekbedryf en sangers soos die Belg Helmut Lotti, wat verskillende weergawes van die Suid-Afrikaanse volkslied op ’n internasionale netwerk genaamd CIS-Net geregistreer en só die regte hierop bekom het.
Volgens die inligting op die netwerk kry 61 eisers tantièmes uit
Nkosi Sikelel’ iAfrikas of ander afleidings van dié naam, waaronder
National Anthem of South Africa, maar die Suid-Afrikaanse regering is nie op dié lys van bevoordeeldes nie.
Die staat besit wel die volkslied namens alle Suid-Afrikaners, sê die regering, maar hy kry niks geldelik uit die lied nie. Nou blyk dit juis dat die regering nie die regte op die weergawe van 1994 verseker het nie en só ’n skuiwergat oopgelaat het. Regslui meen die regering kan nie die volkslied besit deur net te verklaar dat dit syne is nie.
Kragtens die Wet op Kopiereg moet die regte op die lied skriftelik aan die regering toegeken word.
’n Magdom nuwe weergawes van Suid-Afrika se volkslied het voor die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010 die ronde begin doen. Altesame 50 jaar ná die dood van Enoch Sontonga, die lied se oorspronklike skepper, het
Nkosi Sikelel’ iAfrika weer in die openbare domein beland en enigeen kon dit dus verwerk of nuwe weergawes skep.
Talle het en het hul weergawes geregistreer op internasionale musieknetwerke waar hulle in aanmerking kom vir tantièmes elke keer wanneer die Suid-Afrikaanse volkslied gespeel of opgevoer word, soos gistermiddag voor die rugbytoets tussen die Springbokke en Engeland in Johannesburg.
Talle verskillende Nkosi Sikelel’ iAfrikas is vir kore, musiekbiblioteke en orkeste geskep. Dit strek van die een op Lotti se Out of Africa tot dié vir rolprente, soos deur die bekroonde Duitse komponis Hans Zimmer en die plaaslike komponis Cedric Samson wat benoem is vir ’n Grammy vir sy weergawe vir die fliek Mandela and De Klerk.
Volgens kenners maak dit nie saak dat dié weergawes nie die Suid-Afrikaanse volkslied van 1994, wat geskep is uit
Nkosi Sikelel’ iAfrika en
Die Stem, is nie. Wat tel is dat dit beskou word as afgeleide name van die nasionale volkslied sodra dit op stelsels soos CIS-Net geregistreer word. Die geld – in buitelandse valuta – wat dan uit die volkslied verdien word, is vir hierdie weergawes.
Die sowat R100 miljoen per jaar is maar ’n beskeie raming van wat die Suid-Afrikaanse volkslied wêreldwyd verdien.
Dis eintlik met groot sportbyeenkomste dat die geld inrol. Die lied kan by ’n belangrike wedstryd in Europa tot R100 000 verdien.
Graeme Gilfillan, ’n spesialis in internasionale kopiereg, sê: “Dit is die digitale era en dit is naïef om te dink dat dit nie iewers geld gaan maak nie.”