Rapport WEBWERWE/DIENSTE >

SA se afdae in die soeklig

Deur: LLEWELLYN PRINCE EN HANRI WONDERGEM 2012-06-18 07:36
Goeie Vrydag en Kersfees as open­bare vakansiedae in Suid-Afrika is in die spervuur ná klagtes dat dit net Christene bevoordeel.

Die Kommissie vir die Beskerming en Bevordering van Kulturele, Geloofs- en Taalgemeenskappe hou tans landwyd openbare verhore om menings oor die hersiening van dié en ander openbare vakansiedae te kry.

Die eerste vonke het Donderdag gespat toe teenwoordiges by ’n verhoor in Bloemfontein gesê het “Afrikane kan nie volgens ’n Westerse kalender lewe nie en Suid-Afrika moet ons eie kalender, soos die Chinese, kry”, berig Sapa.

Lede van die Basotho-, Khoi-Khoi en Khoi-San-gemeenskappe het in Bloemfontein ook aangedring op hul eie nasionale vakansiedae.

Verhore sal ook in ander Suid-Afrikaanse stede gehou word.

Adv. Sipho Mantula, woordvoerder van die kommissie, het aan Rapport gesê die doel van die verhore is om eers openbare dialoog oor die kwessie aan te wakker.

Eerw. Mautji Pataki, hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, sê die raad sal ook aan die verhore deelneem as dit tot nasiebou kan bydra.

“Ons mening is dat ander gelowe ook hul belangrike godsdienstige dae moet vier. Daar is egter nog baie ander belangrike Christelike dae wat nie openbare vakansiedae is nie.”

Wendy Kahn, nasionale direkteur van die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes, sê Jode volg die maankalender en nie die Gregoriaanse kalender wat Suid-Afrika volg nie.

Kahn sê die heilige dae wat deur die meerderheid Jode gevier word, is Roosj Hasjana (Joodse Nuwe Jaar), Joom Kippoer (Dag van Versoening) en Pasga (wat soms saam met Paasnaweek val).

Verder is daar nege ander Joodse heilige dae.

Volgens Kahn neem baie Jode op dié dae verlof en vergunnings word vir studente en skoliere gemaak.

Yusuf Patel, sekretaris-generaal van die United Ulama-raad van Suid-Afrika, sê Moslems in Suid-Afrika het agt heilige dae waarvan net een, Isra Al Mi’Raj (reis van die profeet Mohammed), vanjaar op ’n openbare vakansiedag (16 Junie) geval het.

Hy sê dit is nie prakties uitvoerbaar om geloofs­gegronde vakansiedae in te stel nie omdat daar te veel vakansiedae sal wees en dit sal die land se opvoeding, ­sakesektor en ekonomie benadeel.

Kahn en Patel is dit eens werkgewers moet twee of drie dae veranderlike verlof beskikbaar stel wat op dieselfde beginsel as menslikheidsverlof werk.

Mike Schüssler, hoofekonoom van economists.co.za, sê die land se ekonomie verdien R8 miljard op ’n gewone werkdag. Op openbare vakansiedae is dit net tussen R3 miljard en R4 miljard.

“Ek dink nie ons kan nog meer vakansiedae bekostig as ons ekonomies internasionaal mededingend wil wees nie.”

Só vergelyk ander lande met SA se 12 openbare vakansiedae


* In die VSA is daar 11 federale (’n openbare vakansiedag in ’n federasie wat deur die staat of provinsie bepaal word) vakansiedae, 10 jaarlikse vakansiedae en een vierjaarlikse vakansiedag.
* Nigerië het 11 amptelike vakansiedae en ’n verdere 4 heilige dae vir Moslems wat veranderlik is.
* In China is daar 11 openbare vakansiedae wat as dae van feesviering gesien word.
* In Indië is daar net drie amptelike vakansiedae. Verskillende provinsies het verskillende vakansiedae afhangend van die geloofsoortuiging in die provinsie. Daar is nog minstens 79 heilige dae vir die verskillende gelowe.
* Die Europese Unie skryf nie aan lidlande voor nie, maar die Europese Kommissie het wel vaste openbare vakansiedae vir werknemers in die Euro­pese Unie ingestel wat van jaar na jaar verskil. Daar is vanjaar en in 2013 tot 24 amptelike openbare vakansiedae in die Europese Unie.

«Terug