Share

SA se eie ‘kaal keiser’

Van ’n telefoontegnikus tot ’n wêreld­bekende tegnoloog met ’n eredoktorsgraad en ’n selfverklaarde multimiljoenêr.

Dit is die verhaal van die bedrieër “dr.” Gervan Lubbe, die uitvinder van ’n pynverligtingstoestel.

Hy is Dinsdag skuldig bevind op 19 aanklagte van bedrog en vervalsing nadat hy die hele wêreld langer as ’n dekade ’n gat in die kop gepraat het met sy “verstommende mediese uitvindsels”.

Hy het nie net die een huldeblyk ná die ander plaaslik en oorsee by akademiese instellings, maatskappye, sakekamers en die media verwerf nie, maar Suid-Afrikaanse beleggers uit R30 miljoen bedrieg om sy sug na rykdom te bevredig.

Die Lubbe-kaartehuis het heeltemal in duie gestort toe landdros Leon Claassen hom in die handelshof in Port Elizabeth tot “die kaal keiser” verklaar het.

Die saak teen Lubbe, wat vyf jaar geduur het, was gegrond op klagtes deur ses direkteure van sy eertydse maatskappy, Gervans Trading, toe sy beloftes oor die vervaardiging van ’n “verbeterde” pynverligtingstoestel, ’n malaria-monitor en sy outobiografie nooit gerealiseer het nie.

Hulle het in 2007 lont begin ruik toe Lubbe, wat voorheen wêreldwyd oor sy APS-pynverligtingstoestel geprys is, nie met sy beloofde “malariamonitor” en die outobiografie, Full Disclosure, vorendag kon kom nie.

Aan hulle is ’n reuse-inkomste uit dividende belowe nadat derduisende monitors en boeke glo reeds bestel is.

Hulle het die bestaan hiervan in twyfel begin trek, selfs nadat Lubbe belowe het die boek sal beter as die Harry Potter-reeks verkoop.

Net 60 eksemplare van sy “literêre meesterstuk” het die lig gesien, het die hof gehoor.

Sy leuens was buitengewoon, volgens Claassen.

Hy het onder meer vals dokumente opgestel oor die Vrystaatste Technikon se betrokkenheid by sy “navorsing” oor die monitor (Nerve Impulse Simulator of NIS); dat hy die APS-toestel baie verbeter en patentregte daarop en op die “malariamonitor” geregistreer het; en dat die TV-program Carte Blanche sou help met die bekendstelling van sy produkte.

Hy het selfs die betrokkenheid van die Universiteit van Pretoria by sy “navorsing” versin en vertel die Absa-bankgroep het hom R60 miljoen aangebied om nie Full Disclosure te publiseer nie.

Duisende beleggers het aandele ter waarde van R30 miljoen in sy maatskappy gekoop en al hul geld verloor.

Terwyl hy voorheen aan skoolkinders, sakelui en akademici vertel het sy matriekpunte was nie hoog genoeg om in die medisyne te studeer nie, maar dat hy sélf anatomie en fisiologie bestudeer het, het Claassen gesê Lubbe se aansprake van akademiese kwalifikasies “laat die wenkbroue lig”.

Hy het getuig:
* hy het drie doktorsgrade, asook ’n professoraat van “Canterbury-universiteit” in Londen en ’n PhD van Rochville-universiteit in Amerika (maar weet nie waar dit is nie);
* dat hy ’n tesis vir sy eredoktorsgraad ingedien het en sewe akademici dit onder oë gehad het;
* dat hy 16 jaar lank gestudeer het;
* dat hy sy meestersgraad in 1998, voor sy BSc-graad, verwerf het;
* dat hy sy grade per pos ontvang het;
* dat ’n “doktor hoër is as ’n professor”.

Claassen het ook gesê Lubbe se aanspraak dat Gervans Trading ’n “visioenêre maatskappy was waar almal in harmonie saamleef” en dat al sy maatskappye “reuse-suksesverhale” is, nie geglo kan word nie. Sy vertelling aan die hof van sy “absoluut fenomenale IT-kamers, servers, satellite dishes en call centre is oordrewe”, het Claassen gesê.

Luidens die uitspraak was dit duidelik Lubbe het sy bes gedoen om hom van die aanklagte te distansieer.

“Mnr. Lubbe het mense lank op ’n berekende wyse met sluheid, leuens en wanvoorstellings bedrieg.

“Hy toon geen berou oor sy optrede nie en hy het ook geen empatie met sy slagoffers nie.”

Lubbe word tot 22 Maart aangehou, wanneer hy gevonnis word.

***

Die verering en val van Gervan Lubbe:

1997: Die APS-pynverligtingsmasjien (Action Potential Simulation-terapie) word bekend gestel: Die patent word glo in 38 lande, asook by die Amerikaanse federale dwelmadministrasie geregistreer.

1997: Pretoria se Afrikaanse Sakekamer wys TechPulse, die APS-bemarker, as ondernemer van die jaar aan.

1997: Lubbe sê op Carte Blanche hy is ’n multimiljoenêr.

1998: The Outstanding Young Persons of the World-program (TOYP) vereer Lubbe (38) vir mediese innovasie.

1998: APS-terapie ontvang in Genève die goue medalje vir mediese uitvindsel van die jaar.

1999: Die Technikon Vrystaat ken ’n eredoktorsgraad aan Lubbe toe: Doctor Technologiae, honoris causa. Lubbe is nou “doktor” en “professor doktor”.

2003: Anglo Gold vra Siemens Mining om ’n apparaat vir mynwerkers te ontwikkel wat die malariaparasiet kan opspoor.

2003: Lubbe word genader. Hy dui ná een maand se “navorsing” aan hy het twee prototipes vervaardig. Hy sê dis ’n “polshorlosie” wat malaria in jou bloed bespeur.

2004: Gervans Trading verskuif van Naboomspruit (Mookgophong) na Port Elizabeth.

2005: Negatiewe berigte oor Gervans begin in die media verskyn.

2006: NextBillion, die internasionale organisasie vir entrepreneurskap, kondig die malariamonitor aan.

2006: Die Universiteit van Pretoria ontken alle aansprake dat hy Lubbe steun.

2006: Die Gesagsvereniging oor Reklamestandaarde van Suid-Afrika vra dat die aansprake oor die monitor ondersoek word.

2007: Lubbe beweer 121 000 malaria-monitors ter waarde van R144 miljoen is bestel. Hy reken op die verkoop van 5,2 miljoen eksemplare van sy boek, Full Disclosure.

2007: Gervans-direkteure sleep hom hof toe vir bedrog.

2007: Hy word in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog van R30 miljoen.

2007: Gervans word gelikwideer; 70 mense verloor hul werk.

2011: Lubbe erken aan die hof daar bestaan nie ’n “malariamonitor” nie.
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Do airplane mishaps have any effect on which airline you book your flights with?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
No, these things happen. I pick based on price
49% - 1006 votes
Yes, my safety matters. I don't take any chances
51% - 1040 votes
Vote
Rand - Dollar
19.21
-0.5%
Rand - Pound
23.92
-0.6%
Rand - Euro
20.54
-0.4%
Rand - Aus dollar
12.48
-0.7%
Rand - Yen
0.12
-0.2%
Platinum
915.00
-0.6%
Palladium
1,008.00
-1.8%
Gold
2,323.34
+0.1%
Silver
27.24
-0.3%
Brent-ruolie
88.42
+1.6%
Top 40
68,574
+0.8%
All Share
74,514
+0.7%
Resource 10
60,444
+1.4%
Industrial 25
104,013
+1.2%
Financial 15
15,837
-0.4%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE