Suid-Afrika hoop die $2 miljard (sowat R17 miljard) wat hy aan die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) beloof het, sal help om Afrika se inspraak in dié internasionale finansiële liggaam te verhoog. Die toekenning aan die IMF sal Suid-Afrika na verwagting in ’n sterk posisie in die internasionale politiek plaas, sê ontleders.
Maar die toekenning het gelei tot ’n aanval op pres. Jacob Zuma omdat hy Europese IMF-lidlande tegemoetkom terwyl Suid-Afrika eerder geldelike hulp behoort te kry.
Jabulani Sikhakhane, tesouriewoordvoerder, sê die leningsbelofte is ’n gebaar. “Ons hoop om hierdeur meer seggenskap in die IMF te kry. Die IMF het Europa se setels in die IMF-raad verminder en Suid-Afrika hoop om nou een van hulle te kry.” Afrika het geen setels in die IMF nie.
Die hervorming van die Bretton Woods-instellings (die IMF en die Wêreldbank) is lankal reeds hoog op die ontwikkelende lande se agenda.
Die Wêreldbank het onlangs nog ’n setel in sy raad bygevoeg vir ’n ontwikkelende land.
Op die afgelope week se G20-beraad in Los Cabos, Mexiko, het die meeste IMF-lidlande bygedra tot die skuldkrisisfonds, ’n reddingsfonds vir as die eurosone ineenstort. Die VSA het geweier om by te dra omdat hy sê Europa het genoeg geld om homself te red. China het $43 miljard beloof en die ander Brics-lande – Brasilië, Rusland en Indië – $10 miljard elk.
Volgens tesourie-amptenare is die IMF onder druk om sy transformasie vir beter verteenwoordiging van die ontwikkelende lande te bespoedig omdat al die Brics-lande nou bygedra het.
“Dit is duidelik dat die magsbalans in die wêreld verskuif het,” sê ’n amptenaar van die tesourie.
Suid-Afrika dra jaarliks by tot die IMF, maar die afgelope week se ekstra $2 miljard ontlok kritiek. Cosatu het hom sterk hieroor uitgespreek en gesê Suid-Afrika moet “’n begunstigde van die IMF eerder as ’n bydraer daartoe wees”.
Die IMF, het Cosatu gesê, “is verantwoordelik vir die verarming van groot getalle mense”.
Sikhakhane sê Suid-Afrika kon nie die IMF se versoek oor die hoof sien nie, want ’n ineenstorting in Europa hou ernstige gevolge in. Europa is Suid-Afrika se grootste handelsvennoot. China beklee die topplek op die lys van afsonderlike lande.