Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het sy verbod op wit studente in sy kadetprogram opgehef.
Dit volg op regsaksie deur die vakbond Solidariteit en sterk teenkanting deur talle wit Suid-Afrikaners teen die nasionale lugdiens se aanlyn-aansoekprogram wat wit mans outomaties van die kadetprogram uitgeskakel het.
Altesame 85% van die SAL se vlieëniers is wit en 91% is mans, het Kabelo Ledwaba, SAL-woordvoerder, gesê.
Die inname van kadette is gesien as ’n manier om dié profiel in ooreenstemming te bring met hoe die Suid-Afrikaanse bevolking lyk.
Die opheffing van die outomatiese verbod op wit mans is Vrydag aangekondig deur Fikile Thabethe, hoof van die SAL se regsafdeling. Hy het geantwoord op ’n regsbrief van Solidariteit se prokureurs, wat namens drie jong wit mans daarop aangedring het dat die lugdiens sy kwotastelsel vir kadette laat vaar.
Die drie, Pierre de Klerk (19) van Brits in Noordwes, Armand Moolman (21) van Pretoria en Jan-Paul Nel (19) van Bethlehem, het in hofstukke gesê hulle wil graag die geleentheid hê om hulself te bewys.
Volgens Thabethe is die webwerf nou aangepas sodat dit nie meer wit mans outomaties uitsluit nie. Die sluitingsdatum vir aansoeke vir die kadetprogram is ook van Vrydag 17?Augustus tot Vrydag 31?Augustus uitgestel om ander wit mans kans te gee om aansoek te doen, soos wat Solidariteit geëis het.
Die aansoeke van De Klerk, Moolman en Nel sal boonop nou saam met dié van alle ander aansoekers oorweeg word.
Volgens dr. Dirk Hermann, uitvoerende adjunkhoof van Solidariteit, het die drie mans aan al die nodige vereistes voldoen.
“De Klerk het matriek geslaag met ’n B-simbool vir wiskunde en wetenskap in die hoërgraad en ’n A-simbool vir Engels in die hoërgraad. Moolman en Nel voldoen ook aan al die vereistes en beskik reeds oor private vlieglisensies.”
Al drie het binne minute nadat hul aansoeke ingedien is ’n nota ontvang waarin hulle “met spyt” in kennis gestel is dat hul aansoeke onsuksesvol was en dat hulle nie ontmoedig moet voel om in die toekoms om poste by die SAL aansoek te doen nie.
“Hierdie absolute verbod op aanstellings van wittes is teen die letter en gees van die Suid-Afrikaanse Grondwet,” het Hermann gesê.
Die SAL het vroeër in ’n verklaring gesê daar word van hom verwag om, soos alle ander maatskappye, aan wetlike transformasie-teikens te voldoen.