Rapport WEBWERWE/DIENSTE >

Saak ná seilmaat verdwyn

Deur: Julian Jansen 2012-08-04 23:41
Twee aanklagte van nalatigheid is ingedien teen ’n seiljagvaarder nadat sy seilmaat, ’n oud-Kapenaar, in Junie spoorloos naby die Seychelle van sy seiljag, Finnegan, verdwyn het.

Stefan Pokorny (36) gaan oor twee weke in die Seychelle op dié aanklagte pleit.

Die verdwene Sean Terry (48) het vroeg afgetree om ’n vaart om die wêreld aan te pak.

Hy was met sy verdwyning op die laaste skof van sy vaart wat in Kaapstad sou eindig.

Pokorny, ’n Oostenrykse skuba-instrukteur, het hom van die Maledive-eilande vergesel.

Die twee het op 13 Mei op die Finnegan na Madagaskar vertrek.

Op 25 Junie het Pokorny alleen op die Finnegan by die eiland Coëtivy aangekom. Hy het aan die polisie gesê ’n ontstelde Terry het tydens stormweer oorboord gespring.

Pokorny is in hegtenis geneem en ’n grootskaalse soektog is van stapel gestuur.

Frank Dutton, die eerste hoof van die ontbinde Skerpioene, wat nou ondersoekbeampte by die Verenigde Nasies is, help met die ondersoek.

Judith Middleton, ’n woordvoerder van Terry se familie, sê Pokorny se weergawe is nie geloofwaardig nie en dit lyk of hy min gedoen het om Terry se lewe te probeer red.

«Terug