’n Snydende resensie oor ’n bundel Afrikaanse sekskortverhale – al maande lank ’n topverkoper – het ’n meningsoorlog onder literêre geeste ontketen.
Dit kom nadat die bekroonde skrywer en aanbieder van kreatiewe skryfkursusse Harry Kalmer die kortverhaalbundel
’n Lyf onthou deur Riette Rust in ’n resensie as ’n “ramp” beskryf het.
Sy het teruggekap en Kalmer daarvan beskuldig dat hy haar verneder het en sy “venyn” is niks anders nie as “bemarking vir sy kortverhaalkursusse”.
Rust se bundel is in Maart bekend gestel en klop sedertdien soms selfs die gewilde spanningsroman 7 dae deur Deon Meyer op verkooplyste.
Kalmer meen haar boek “het min om die lyf” en is uitgegee vir “ongesofistikeerde, wellustige lesers”.
Volgens hom kan die gehalte van
’n Lyf onthou lesers noop om voortaan “twee keer te dink” voordat hulle iets van Rust koop.
Uit ander skrywersoorde was daar meningsverskille oor en teenstand teen sy negatiwiteit en selfs troos vir Rust.
Die literêre ontleder prof. Louise Viljoen het Rust in haar resensie oor Lyf beskryf as “’n talent om mee rekening te hou”.
Sy sê dit blyk “daar is nog nie tevore so openlik in Afrikaans oor die onderwerp (seks) geskryf nie, veral nie deur ’n vrou nie”.
Die resensent en skrywer Maya Fowler het Kalmer in ’n lesersbrief aan
Die Burger gekritiseer dat hy Rust ’n “onnodig harde hou” toedien. Op haar blog sê sy Rust “is met die erotiek as kunsvorm bedrewe”.
Vrydag het die skrywer Riana Scheepers op Facebook ’n vertroostende skouer aan Rust gebied oor “Die Resensie”.
“As dit kan troos, alle kunstenaars kry een of ander tyd kwaai kritiek. Hoe jy dit verwerk, is belangrik. Leer wat jy moet uit Harry se beoordeling van jou werk en dan gaan jy aan.”
Die skrywer en resensent Kerneels Breytenbach was ook positief oor die bundel en skryf in ’n onlangse koerantartikel dit “bring ’n verdere verbreding”.
Oor Rust se omstrede verhaal van sadomasochisme sê hy: “Dis ongewoon om so iets in Afrikaans te lees. Rust is die eerste Afrikaanse skrywer wat sadomasochisme op papier verewig.”
Hy meen ook min skrywers skryf in Afrikaans oor seks “omdat dit so moeilik is”.
By navraag het die skrywer, vertaler en resensent Michiel Heyns gesê resensies is soms ’n dilemma.
Resensies van boeke waarmee hy “nie in voeling is nie”, wys hy liefs van die hand, soos onlangs met Nadine Gordimer se jongste roman,
No Time Like the Present.
“Ek het gedink die roman sou my nie aanstaan nie en ek kon nie die nodigheid sien om dit in die openbaar te sê nie.
“Dis die dilemma: Is dit nie die kritikus se plig om lesers te waarsku nie? Opbouende kritiek, ja, vir jong skrywers en tekste wat al soekende die pad byster raak.
“Maar as die keiser nie klere aanhet nie, moet iemand dit nie sê nie? Ek weet net nie of ek die moed het nie.”