Dié radikale nuwe voorstelle is vervat in ’n dokument getiteld “Finale beleidsvoorstelle vir die versterking van die relatiewe regte van mense wat die grond bewerk” wat die afgelope week in Rapport se besit gekom het.
Volgens dié dokument:
* Moet kommersiële boere of “historiese eienaars” die helfte van hul plase aan hul werknemers oordra. Die staat betaal vir die 50% wat deur die werkers bekom word.
* Dié geld word egter nie aan die grondeienaar betaal nie, maar in ’n beleggings- en ontwikkelingsfonds of trust geplaas waarvan ál die aandeelhouers van die grond trustees is. Die geld word dan aangewend vir die verdere ontwikkeling van die plaas.
Die uitgangspunt is dat grondeienaars reeds voldoende bevoordeel is deur sogenaamde “uitbuitende lone” en bevoordeling in die verlede.
* Die werkers kry aandele in ’n plaas na gelang van hul eie bydrae tot die ontwikkeling van die plaas, gemeet aan die aantal jare diens wat hulle agter die rug het.
Luidens die dokument is dié radikale beleid nodig om praktiese beslag te gee aan die Vryheidsmanifes se belofte dat mense sal deel in die rykdom van die land en dat die land verdeel sal word tussen diegene wat dit bewerk.
Landbouers het dié plan die afgelope week as “onwerkbaar” en “ongrondwetlik” afgemaak en gewaarsku dit gaan tot ’n afname in voedselproduksie en grootskaalse werkverliese lei.
Hoe ernstig die regering met dié plan is, blyk daaruit dat die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming die voorstelle reeds met Agri SA en ander landbouorganisasies soos Afasa (African Farmers’ Association of South Africa) en Nafu (National African Farmers’ Union) bespreek het. Die laaste van dié vergaderings was Maandag.
Dr. Theo de Jager, adjunkpresident van Agri SA, sê Agri SA het die beleidsvoorstelle vroeër reeds saam met ander landbou-organisasies teengestaan op grond daarvan dat dit onwerkbaar en heel waarskynlik ook ongrondwetlik is.
“Dit sal moontlik ook tot disinvestering in die sektor lei en ook voedselsekerheid bedreig,” meen De Jager.
Annelize Crosby, Agri SA se parlementêre navorser, en Theo Boshoff, Agri SA se regsverteenwoordiger, sê in ’n verklaring die ontneming van grond sonder vergoeding is onregverdigbaar en diskrimineer teen die landbousektor in vergelyking met ander sektore.
“Geen boer kan bekostig om die waarde en gebruik van 50% van sy of haar plaas te verloor nie. As dié voorstelle toegepas word, sal dit tot ernstige ontwrigting van voedsel- en veselproduksie lei. Dis ook onduidelik of die grondverdeling verpligtend sal wees en of boere ’n keuse sal hê.
Agri SA het dit duidelik gestel hy sal die verpligte toepassing van so ’n beleid teenstaan, selfs tot in die konstitusionele hof.”
Frans Cronjé, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, sê in die lig van die huidige begrotingstekort is dit voor die hand liggend dat die geld nie beskikbaar is vir dié planne nie.
“Selfs al word die beleid in werking gestel, sal die staat op die ou end nie vir die plase betaal nie.”
Cronjé sê die beleid moet gelees word saam met onteieningswetgewing wat die staat toelaat om bates sonder vergoeding te vat.
“Die voorstel sal dit onmoontlik maak om ’n boerdery te bedryf. Hoe kan enige onderneming suksesvol bestuur word as daar twee of meer uitvoerende hoofde is? Dit sal lei tot die ondergang van die meeste kommersiële boerderye.”
Die plan is ook deur swart landbou-unies verwerp.
Dr. Mandla Buthelezi, senior visepresident van Nafu, sê werkers móét opgehef word, maar die plaaseienaar het die kundigheid en behoort groter magte te hê om besluite oor die hele plaas te neem. “Die plan moet verder bespreek word.”
Die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming sê die voorstelle is wyd aan belangegroepe voorgelê, insluitende georganiseerde landbou-organisasies.
Sover is vyf konsultasiesessies gehou waar sowel steun as teenkanting daaroor verwoord is.
“Die departement gaan voort om insette te kry. Alle menings sal in ag geneem word en hopelik sal konsensus bereik word om die beoogde doelwitte te bereik,” sê Linda Page, hoofdirekteur van kommunikasie in die departement.
* Lees wat Rapport hieroor sê hier.
* Lees wat Gwede Mantashe sê hier.