Rapport WEBWERWE/DIENSTE >

Slagoffer kán eis ná hondebyt – kenners

Deur: Marlene Malan in Kaapstad 2012-06-17 00:27
Die doktersvrou van Uitenhage wie se regterarm tien dae gelede geamputeer is nadat sy deur ’n boerboel-kruis in ’n straat in haar woonbuurt aangeval is, kan die hond se eienaar hiervoor aanspreeklik hou.

Hoewel die polisie ’n klag teen die eienaar, Adriaan Benecke, aanhangig gemaak het vir die aanhou van ’n kwaai dier, “sal dit tegnies nie veel verder kom nie omdat die hond reeds van kant gemaak is”, het ’n woordvoerder van die Oos-Kaapse polisie aan Rapport gesê.

“Enige verdere regsaksie sal ’n siviele eis van die slagoffer moet wees.”

Heila Greeff (49) is Donderdagoggend 7 Junie tydens ’n oggendwandeling gebyt toe Benecke se hond, ’n boerboel-kruising, uit sy erf gekom het.

Die hond, Mufasa, het Greeff 15 minute lank gebyt en rondgeskud voordat tuinwerkers hom met die geraas van randsnyers van die gillende slagoffer verwilder kon kry.

Mufasa is daarna deur die Diere­beskermingsvereniging van kant gemaak.

André van der Merwe, ’n woordvoerder van die Netcare Cuyler-hospitaal op Uitenhage, het by navraag gesê Greeff verduur steeds baie pyn, “maar dit gaan onder omstandig­hede goed met haar”.

Volgens hom is sy uit die hoësorgeenheid na ’n gewone saal geskuif, maar daar is nog geen aanduiding van wanneer sy ontslaan gaan word nie.

Nie Greeff of haar man, dr. André Greeff, wou kommentaar lewer nie.

Oor die regsimplikasies van so ’n aanval het prof. Willem de Klerk van die Universiteit van die Witwatersrand gesê die gemenereg maak spesifiek daarvoor voorsiening dat ’n slagoffer die eienaar van so ’n dier aanspreeklik kan hou. “Alternatiewelik is dit standaardpraktyk om te eis op grond van nalatigheid.”

Die bewyslas wat daar op die slagoffer rus, is:

* dat die verweerder die eienaar was van die dier ten tyde van die aanval;
* dat die dier ’n sogenaamde troeteldier was;
* dat die dier teen sy natuur opgetree het (m.a.w. ’n mak hond byt nie mense nie); en
* dat die slagoffer skade gely het aan sy persoon of eiendom.

“Die slagoffer hoef hiervolgens glad nie te bewys die eienaar was nalatig nie; hy is aanspreeklik bloot op grond van sy eienaarskap van die dier.

“Indien die eienaar nie opgespoor kan word nie, kan ’n mens steeds eis vir nalatigheid van die persoon wat in beheer was van die dier.”

De Klerk sê ’n honde-eienaar sou ter verdediging kon aanvoer die slagoffer het die dier uitgelok, dat die slagoffer onregmatig op sy eiendom was, of dat die slagoffer bewus was van die gevaar en dit aanvaar het.

Volgens prof. Peter Jordi van die Wits-regskliniek hanteer hy nou ’n saak waarin ’n senior verpleegster van Leondale in Germiston R965 000 eis van die eienaars van ’n Amerikaanse veghond (pit bull) wat haar aan die been gebyt het nadat dié hond haar seun se hond doodgebyt en toe omstanders aangeval het.

“Die pit bull het voorheen al mense aangeval. Die eienaars het toegegee die eiser se saak het meriete. Al kwessie is dus die bedrag wat toegeken word.

“Eienaars van honde behoort openbare-aanspreeklikheidversekering te hê as deel van ’n verband­lening,” is Jordi se raad.

«Terug