Rapport WEBWERWE/DIENSTE >

Staat se voorkeur nou swart en vroulike regslui

Deur: LIZEL STEENKAMP IN KAAPSTAD 2012-05-19 23:44
Jeff Radebe, minister van justisie, is nie tevrede met die transformasie van die regbank nie – nie wat ras óf die “ingesteldheid” van regters betref nie.

61% of 142 van die huidige 233 regters is swart (Afrikane, bruin mense en Indiërs).

Dít verteenwoordig ’n dramatiese ommekeer sedert 1994 toe die regbank net 3 swart regters gehad het en is ook ’n aansienlike verbetering op die rassesamestelling van die regbank in 2006, toe 47% van dienende regters swart was.

Radebe meen die syfers is bemoedigend, maar die regbank is steeds te wit en manlik.

“Dit gaan nie net oor ras en geslag nie. Transformasie behels ook ingesteldheid. Ons het mense (regters) nodig wat die Grondwet en die doelstelling om ’n nie-rassige samelewing te bou, sal bevorder,” het Radebe aan Rapport gesê.

Dit is juis vanweë die “stadige pas” waarteen die regbank transformeer dat die regering voortaan voorkeur gaan gee aan advokate en prokureurs wat swart en vroulik is om hom in hofsake te verteenwoordig.

Verskeie regslui, onder wie hoofregter Mogoeng Mogoeng, het die regering al gekritiseer omdat die staat meestal wit, manlike advokate gebruik. Dít gaan verander wanneer Radebe môre ’n omvattende regeringsbeleid bekend stel om die staat se regsdienste te transformeer.

Radebe het Donderdag in die parlement gesê die Suid-Afrikaanse regering is die grootste litigant op die vasteland en die staat bestee jaarliks miljarde rande aan hofsake. Swart regspraktyke kan verwag om voortaan ’n aansienlike persentasie van dié geld te ontvang.

“Die hervormings moet die poel regslui wat deur die staat gebruik word, uitbrei sodat dit verteenwoordigend is van ras en geslag en ons geografiese demografie.”

Volgens Radebe verkwis die staat terselfdertyd miljarde rande op hofsake “wat ons nooit moes verloor of aangegaan het nie”.

Radebe wou nie ’n bedrag noem nie, maar het gesê die hervormings moet verseker die staat se regsdienste “is van die hoogste standaard”.

Jan Stemmett, mede-voorsitter van die Prokureursorde van Suid-Afrika, meen dié stap sal transformasie bevorder. “Maar daar moet ’n mentorskap-program wees. Die staat moet steeds gehaltediens kry, anders sal dit chaos afgee.”

Volgens Radebe is die regslui wat tans in hofsake in die konstitusionele hof en hooggeregshof optree meestal wit en manlik. Dit lei daartoe dat die regbank stadig transformeer omdat regters meestal uit dié professie kom.

Teen einde April was 25 poste vir regters vakant, waarvan een in die konstitusionele hof. Die Regterlike Dienskommissie (RDK) sukkel egter om kandidate te kry om hulle vir onderhoude beskikbaar te stel.
Radebe sê hy is bekommerd daaroor en weet nie wat die oorsaak is nie.

Dene Smuts, DA-LP, het Donderdag tydens die departement se begrotingsdebat aangevoer die RDK “is in ’n krisis”.

Volgens haar wil bekwame regslui nie hulself beskikbaar stel nie weens ’n persepsie dat die ANC vanuit Luthuli-huis voorskryf wie die RDK as nuwe regters by pres. Jacob Zuma moet aanbeveel.

“Die minister ontken daar is ’n stemblok in die RDK, maar ek is bevrees niemand glo hom nie,” het Smuts gesê.

* Daar is tans 233 regters – 91 wit en 142 swart.
* Van die 233 regters is 168 mans en 65 vroue.
* Van die 168 mans is 97 swart (69 Afrikane, 16 bruin mense, 12 ­Indiërs).
* Van die 65 vroue is 45 swart (25 Afrikane, 8 bruin mense, 12 ­Indiërs).
* In 1994 was daar net 3 swart regters en 9 vroulike regters.
* Teen 2006 was daar 218 regters – 115 wit en 103 swart (68 Afrikane, 16 bruin mense, 19 Indiërs). Net 34 van die 218 regters was vroue.
«Terug