Rapport WEBWERWE/DIENSTE >

Stadsraad ontken waterprobleem ... toe word krane droog

Deur: Johan Eybers 2012-07-07 23:32
Verskeie plattelandse dorpe is nou sonder water en in sommige Vrystaatse dorpe is die krane al weke lank kurkdroog.

Brandfort, Winburg, Soutpan, Verkeerdevlei en Marquard in die Vrystaat en Bosbokrand, Carolina en Caropark in Mpumalanga het al maande lank nie skoon drinkwater nie.

Nou loop die gemoedere hoog in plattelandse gemeenskappe.

Ondernemings en drukgroepe dreig met regstappe en belastingweerhouding.

In Theunissen is die Masilonyana-munisipaliteit reeds aan die begin van die jaar gewaarsku dat dit ’n waterkrisis gaan beleef indien daar nie onmiddellik aandag aan sy waternetwerke gegee word nie.

Nie net is die watergehalte die swakste in die Vrystaat nie, maar die krane gaan opdroog, het die departement van waterwese gewaarsku.

Ondernemings het toe waterbottels by skole uitgedeel met waarskuwings dat die kraanwater skadelik is, maar die stadsraad het hulle van massahisterie beskuldig, sê Elze Rossouw, eienaar van die Theunissen-apteek.

’n Spoedvergadering is op 30 Mei gehou waar die stadsraad ontken het dat daar ’n probleem met die dorp se water is. Terselfdertyd het die water opgedroog.

’n Kennisgewing is die volgende dag deur die stadsraad uitgereik dat Theunissen en die naburige township Masilo “vir ongeveer twee tot vier weke” sonder water sal wees, sê Marieta Visser, sekretaris van die drukgroep Theunissen Forum.

Die rede? Die waterfilters by die wateraanleg het gebreek.

Daar is nou opmerklik baie watertenks oral in Theunissen opgerig nadat die dorp 30 dae lank sonder water was.

Arm inwoners van Masilo moet kilometers ver loop om water te kry by ’n handvol watertenks wat op spesifieke plekke opgerig is.

Dit is veral ondernemings wat ly.

Willie Botha, eienaar van WZ Betonwerke, sê hy bestee duisende rande om daagliks sowat 8 000 liter water aan te ry.

“Die watertekort is ’n ramp vir my besigheid, wat geweldig waterintensief is,” sê hy.

Manus Putter van Putter Voere sê hy moet daagliks sy werkers na sy plaas toe aanry waar hulle water by ’n boorgat skep.

“Die situasie is nie volhoubaar nie. Dit is onbillik om dit van my te verwag,” sê hy.

Zongezile Ntjwabule, woordvoerder van die Masilonyana-munisipaliteit, sê die watertekort moet toegeskryf word aan verouderde infrastruktuur soos asbespype en ’n gebrek aan geld.

Die raad het vanjaar R36 miljoen se hulp van die regering ontvang, maar volgens Ntjwabule is dit nie genoeg om ou infrastruktuur op te knap nie.
«Terug