Jy weet jy is ’n geharde Oppikoppi-feesganger as jy ure voor die fees
begin reeds in jou safaripak bewusteloos in ’n kampstoel sit terwyl
duisende ander nog in aantog is.
Een groep feesgangers uit die Vrystaat vertel dít is hoe hulle partytjie hou: Hulle kom al ’n dekade lank na die jaarlikse fees op ’n stowwerige plaas naby Northam in Limpopo.
Jy daag op, kies ’n kampplek tussen die bosse en doringbome en maak seker jy het genoeg drank vir 72 uur.
Van regoor Suid-Afrika het hulle die naweek hier toegesak: Meer as 20 000 feesgangers wat Oppikoppi se 18de bestaansjaar vier. Dit was sowat 3 000 meer as verlede jaar.
Legendariese bands soos Fokofpolisiekar en aKing was die vernaamste trekpleisters, asook die internasionale sensasies Seether en Bullet for my Valentine.
Teen gister het motors byna twee uur lank in rye gewag om die terrein binne te kom.
Links, voor die verhoog, het twee veterane egter lankal nesgeskop.
Thys Human (32), ’n stadsbeplanner van Vanderbijlpark, en sy pel Schalk le Roux (31), ’n fotograaf, sê dít is die beste plek om saam met die bands te rock.
Wanneer die son opkom, het hulle reeds ’n bier in die hand en hul partytjie hou nie sommer voor die volgende oggend op nie.
Ná ’n “power nap” begin hulle net weer van voor af.
As hulle nie in safaripakke rondloop nie, dra hulle ’n Oppikoppi-hemp van een van die vorige jare as bewys dat hulle dié fees nooit misloop nie.
Oggende bring hulle meestal om die kampvuur deur. Vroegmiddag mik hulle verhoog toe.
Al is daar tientalle stalletjies wat kos verkoop, glo dié ouens “eating is cheating” – hulle oorleef op vloeistof.
By Oppikoppi is drank koning.
Human het ’n bottel dikmelk by die kafee gekoop wat hy ná ’n dag in die son leegsluk en weer volmaak met drank (jy mag geen glas of metaal in die musiek-arena inneem nie). Die bottel is om sy nek vasgemaak sodat dit nie wegraak nie.
Die res van die aand sleep die ouens tussen die verhoë en kroeë rond totdat hulle nie meer op hul voete kan staan nie.
Dan kruip hulle tent toe – as hulle die tent kan vind. Sommige gekuierde feesgangers verdwaal ure lank.
Nie dat daar vreeslik geslaap word nie. Orals in die bosse hou iemand nog partytjie. Elke nou en dan skree iemand “Oppi!” waarop gesiglose stemme met “Koppi!” antwoord.
In die lang toue vir koffie soggens begin die stories loop. ’n Paartjie het wakker geword met ’n wildvreemde ou langs hulle in die tent. Uitge-pass.
Om ’n kampvuur het ’n ou opgedaag in net ’n kortbroek en een skoen, sonder die vaagste benul wie of waar hy is.
As jy nie omgee vir die stof en die drank nie en jy hou van goeie musiek, is Oppikoppi vir jou.
Pasop net vir daai vrou met die helderpienk hare wat rondloop en almal waarsku “as dit rond en op die grond is, is dit beslis mis”.