Rapport WEBWERWE/DIENSTE >

Superdrama!

Deur: Louis de Villiers 2012-07-30 06:40
Die tafel was gedek en die Kaap het hom so heimlik begin voorberei vir die Superrugby-eindstryd – sweerlik sou die klipharde verdediging van die Stormers die Sharks op ’n afstand kon hou, veral nadat laasgenoemde verlede week heen en weer oor die Indiese Oseaan moes reis vir gister se afspraak.

Maar aikôna: Die Durbaniete is ’n beter span en die ongenaakbaarheid waarmee hulle die Kapenaars se ­naïwiteit gisteraand hier aan die kaak gestel het, beteken niemand kan vanoggend hiermee verskil nie.

Dis gepas dat die Sharks Suid-Afrika Saterdag in die eindstryd sal verteenwoordig. Hoewel hulle ’n wipplank-seisoen belewe het tot dusver, onderstreep gister se oorwinning met 26-19 dat hulle tans die land se voorste rugbyspan is. Al sê wie ook wat in Pretoria of die Kaap.

Gister het die Stormers gespeel soos die span met alles om te verloor en hul flater-telling was veel hoër as dié van die Sharks.
Laasgenoemde had dalk die vryheid van laer verwagtinge, maar hulle het gespeel soos kampioene. Vlugflouheid ter waarde van 16 uur in sewe dae? G’n probleem nie!

Dit het vir ’n wyle gelyk of die ure in die vliegtuig sy tol sou eis toe die Stormers, met 9-23 agter ’n kwartier voor die eindfluitjie, skielik lewe gekry het. Maar dit was nie genoeg nie.

In die doodsnikke, toe ’n gedoelde drie ekstra tyd sou bewerkstellig, het die tuisspan een aanval ná die ander op die Sharks-doellyn geloods.

Maar dis die probleem as jy jou ’n seisoen lank so half afvee aan die idee van drie-bonuspunte – as jy skielik ’n drie nodig het om in die toernooi te oorleef, is dit nie sommer ’n knoppie wat jy kan aanskakel nie.

Wat jy ook al van die Stormers se mislukking sê, durf dit nie afbreuk doen aan die Sharks se prestasie nie. Dis ’n puik gebalanseerde span en nie om dowe neute feitlik die helfte van die Bokke nie. En dis ook die eerste span in Superrugby-geskiedenis wat twee agtereenvolgende wegwedstryde in die uitklopfase van die toernooi wen.

Klop hulle Saterdag die Chiefs, wat geweldig bevoordeel word deur dié uitslag en reeds eergister kon begin voorberei, maak hulle geskiedenis wat nie sommer herhaal sal word nie. Kan hulle?

’n Mens moet sê die Sharks is nie die gunstelinge nie. Maar dié was hulle ook nie gister of sewe dae te­vore nie.
«Terug