Share

Vlakplaas se Dirk sê oor boeke

Dirk Coetzee, die voormalige bevelvoerder van die polisie se Vlakplaas-moordbende, het die sluier gelig oor beweerde wanpraktyke by EduSolutions, die beleërde maatskappy wat miljoene rande verdien met regeringskontrakte vir die aankoop en verspreiding van handboeke dwarsoor Suid-Afrika.

Coetzee het as ’n veiligheidskonsultant vir EduSolutions gewerk.

Hy beweer:

* Hy het gesien hoe tienduisende boeke wat veronderstel was om by skole afgelewer te word in pakhuise weggesteek word;
* Hy het Shaun Battlemann, EduSolutions se stigter, aan pres. Jacob Zuma voorgestel;
* Battlemann se sakeverhouding met ’n gewese direkteur in die departement van onderwys het gehelp dat hy kontrakte ter waarde van miljoene rande van die regering ontvang het; en
* EduSolutions het groot invloed gehad op onderwysamptenare in verskeie provinsies waar kontrakte van miljoene rande vir die lewering van handboeke gesluit is.

EduSolutions was onder meer verantwoordelik vir die lewering van handboeke aan skole in Limpopo waar derduisende leerlinge in hul derde skoolkwartaal steeds sonder boeke sit.

Dié maatskappy, met sy vele politieke verbintenisse, het ook kontrakte in Gauteng, KwaZulu-Natal en Mpumalanga en ontvang boonop miljoene rande van die afslag­bedrag wat uitgewers aan die staat bied. Regskenners sê dié praktyk is onwettig.

Dr. Anis Karodia, die voormalige administrateur van Limpopo se onderwysdepartement, beweer hy is deur Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, onder druk geplaas om dié maatskappy te gebruik ondanks onreëlmatig­hede met die kontrak met hulle.

Rapport het verlede week onthul ’n fluitjieblaser het Motshekga en die presidensie al ’n jaar gelede gewaarsku oor die erns van die probleme.

Daar is klaarblyklik nie op dié waarskuwing ag geslaan nie.

Vandag se onthullings wys dat die krisis by EduSolutions veel ­ouer is as wat tot nou toe vermoed is.

Coetzee se belangrikste beweringe is deur vyf onafhanklike bronne bevestig.

Onder dié is sakevennote, voormalige werknemers en ander wat weet waar die geraamtes begrawe is.

Coetzee, ’n voormalige polisiekaptein, is in 1989 ontmasker as die bevelvoerder van ’n berugte polisiemoordbende op Vlakplaas wat anti-apartheidaktiviste vermoor, gemartel en verbrand het.

Hy het later die land verlaat en hom by die ANC aangesluit.

Hy het in 1993 na Suid-Afrika teruggekeer en is in die Nasionale Intelligensiediens aangestel.

Hy is uiteindelik aan moord skuldig bevind, maar het amnestie gekry.

Coetzee sê hy is sowat vier jaar gelede deur ’n werknemer van EduSolutions ingelig oor boeke wat in ’n pakhuis in Gauteng opgehoop was.

“Twaalf vragmotors en sleep­waens vol onafgelewerde boeke is by hierdie pakhuis gestort,” sê Coetzee.

“En as ek sê vragmotors bedoel ek voertuie van 30 ton.”

Drie ander bronne bevestig Coetzee se bewerings dat die aflewerings ’n gemors was.

Tog het verslae aan die regering gereeld gesê al die boeke is afgelewer.

Coetzee beweer verder hy het Battlemann in 2007 by die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Parys aan Zuma voorgestel, met wie hy self ’n jare lange verhouding het.

Coetzee sê Battlemann het Zuma beter leer ken en met sy helikopter na Zuma se woning by Nkandla in KwaZulu-Natal gevlieg om hom te ontmoet.

Battlemann is nou ’n groot voorvegter vir Zuma se onderwystrust.

***

As Dirk Coetzee wanpraktyke ontdek het by EduSolutions, waar hy die risikobestuurder was, het hy oorgenoeg kans gehad om dit aan te meld.

So sê EduSolutions, wat bevestig Coetzee het daar gewerk, maar alle bewerings van bedrog of korrupsie ontken.

Die maatskappy erken ook dit was Coetzee wat die maatskappy se stigter, Shaun Battlemann, in 2007 aan pres. Jacob Zuma voorgestel het.

“Mnr. Coetzee was die groep se risikobestuurder en indien hy enigiets verkeerds sou ontdek het, het hy al die kanse in die wêreld gehad om dit onder die owerhede se aandag te bring,” het Ian Small-Smith, EduSolu­tions se prokureur, gesê.

“Ons maak ernstig beswaar teen die beweringe wat Coetzee volgens julle sou gemaak het.”

Small-Smith het bevestig Salama Hendricks was ’n “gewese werknemer”, maar wou geen ander besonderhede hieroor verstrek nie.

Hy ontken dat Battlemann per helikopter na Nkandla gevlieg het om Zuma te ontmoet en sê Battlemann “besit nie ’n helikopter nie”.

Battlemann het Zuma “altyd in die teenwoordigheid van die voorsitter (van die president se welsynstrust, Sizwe Shezi) ontmoet rakende sake rondom die trust.”

Small-Smith sê Battlemann het sy naam “om godsdienstige redes” verander van “Mohamed Ismail” en dat hy “die onderwys verlaat het vir beter vooruitsigte”.

***

Die lewensverhaal van Shaun Battle­mann is net so enigmaties soos sy sakeryk.

Die 52-jarige entrepreneur is die hart van die groep African Access Holdings wat EduSolutions insluit – die maatskappy wat regstreeks by die skoolhandboekskandaal in Limpopo betrek word.

Dis ’n ryk van multimiljarde rande wat grootliks deur massiewe staatstenders opgebou is.

Sy lewe vroeër was egter veel meer beskeie as sy huidige omstandighede.

Sowat ’n dekade gelede het hy selfs ’n ander naam gehad.

Hy het aanvanklik as “Mohamed Ismail” bekend gestaan, sê twee bronne wat hom ken.

Dié noem dat hy ’n onderwyser was by ’n skool in KwaZulu-Natal, asook ’n selfverklaarde politieke aktivis, maar dat andersins min oor hom bekend is.

In die vroeë jare van die vorige dekade het sy naamsverandering ook gepaardgegaan met veranderings in welvaart.

Met sy uittrede uit die onderwys het hy ’n ruk by die CNA-groep gewerk, blyk uit ’n onderhoud met hom verlede jaar. By CNA het hy glo geleenthede met skoolboeke raakgesien.

In 2003 het hy EduSolutions begin saam met twee ander kern-rolspelers – Thabo Mpama en Mateli Mpuntsha.

Mpuntsha is ’n voormalige direkteur van telekom-beleid en mens­likehulpbron-ontwikkeling in die departement van kommunikasie.

Mpama is ’n voormalige voorsitter van die staat se opleidingsinstelling vir IT, elektronika en telekommunikasie.

Saam het hulle ’n konsep aan verskeie provinsiale skooldepartemente verkoop wat hulle voorgehou het ’n doeltreffende manier is om skoolboeke ter waarde van honderdmiljoene rande aan te koop en te laat aflewer.

Die konsep het gegroei tot ’n sakeryk wat Battlemann in staat gestel het om verlede jaar met die louere weg te stap as die Black Management Forum se top-entrepreneur van die jaar.

Volgens die amptelike CIPC-registrateur se openbare rekords dien hy of het hy in die direksie van sowat 50 maatskappye gedien.

Van die mense wat Battlemann ken, beskryf hom as charismaties, genadeloos, “polities aangeskakel” en ’n deurwinterde transaksie-knoper.

Sy vriendskappe het ook nie sy doelstelling gekortwiek nie.

’n Voordelige verhouding is opgebou met Salama Hendricks, ’n voormalige nasionale direkteur van die departement van onderwys.

Volgens bronne in die binnekring van EduSolutions het Hendricks hom gehelp om vroeg in die 2000’s kontrakte vir sy snelgroeiende maatskappy te bekom.

Battlemann het ’n reputasie opgebou dat hy hou van die fynproewerslewe, met ’n smaak vir veral Ferrari’s, Maserati’s, Aston Martins en Range Rovers.

Dit is bekend dat hy al by verskeie eiendomme in die eksklusiewe Zimbali-landgoed aan die KwaZulu-Natal-noordkus gebly het, maar die enigste eiendom wat in sy naam geregistreer is, is ’n beskeie klein huisie van minder as R100 000 in Shallcross in Durban.

Een van sy filiaalmaatskappye bied luukse seiljagreise na Robbeneiland aan. Seiljagvaart is duidelik ’n belangrike deel van sy lewe.

***

Dirk Coetzee sê sy pad het met dié van die enigmatiese Shaun Battlemann gekruis toe Salama Hendricks, ’n voormalige amptenaar in die onderwysdepartement, hom aan dié EduSolutions-grootbaas bekend gestel het.

Sy het toe saam met Battlemann gewerk, sê Coetzee.

Hendricks het na vore gekom as die sleutelfiguur in die ontvouende tendersage en word verbind met twee omstrede onderwysdepartement-kontrakte.

Sy is ’n medestigter van Lebone Group Holdings. Volgens media­berigte verlede jaar het ’n sustermaatskappy van Lebone, Lebone Litho Printers, twee skoolboektenders ter waarde van meer as R250?miljoen gekry.

Die berigte het gemeld dat Bobby Soobrayan, die direkteur-generaal van onderwys, ten tyde hiervan aan Hendricks se dogter verloof was.

Lebone Litho het beweer Hendricks was nie betrokke by die maatskappy nie.

Volgens Coetzee het hy Hendricks in die vroeë 2000’s ontmoet terwyl sy ’n direkteur was van die departement se afdeling vir vroeë kinderjare-ontwikkeling (early childhood development). Nadat sy by die departement weg is, het sy saam met Battlemann gewerk en was sy ’n direkteur van Edu-Logistical Solu­tions.

Coetzee sê – en twee ander Edu­Solutions bronne het dit bevestig – Hendricks was die sleutel tot Battlemann se sukses.

“Sy was grootliks verantwoordelik daarvoor dat Battlemann die handboekkontrakte gekry het.”

***

Bobby Soobrayan, direkteur-generaal van basiese onderwys, ontken daar was enige onbehoorlike verhouding tussen hom en Salama Hendricks, ’n voormalige amptenaar in die onderwysdepartement, maar erken hy het ’n verhouding met Hendricks se dogter gehad.

Dié verhouding met Fatima Hendricks is in April verlede jaar beëindig, sê hy.

Soobrayan sê hy het eers later gehoor van Salama Hendricks se posisie by EduSolutions.

“Ek is nie daarvan bewus dat sy EduSolutions gehelp het om tenders te kry nie,” sê hy en voeg by die tenders is toegeken voor hy direkteur-generaal geword het.

Hy ontken daar was ’n belangebotsing toe Hendricks vir EduSolutions gewerk het omdat “EduSolutions nie ’n kontrak met die departement van basiese onderwys het nie en nooit een gehad het nie”.

Hy ontken hy het ooit enige insette gelewer oor enige kontrakte wat aan Lebone of EduSolutions toegeken is.

“Ons is te vinde vir ’n volle en deeglike ondersoek van die tenderproses deur ’n bevoegde staatsinstelling,” sê hy.

Keith Michael, die eienaar van die Lebone-groep en van Lebone Litho Printers, wou nie kontakbesonderhede vir Salama Hendricks verskaf nie.

“Salama is nie betrokke by EduSolu­tions nie. Sy is betrokke by Lebone en Lebone Holdings, nié by Lebone Litho Printers nie. Sy kan nie kommentaar lewer oor ’n maatskappy waarby sy nie betrokke is nie.”

Ander vrae is verwys na die Gautengse departement van onderwys.

Lebone Litho is betrokke by ’n gesamentlike onderneming met Paarl Media, ’n Media24-maatskappy.
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Should the Proteas pick Faf du Plessis for the T20 World Cup in West Indies and the United States in June?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes! Faf still has a lot to give ...
67% - 945 votes
No! It's time to move on ...
33% - 463 votes
Vote
Rand - Dollar
18.80
+1.1%
Rand - Pound
23.49
+1.3%
Rand - Euro
20.10
+1.5%
Rand - Aus dollar
12.28
+1.0%
Rand - Yen
0.12
+2.8%
Platinum
923.40
-0.2%
Palladium
957.50
-3.3%
Gold
2,336.75
+0.2%
Silver
27.20
-0.9%
Brent Crude
89.01
+1.1%
Top 40
69,358
+1.3%
All Share
75,371
+1.4%
Resource 10
62,363
+0.4%
Industrial 25
103,903
+1.3%
Financial 15
16,161
+2.2%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE