Dié feite het die afgelope week aan die lig gekom toe die Afrikaanse kerke, die vakbond Solidariteit en die Afrikanerbond met 'n inisiatief begin het om werk te maak van wat hulle noem " 'n nuwe armoede".
Wit armoede is "weggesteek" omdat dit anders manifesteer as swart armoede wat in plakkerskampe oral in die land sigbaar is, het mnr. Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, die afgelope week gesê.
Omdat daar 'n groter stigma kleef aan armoede onder wittes, kruip arm wit mense weg in agterkamers, in motorhuise en in ander karige blyplekke.
Volgens Statistieke Suid-Afrika het werkloosheid onder wittes van 1995 tot 2001 met 197% toegeneem.
In 1995 was 3% van die ekonomies aktiewe wit mense in die land werkloos.
In 2001 het daardie syfer gestyg tot 10%.
Die syfer vir ekonomies aktiewe swart mense is 19%, dié vir bruines 35% en dié vir Indiërs 12,5%.
Stygende armoede onder wittes het die drie organisasies beweeg om 'n taakspan aan te stel om die probleem van nader te ondersoek. Swart armoede het tot dusver alle ander vorme van armoede verdwerg, sê Buys.
"Weens die geweldige omvang en sigbaarheid van swart armoede trek wit armoede nie veel aandag nie. Daar is steeds sterk persepsies dat wit mense welvarend en swart mense arm is. Afrikaanse armoede is moeiliker om te 'sien' omdat dit anders manifesteer as swart armoede. Pleks van groot plakkerskampe steek wittes hulle weg in klein buitekamers, motorhuise en houthuisies omdat hulle skaam is vir die nuwe 'status' van arm wees," sê Buys.
Omdat wit armoede 'n nuwe verskynsel is, is bitter min navorsing al daaroor gedoen. In 'n insiggewende studie deur prof. Sampie Terblanche van Stellenbosch is bevind dat armoede in Suid-Afrika die afgelope dekade verander het van 'n rasgegronde in 'n klasgegronde armoede.
In die meeste strata van die Afrikaanse gemeenskap het inkomste sedert 1975 gedaal. Die armste 40% se inkomste het met 56% gedaal. Net die hoër middelklas se inkomste het dieselfde gebly of effens gestyg.
Buys sê werkloosheid en armoede is maatskaplik onaanvaarbaar vir Afrikaanssprekendes. Mense skryf op hul sensusvorms hulle is "bemarkers" of "konsultante", maar verseg om te skryf hulle is werkloos.
Jong wittes wat in die buiteland werk omdat hulle nie hier geholpe kon raak nie laat die statistieke ook beter lyk as die werklikheid. Navorsing deur die Vryemarkstigting dui daarop dat die gemiddelde Suid-Afrikaner nou armer is as in 1970.
Buys sê die regering begaan 'n denkfout om swart armoede byna net aan die apartheidsverlede toe te skryf. Dit lei daartoe dat hulle die oplossing hoofsaaklik by regstellende maatreëls soek, terwyl 'n veeldimensionele oplossing nodig is.
Hulpprogramme word feitlik net op swartes gemik omdat daar nog te veel onkunde oor wit armoede is.
Volgens Buys het die Afrikaanse gemeenskap se bestedingspatrone die afgelope dekade drasties verander.
"Hulle probeer ou welvaart laat herleef deur pakkette te aanvaar. Gesondheidsorg is 'n luukse en krisisbestuur word toegepas, soos om 'n deel van hul huise te verhuur en kinders oorsee te stuur.
"Voorheen kon wit Afrikaanse mense beurse, opleiding en bevordering kry.
"Met regstellende aksie is hulle in 'n dilemma waar hulle stagneer in 'n loopbaan en hul kinders sukkel om beurse of werkgeleenthede te kry," sê Buys.
Dr. Kobus Mostert, uitvoerende direkteur van die Afrikanerbond, sê belangegroepe in die Afrikaanse gemeenskap moet oor alle vorige verskille en persepsies heen hande vat om die slagoffers van die nuwe en steeds veranderende omstandighede te ondersteun.