Dit voel soos die laaste minute voor ’n opera-uitvoering.
Mimi Coertse sit op ’n bankie asof sy op die eerste toneel wag.
Die FAK het Vrydagaand ’n geleentheid by die Voortrekkermonument in Pretoria gehou ter viering van Coertse se 80ste verjaardag.
Sy is verheug oor dié eer.
“Nee, dit het ek nou soos in glad nie verwag nie.
“Glad nie, hoor. Dit is vir my absoluut wonderlik en ’n groot voorreg.”
Coertse se verbintenis met die FAK strek oor amper ses dekades.
“Mimi het in 1954 die eerste FAK-sangbeurs ontvang om verder te studeer en is na Wene,” sê Danie Langner, hoof van die FAK. “Ons het gevoel ons moet erkenning gee aan haar bydrae tot kultuur.”
Coertse het bykans twee dekades lank in Oostenryk gewoon.
“Daar was baie dae wat ek geweldig verlang het,” vertel sy.
“Ek het dikwels op ’n berg tussen die bome gesit en briewe oor my verlange geskryf. Maar ek het dit nooit gepos nie. My ma sou haar doodgehuil het.”
Op 80 is sy nog volstoom in die musiekbedryf bedrywig.
“Ek beoordeel nog by internasionale sangkompetisies; verlede jaar in China en die vorige jaar in Rusland en Chili. Ek bly besig. Ek werk ook met ’n groep jong sangers wat op 2 September ’n konsert aanbied.”
KykNET saai vandag om 14:30 ’n glansryke musikale huldeblyk aan Coertse uit.
In dié program gesels Coertse met Coenie de Villiers oor haar kinderjare en loopbaan in Europa en Suid-Afrika en haar liefde vir haar land en sy mense.
Die sterbelaaide program sluit in vertolkings van haar mees geliefde arias uit onder meer Don Giovanni, Orfeo ed Euridice, Rigoletto en Carmen, asook Afrikaanse gunstelinge.