Share

Botman hét geveg; stryd nog g’n oor

Hoe verander ’n voormalige wit, Afrikaanse universiteit sy kultuur op só ’n manier dat almal welkom voel? Dit was een van die ontslape prof. Russel Botman se grootste uitdagings, skryf Jacob Rooi.

Die transformasie van hoër onderwys in Suid-Afrika gaan moeilik wees. ’n Lang pad met ’n lang lys uitdagings sal oorkom moet word, het prof. Jonathan Jansen as dekaan van opvoedkunde by die Universiteit van Pretoria in 2002 gemaan.

“Een van die uitdagings op die lys was die institusionele kultuur by die instellings wat moet verander,” het Jansen, vandag rektor en visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat (UV), destyds gesê. Hy het dit beskryf as die probleem “om tuis te voel” in die instelling waarby jy betrokke is.

Prof. Dan Kgwadi, nuwe visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU), het verlede maand gesê: Om een kultuurgroep op ’n universiteit te bewaar “en dit oorwegend so te probeer hou”, is gevaarlik vir ons land se toekoms.

Hy sê toe hy het begrip dat daar belanghebbendes by Noordwes (die ou Potch) is wat die Afrikaanse taal en kultuur wil bewaar. ’n Institusionele kultuur kan egter nie “in vandag se tyd” bekostig om ’n enkele kultuur te bewaar nie.

Jansen en Kgwadi het die dilemma van histories Afrikaanse instellings verwoord: om die institusionele kultuur so inklusief te maak dat almal voel hulle, die instelling en die land vind baat daarby.

Dit is ’n veeleisende taak.

Prof. Andreas van Wyk, rektor van die Universiteit Stellenbosch (US) van 1991 tot 2001 vir wie prof. Chris Brink opgevolg het, sê rektorskap van die US is ’n moeilike pos, onder meer omdat Stellenbosch nog altyd vir ’n idee gestaan het.

Die vraag is net: Wat is dié idee nou, want dit het oor die jare verander.

In ’n artikel wat Brink, tans rektor by die Universiteit van Newcastle in Engeland, onlangs op versoek van die Britse Raad op Hoër Onderwys (CHE) vir ’n boek moes skryf, vertel hy onder meer van sy tyd by die US.

Brink skryf oor die opkoms van die Afrikaner en die belangrike rol wat Stellenbosch en die universiteit daarin gespeel het. Dat die US geskep is deur Afrikaners vir Afrikaners en dat Stellenbosch en die universiteit in die opkoms van die Afrikanerdom tot ’n politieke mag ’n besondere rol gespeel: Dit was die intellektuele huis van apartheid. Die Nasionale Party (NP) is in 1914 in Stellenbosch gestig. Sommige groot Afrikaner-ondernemings – soos Sanlam en Naspers – het in dié dorp begin.

Brink skryf hy was die eerste rektor wat van buite aangestel is, die eerste een wat nie ’n lid was van die alumni of die Broederbond nie. “Hoe op aarde,” het hy gewonder, “word ’n universiteit wat op die voorgrond was van apartheid, ’n integrale deel van die nuwe veelrassige Suid-Afrika?”

Dit was egter hý wat eerste in die spervuur was oor transformasie en die skep van ’n groter inklusiewe kultuur.

Prof. Russel Botman, rektor en vise-kanselier van die US wat verlede week dood is, het hom in 2007 opgevolg.

Brink beskryf enkele klein voorvalle wat hom op sy tone gehou het, soos in 2002 by ’n geleentheid van alumni waar hy verwelkom is en waar die seremoniemeester toe sê hy slaan ag op Brink se planne en idees vir die universiteit. Die seremoniemeester voeg toe by: “Onthou net, Professor, dit is ons plek.”

Die uitdaging vir Brink en Botman, die eerste swart US-rektor, was duidelik: Om, soos die nuwe bedeling vorder, die universiteit te verander van “ons” plek tot “almal se plek”.

Oor Botman se dood, sy doelwitte, sy pogings om die US te transformeer tot een waar hoop en diversiteit gekweek word, is die afgelope week baie geskryf.

Daar is gesuggereer dat sy ywer hiervoor, en die teenkanting teen sy planne, kon bygedra het tot sy dood.

’n Kollega wat na aan Botman was, het gesê hy was passievol oor ’n verwelkomende instelling. Hy wou almal “tuis laat voel”. Van tyd tot tyd was dit moeilik om die teenstand te hanteer. Omdat hy ’n strateeg en vredemaker was, het hy nooit baklei of rusie gemaak nie.

“Hy het altyd probeer om die ander kant in te sien en mense na sy kant oor te haal. Hy was bereid om hier en daar ’n veldslag te verloor, mits hy die oorlog wen. In dié opsig was hy ’n strateeg, ’n taktikus.”

Tydens sy tweede termyn (van 2012) wou hy sy nalatenskap vestig. ’n Deel hiervan was die Sentrum van Inklusiwiteit, wat transformasie verder moes aanhelp. Botman het geglo die sentrum het ingepas by sy praktiese plan wat binne die breë transformasieriglyne pas.

Maar die druk het van alle kante gekom, ook van onder, van mense wat gemeen het die kultuur by die universiteit getuig steeds van eksklusiwiteit as jy in die gange loop, sien wat teen die mure is, en in museums, die name van geboue.

Drie weke gelede is berig van reuse-onmin wat dreig in die universiteit oor ontevredenheid om dié sentrum en dat skerp vrae gevra word oor die universiteit se transformasieplan.

Daar is berig dat ’n mosie van wantroue teen Botman ingestel sou word op die laaste raadsvergadering vier dae voor sy dood. Dit het nie gebeur nie.

Gerugte wou dit hê dat daar besluit is om wel, soos berig is, die sentrum te sluit en eerder ’n Sentrum vir Uitnemendheid te begin. Geen raadslede wat genader is, wou egter oor die vergadering praat nie.

Die Daily Maverick skryf dat Botman toenemende druk gekry het oor transformasiekwessies by die US, en veral oor die sentrum.

In George Steyn, raadsvoorsitter, se verklaring word gesê: Die raad het ’n mosie aanvaar “waarin die bestuur onder meer bedank is vir hul pogings om ’n meer verteenwoordigende kultuur op kampus te skep”. “Raadslede het wel kommer uitgespreek dat sekere uitsprake en optredes van sentrum-personeel tot vervreemding kan lei van belangrike belangegroepe van die US en ander doelwitte kan benadeel...”

Verder, dat voortdurende beriggewing oor transformasie en taal die indruk kan wek dat dit die hoofagenda van die US is, het Steyn geskryf.

Daar was die afgelope week ook sprake dat die universiteit wil keer dat Botman se dood gekoppel word aan dié raadsvergadering – glo om nie sy nagedagtenis te benadeel nie.

Die vrae oor Botman se skielike dood en of werkdruk daartoe bygedra het, bly egter onbeantwoord.

Jansen het pertinent gesê Botman het gesterf van ’n gebroke hart – fisiek en geestelik. “Ná die tydperk van rou en nadat sy liggaam te ruste gelê is, moet ons die ongemaklike vraag vra: Wat is die betekenis van Russel se dood?

“Ons moet die vraag vra, want die rassestryd by voormalige wit universiteite is besig om sy tol by leiers te eis,” het hy gesê.

’n Vriend wat ten nouste met Botman saamgewerk het, sê verlede Sondag in Rapport hy is hartseer-kwaad. Botman wou die “sagter” benadering van transformasie volg, “maar dit was ook nie goed genoeg nie”.

Brink sê wat betref die leierskap en bestuur van die US, het die rektorspos by Stellenbosch nie meer of minder stres as enige ander rektorspos nie. “Ek self het die akademiese interaksies op Stellenbosch nooit anders as positief en produktief ervaar nie. Wat Stellenbosch egter wel onderskei van ander universiteite is die mate waartoe ’n deel van die Suid-Afrikaanse gemeenskap ’n sin van eienaarskap voel oor die universiteit. Dit voeg heelwat ekstra oorhoofse koste by, in terme van tyd en energie, bo en behalwe die normale bestuursfunksie.”

Wat die toelating van swart, bruin en Indiër-studente by die US betref, het Brink sowel as Botman vordering gemaak. In Brink se termyn het toelating van dié studente (voor- en nagraads) gegroei van 21,5% in 2002 tot 28,3% in 2006.

Aan die einde van 2013 was dié syfer 35,03%, maar Botman se ideaal was dit teen 2018 staan op 50%.

Wat die institusionele kultuur betref, lê ’n lang pad duidelik nog voor – een waarvan die volgende rektor nie kan terugdeins nie, is die afgelope week gesê.


We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Do airplane mishaps have any effect on which airline you book your flights with?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
No, these things happen. I pick based on price
48% - 1032 votes
Yes, my safety matters. I don't take any chances
52% - 1100 votes
Vote
Rand - Dollar
19.21
-0.5%
Rand - Pound
23.95
-0.7%
Rand - Euro
20.56
-0.5%
Rand - Aus dollar
12.48
-0.7%
Rand - Yen
0.12
-0.2%
Platinum
912.40
-0.8%
Palladium
1,005.00
-2.1%
Gold
2,314.58
-0.3%
Silver
27.17
-0.5%
Brent Crude
88.42
+1.6%
Top 40
68,574
+0.8%
All Share
74,514
+0.7%
Resource 10
60,444
+1.4%
Industrial 25
104,013
+1.2%
Financial 15
15,837
-0.4%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE