Share

Drie wyses dink tesame oor... evolusie

Genesis verhale oor oorsprong

Die teoloog:

Evolusie is nie ’n komplot wat agter toe deure uitgedink is nie.

Tog is baie mense teen evolusie gekant op grond van ’n bepaalde verstaan van die Bybelse skeppingsverhale.

Heelwat Christene beskou die Genesis-skeppingsverhale as historiese berigte. Gen. 1-11 behoort egter verhalend verstaan te word. Dit wil iets verwoord van die mens se soeke na wie hy is en wat sy rol in die wêreld behoort te wees.

Die Bybelse boeke en literatuur is grootliks menslike pogings om die mense van daardie tyd te beskryf, hoe hulle die wêreld om hulle verstaan het en wat dit met hul geloof in God te make gehad het.

Die skeppingsverhale is nie “oorsprongverhale” nie, maar veel eerder “teologiese waarneming- of interpretasieverhale”.

Ons weet vandag dat die geskrifte in Gen. 1 en 2 waarskynlik in die tyd van die ­Babiloniese ballingskap ontstaan het en dat die bedoeling was om te midde van ’n hopelose situasie troos aan Israel te bring en ’n vorm van identiteit te gee.

Tog beskou baie Christene dit nie so nie en stel daarom hul letterlike verstaan van die Bybelse skeppingsverhale téénoor evolusie.

Veral Afrikaanssprekendes kom uit ’n tradisie waar die kerk dikwels voorgeskryf het, ook wat evolusie betref. In 1955 sê ds. Koot Vorster, later moderator van die NG Kerk, sonder teenspraak in The Star: “Die teorie van evolusie is in direkte konflik met die lering van die Bybel en behoort nie in skoolhandboeke ingesluit te word nie”.

In Kerkbode van 27 Mei 1981 erken ds. S.J. Eloff dat benoemde professore skool- en universiteitshandboeke van tyd tot tyd ondersoek om te verseker dat daar nie standpunte ingesluit word wat “evolusionisme” ondersteun nie.

Só is baie Afrikaanssprekendes baie lank onkundig ­gehou oor die evolusieproses en nooit bemagtig met kritiese denkvermoëns om wetenskaplike bevindings sinvol met hul geloof- en wêreldbeskouing te integreer nie.

Oorblyfsels hiervan kom steeds wyd voor. – Dr. Chris Jones.

Kinders só deel van iets groots

Die wetenskaplike:

Om ’n spesifieke, fundamentalistiese geloofsoortuiging, wat nie teologies begrond is nie, aan skoolkinders op te dwing, is sowel immoreel as teen die Grondwet.

In ’n onlangse persverklaring propageer die vroueaksie van die Vryheidsfront Plus (VF+) juis dít in ’n poging om die onderrig van evolusie op skool te probeer kelder.

Die persverklaring is deurspek van blatante foute oor die aard en werking van die evolusieproses. ’n Persoonlike navraag het bevestig dat die berig korrek was en dat die vroueaksie wel sulke oor­tuigings handhaaf. Om bewese wetenskaplike teorieë met ongegronde stellings te verdoem, terwyl jy in ’n samelewing woon en werk wat deur die wetenskap in stand gehou word, spreek van ’n soort kognitiewe dissonansie.

Evolusie laat kinders nie glo hulle is niks nie. Hulle word eerder deel van ’n onmeetlike en ongelooflike kosmos. Vir die gelowige spreek dit wonderbaarlik van ’n almagtige God in beheer van sy grootse skepping, in teenstelling met die fundamentalis se klein onbeholpe godjie wat ná ’n week se verbroude pogings steeds nie lyding in die wêreld kan hokslaan nie.

Teoloë wys lank reeds daarop dat die Bybel nie ’n feitelik korrekte weergawe van die ontstaan van die heelal en die ontwikkeling van lewe daarin is nie en dat sulke onderwerpe gevolglik buite die reikwydte van die Skrif lê. In dié verband verskaf die wetenskap en spesifiek die evolusionêre biologie duidelike en sinvolle antwoorde. Om dus evolusie te verwerp ten gunste van Bybelse fundamentalisme, spot in werklikheid met die Bybel.

As Christen repudieer die leier van die VF+ heel tereg die persverklaring deur daarop te wys dat die aarde nie 6 000 jaar oud is nie. Moontlik is die interne skakeling aangaande persverklarings in die party nie na wense nie en kan dit help as die leier, soos ’n Herkules van ouds met sy vyfde taak, ’n bietjie stal skoonmaak.
dr. Jurie van den Heever

Albei kante het magsambisies

Die filosoof:

Qume Erasmus, voorsitter van die VF+ se vroueaksie, se onlangse eis “dat leuens (evolusie) uit ons skole en handboeke verwyder word” en slegs die “goeie, suiwer en akkurate feite” behou word, dui op ’n simplistiese onderskeid tussen “leuen” en “feit”. Boonop impliseer sy dat sy ’n bevoorregte (en onmoontlike) perspektief het op sake waar die onderskeid tussen “leuen” en “feit” klinkklaar verskyn: waarskynlik die lens van die Christelike fundamentalisme.

Friedrich Nietzsche het meer as 100 jaar gelede gesê: “Alles is onderhewig aan interpretasie, en watter interpretasie op ’n gegewe tydstip van krag is, hang af van mag, nie die waarheid nie.”

Dat Erasmus se veroordeling van die evolusieteorie minstens deels geïnspireer is deur haar vrees vir die implikasies daarvan, blyk daaruit dat sy dit “gif” noem, en bang is kinders gaan begin “glo dat hulle niks is nie – sonder enige doel... en verantwoordelikhede”. As teengif bied sy waarskynlik geloof in die Christelike God aan, wat ons met ’n doel geskape het en teenoor wie ons verantwoording moet doen. Maar geloof in God werk nie noodwendig sinloosheid teë nie en evolusie werk nie noodwendig sinloosheid in die hand nie.

Of ons in God glo of nie, daar bly baie interpretasiewerk oor om sin van die lewe te probeer maak. Ons moet ons kinders veral leer om met onsekerheid saam te leef.

Hoewel prof. George Claassen hom nie hieraan skuldig maak nie, is daar ’n soortgelyke denkfout in sommige se verdediging van wetenskaplike teorieë soos evolusie. Dit gebeur wanneer wetenskapfilosowe (meer as wetenskaplikes self) voorgee húl lens gee hulle ’n perspektief waarin die onderskeid tussen leuen en feit klaarblyklik is, en dat wetenskaplike uitsprake absolute kennis verteenwoordig.

Wanneer dit gebeur, raak wetenskap inderdaad ’n metafisika met magsambisies van sy eie.

Egte geloof het myns insiens min uit te waai met enige van hierdie twee selfverabsoluterende posisies. – Prof. Louise du Toit



We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Should the Proteas pick Faf du Plessis for the T20 World Cup in West Indies and the United States in June?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes! Faf still has a lot to give ...
67% - 947 votes
No! It's time to move on ...
33% - 465 votes
Vote
Rand - Dollar
18.80
+1.1%
Rand - Pound
23.49
+1.3%
Rand - Euro
20.10
+1.5%
Rand - Aus dollar
12.28
+1.0%
Rand - Yen
0.12
+2.8%
Platinum
923.40
-0.2%
Palladium
957.50
-3.3%
Gold
2,336.75
+0.2%
Silver
27.20
-0.9%
Brent Crude
89.01
+1.1%
Top 40
69,358
+1.3%
All Share
75,371
+1.4%
Resource 10
62,363
+0.4%
Industrial 25
103,903
+1.3%
Financial 15
16,161
+2.2%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE