Ons gryp na elke brokkie statistiek wat sê hoe sleg ons is. Toemaar, voordat jy dit hardop sê, sal ek: My beroep is die grootste sondaar, siende dat ons al hierdie statistieke en syfers publiseer. So, daar het jy dit! Anders as die beroemde Paralimpiese atleet het ek nie Gerrie Nel nodig gehad om my te boelie tot ’n bekentenis nie.
Maar terug na die Suid-Afrikaanse obsessie met selfkastyding. Ons was die afgelope week wéér besig daarmee. Dié keer omdat die Nigeriese ekonomie nou groter is as Suid-Afrika s’n.
Deur ’n proses genaamd “her-basering” het Nigerië se ekonomie eensklaps drievoudig gegroei tot $150 miljard. Dit is omdat sektore wat nie voorheen gemeet is nie, ook nou ingesluit word in hul statistieke. Normale lande, soos Suid-Afrika, doen dit elke vyf jaar. Nigerië, aan die ander kant, het 20 jaar laas dié oefening gedoen. Nodeloos om te sê het daar die afgelope 20 jaar baie in die wêreld gebeur.
Voor julle my daarvan beskuldig dat my reaksie net suur druiwe is, laat my onmiddellik sê ons moet Nigerië se vooruitgang vier. Soos die Suid-Afrikaanse tesourie uitgewys het, hoe groter Afrika-ekonomieë is, hoe beter vir ons kontinent en vir ons.
Die oomblik toe dié nuus bekend word, was Suid-Afrikaners gou om te kla dit is die finale bewys van ons agteruitgang. Nie net wen Nigeriërs ons met sokker nie, hulle is ook ryker as ons.
Maar voor ons weggevoer raak, kom ons kyk net ’n oomblik na die feite. Eerstens is Suid-Afrika se bruto binnelandse produk per capita, wat jou ’n idee gee van individuele bestedingsmag en daarom ’n werklike idee van die land se welvaart, steeds dubbel dié van Nigerië.
Tweedens is Suid-Afrika se infrastruktuur ligjare voor Nigerië s’n. Ja, ons paaie is vol slaggate en ons spoorlyne het aandag nodig, maar oor die algemeen lyk dinge orraait. Vra ’n bietjie die burgers en ondernemings in Afrika se nuut gekroonde no. 1-ekonomie oor hul eie ondervinding met elektrisiteit- en watervoorsiening en jy sal nie ’n kaartjie hoef te koop na die volgende Trevor Noah-vertoning nie.
Derdens – en op ’n meer somber noot – sukkel Suid-Afrika nie met dieselfde vlakke van onstabiliteit as Nigerië nie. Benewens die afskuwelike Boko Haram-moorde wat reeds 1 500 lewens die afgelope jaar geëis het, is daar verskeie ander, mindere opstande wat spruit uit onafgehandelde kwessies in die Nigeriese federale stelsel. Daar is ook die kritieke probleem van amper geïnstitusionaliseerde korrupsie.
Laastens – en die belangrikste – is Suid-Afrika ’n funksionerende demokrasie.
Maar nadat dit alles gesê is, is daar ook redes om bekommerd te wees. Dié redes het te doen met oorgerustheid, lusteloosheid en die verskraling van al die goeie eienskappe hierbo.
Die regering se infrastruktuur-hernuwingsplan moet versnel word. Onstabiliteit hier mag miskien nie kom in die gedaante van terrorisme nie, maar die gewelddadige aard van diensleweringsproteste en arbeidsonrus behoort die rooi ligte te laat flikker. Geweld is besig om ’n te normale en aanvaarbare wapen in ons demokratiese samelewing te word.
Dan is daar die verwante kwessies van korrupsie, die respek vir die oppergesag van die reg en respek vir verantwoordbaarheid. Onlangse ontwikkelinge het gewys dat diegene wat oor ons regeer, nie meer krities staan teenoor hoëvlak-korrupsie nie en dat verantwoordbaarheid gesien word as ’n irritasie. Funksionele lande soos Kenia, Rwanda en Ghana is kort op ons hakke en ons moet wakker word.
So, om deur Nigerië verbygesteek te word behoort nie ’n rede vir depressie te wees nie. Dit moet ons eerder aanspoor om die dinge wat ons laat uitstaan op die kontinent en in die ontwikkelende wêreld beter te doen.
Mondli Makhanya is ’n adjunk-redakteur by City Press.