Share

Repliek: ‘Geen greintjie waarheid’

Die oud-polisie­hoof Johan van der Merwe antwoord op Eugene de Kock se ope brief uit die tronk.

Eugene de Kock reageer verlede week breedvoerig op die uitsprake wat ek en die joernalis Jacques Pauw oor sy paroolaansoek gemaak het.

Ofskoon Rapport aandui dat die name van die generaals en ander polisielede na wie De Kock verwys, weggelaat is op regsadvies, laat die konteks geen twyfel dat ek by die voorvalle waarvan melding gemaak word, betrokke is of daarvan geweet het nie.

Hierdie bewerings is ongegrond en op leuens gebaseer.

Ek het verlede week reeds in ’n brief op Rapport se brieweblad daarop gewys dat Pauw en sy geesgenote deurgaans die indruk skep dat dit generaals is wat die opdragte gegee het, maar verswyg dat, tydens die voorvalle waaroor dit gaan, die betrokke generaals ondergeskikte range beklee het. Tweedens baseer Pauw en Kie. op klakkelose wyse hul beswaddering van die generaals op die bewerings van De Kock.

Ek kan nie anders as om die indruk te kry dat De Kock aan hallusinasies ly nie, want die bewerings wat hy maak, hou geen greintjie waarheid in nie. Ek kry amper die indruk dat so ’n moontlikheid ook uiteindelik tot Pauw begin deurdring.

Ek antwoord soos volg op die skreiende leuens van De Kock:

*  Hy verwys na die feit dat ’n ongeïdentifiseerde brigadier tydens “verskeie” kommissies van ondersoek verklarings opgestel het wat “ons (die geïmpliseerde polisiemanne) net moes teken”.

Daar was sedert 1990 slegs twee geregtelike kommissies wat ondersoeke van hierdie aard gedoen het. Die eerste was die Harms-kommissie. Ek was nooit by die neem van enige verklarings by die Harms-kommissie betrokke nie.

Lt.genl. Alwyn Conradie van die speurafdeling het aan die hoof van die Harms-kommissie se ondersoekspan gestaan en hy het die neem van alle verklarings gereël.

Die tweede geregtelike kommissie is die Goldstone-kommissie, wat sy eie ondersoekspan gehad het.

Indien Rapport die waarheid wou bepaal van De Kock se bewerings dat hulle verplig was om verklarings wat ek opgestel het, te teken, kon hulle bloot die kommissies se verslae in die argief geraadpleeg het.

*  De Kock insinueer dat ek in 1979-’80 by was toe ’n ongeïdentifiseerde persoon vertel het hoe daar met LSD op gevangenes geëksperimenteer word.

Ek het nooit gedurende 1979 of 1980 lede van Koevoet op Oshakati toegespreek nie. Ek het gedurende Desember 1979 diens in Suidwes-Afrika (nou Namibië) aanvaar. Ek was ’n kolonel en in bevel van die veiligheidstakke in Suidwes-Afrika en in Windhoek gestasioneer. Genl. Hans Dreyer, toe ’n brigadier, was in bevel van Koevoet.

Brig. Willem Schoon, toe ’n kolonel, was in bevel van die veiligheidstak op Oshakati. Koevoet se basis was op Ondangwa. Ek het geen gesag oor Koevoet gehad nie en enige gesprekke sou noodwendig onder bevel van Dreyer en ook in die teenwoordigheid van Schoon plaasgevind het. Ek sou ook nie die snert kwytgeraak het dat ek met LSD op persone wat deur die veiligheidstak aangehou is, geëksperimenteer het nie.

Genl. Dreyer en brig. Schoon asook ander lede van Koevoet wat vertroud was met die werksaamhede van die veiligheidstak sou onmiddellik geweet het dat dit onsin is.

*  Oor De Kock se bewering dat hy genader is om te help om die lyk van ’n Inkatha-lid wat tydens ondervraging gesterf het, op te blaas, help ek hom graag uit sy dwaal uit.

Hy het self die volgende besonderhede tydens die amnestieverhoor wat oor hierdie aangeleentheid gehandel het, verstrek: De Kock het aangevoer dat ’n sers. Andrejovic van die veiligheidstak op Springs hom gedurende 1992 gevra het om van die lyk van ’n IVP-lid ontslae te raak wat tydens ondervraging sou gesterf het. De Kock wou nie self by die vernietiging van die lyk betrokke raak nie en sou gereël het dat ’n kleefmyn aan sers. Andrejovic verskaf word. Laasgenoemde sou die lyk met die kleefmyn opgeblaas het om dit te laat lyk of die oorledene ’n fout begaan het toe hy die kleefmyn hanteer het. Dit het later geblyk dat die oorledene ’n Welcome Khanyile was.

Volgens die amnestiekomitee kon sers. Andrejovic nie opgespoor word nie en het hy skynbaar die land verlaat. ’n Sekere Odendaal, ook ’n lid van die veiligheidstak, sou ook by die voorval betrokke gewees het. Hy het nie tydens die verhoor getuig nie. Die omstandighede het uiters vreemd voorgekom. Daar is nie tydens die amnestieverhoor genoem of gevra of ’n geregtelike doodsondersoek gehou is nie. Skynbaar is geen poging aangewend om te bepaal of Khanyile ooit in polisie-aanhouding was nie. Dit is nie duidelik hoe die identiteit van Khanyile vasgestel is nie.

Waar die WVK se ondersoekspan in die geval van ANC-slagoffers die uiterste pogings aangewend het om die naasbestaandes op te spoor en die werklike feite te bepaal, is hierdie geval met skokkende traak-my-nie-agtigheid gehanteer. Daar was geen stawende getuienis nie en dit kan nie bepaal word of die voorval wel plaasgevind het nie.

Daar is nietemin amnestie vir die voorval aan De Kock toegestaan.

*  Oor die voorval by die Squamas-polisiebasis, waar De Kock moes help nadat die polisie dáár ’n man vermoor het, weet ek niks. Ek was nog nooit by die betrokke basis nie. Brig. Schoon, onder wie se bevel De Kock gedien het, dra ook geen kennis van so ’n voorval nie.

Ofskoon advv. Flip Hattingh en Danny du Preez, wat De Kock tydens sy amnestieverhore bygestaan het, hom herhaaldelik gemaan het om geen voorval te verswyg nie, het De Kock nie in hierdie geval amnestie gevra nie. Dit op sigself is eienaardig, want De Kock het amnestie gevra vir voorvalle waarin hy ’n uiters onbenullige rol gespeel het. Volgens De Kock is vyf oudlede asook die vlieënier van die helikopter by hierdie voorval betrokke. Hy het onder Schoon gedien en dit is nie duidelik waarom hy nie eerstens sy bevelvoerder genader het nie.

Daarbenewens het De Kock geen geleentheid laat verbygaan om ’n generaal te betrek en in ’n swak lig te stel nie. Waarom het hy nie hierdie gulde geleentheid benut om amnestie te vra nie?

*  Ek het gedurende September 1995, voor die aanvang van die amnestieproses, ’n vergadering in die polisiekollege in Pretoria gereël waarheen ek alle lede en voormalige lede van die veiligheidstak genooi het. Mnr. Piet Kleynhans van die departement van justisie se regsafdeling het al die regsaspekte omtrent die amnestieproses verduidelik. Ek het dit by die geleentheid baie duidelik gestel dat ek en die ander generaals bereid is om volle aanspreeklik te aanvaar ten opsigte van alle dade wat in die loop van hul werksaamhede gepleeg is, waar dit in ons opdrag of met ons medewete geskied het. Ek het die onderneming wat ons gegee het, deurgaans gestand gedoen. Dit geld ook alle gevalle waarby De Kock betrokke was.

Ek het ook tydens die eerste amnestieverhoor van brig. Jack Cronje en ander oudlede gedurende Oktober 1996 ’n volledige dokument aan die amnestiekomitee voorgelê waarin ek al die persepsies en morele aspekte volledig verduidelik het. Ek het saam met hierdie dokument ’n verklaring deur myself en genls. Mike Geldenhuys, Johann Coetzee en Hennie de Witt ingedien waarin ons morele aanspreeklikheid ten opsigte van alle onregmatige dade wat gepleeg is om die revolusionêre aanslag, terreur en geweld te bestry, aanvaar het.

Ek het aan die hand daarvan getuienis afgelê en breedvoerig al die omstandighede verduidelik waarom daar by lede van die veiligheidstak en die veiligheidsmagte in die algemeen die persepsie bestaan het dat hulle in die bestryding van die revolusionêre aanslag, terreur en geweld buite die perke van die reg kan optree. Die dokument en verklaring is daarna by bykans al die amnestieverhore van oudlede gebruik.

Daar is geen geval waar Eugene de Kock of enige ander oudlid om amnestie gevra het en beweer het dat dit in my opdrag of met my medewete geskied het, waar ek nie aanspreeklikheid aanvaar het nie. Die onderskeie amnestiekomitees het in al daardie gevalle bevind dat die dade in die loop van en binne die omvang asook binne die uitdruklike of versweë bevoegdheid van al die oudlede wat daarby betrokke was, plaasgevind het. Daar is verder bevind dat dit nie vir persoonlike gewin of uit kwaadwilligheid, kwaadgesindheid of nyd gepleeg is nie.

Die enigste uitsondering is die geval waar De Kock en lede van sy eenheid in 1992 in Nelspruit vyf mense vir persoonlike gewin vermoor het.

De Kock het op ’n laakbare wyse genl. Krappies Engelbrecht by hierdie voorval probeer betrek. Engelbrecht het dit ten sterkste ontken en oudlede wat hom baie jare ken, sal kan bevestig dat hy nooit so ’n daad sou goedkeur of daarby betrokke sou raak nie. Amnestie is aan De Kock en die lede van sy eenheid geweier.

Oudgenl. Johan van der Merwe was ­polisie-kommissaris van 1990 tot 1995.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Do you think corruption-accused National Assembly Speaker Nosiviwe Mapisa-Nqakula will survive a motion of no confidence against her?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
No, her days are numbered
42% - 338 votes
Yes, the ANC caucus will protect her
58% - 471 votes
Vote
Rand - Dollar
18.94
-0.2%
Rand - Pound
23.95
-0.2%
Rand - Euro
20.46
+0.0%
Rand - Aus dollar
12.36
-0.1%
Rand - Yen
0.13
-0.3%
Platinum
911.00
+1.6%
Palladium
1,008.15
+0.6%
Gold
2,217.47
+1.0%
Silver
24.78
+0.5%
Brent Crude
86.09
-0.2%
Top 40
68,346
+1.0%
All Share
74,536
+0.9%
Resource 10
57,251
+2.9%
Industrial 25
103,936
+0.6%
Financial 15
16,502
-0.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE