Anders as sy voorganger, pres. George W. Bush, laat pres. Barack Obama hom nie deur sy emosie lei nie. Hy is veel eerder steeds ’n hoogleraar in die regte (soos hy van 1992-2004 aan die Universiteit van Chicago was) wat ’n probleem kil en bloedloos ontleed.
Toe Obama die Nobelprys vir vrede in Desember 2009 in ontvangs neem, het hy ’n briljante akademiese ontleding gegee oor wanneer en met welke oogmerke sy regering militêre geweld sou gebruik om politieke doelstellings te bereik. Maar in die praktyk is sy bewindstyd gekenmerk deur ’n terugtrekking uit Irak en Afganistan.
’n Deel van Obama se motivering is sy oortuiging dat Amerika nie altyd die polisieman van die wêreld kan bly nie, dat Amerika wel politieke leiding en praktiese hulp kan gee, maar dat bedreigde lande ook self meer moet doen om hulself te beveilig.
Onder sy professorale ontleding gaan wel ’n emosie skuil.
Luidens berigte is hy diep geroer deur sy kennismaking met militêre veterane wat fisiek en psigies geskend is deur die oorloë waarin Bush hulle gedompel het. Maar die pad na die hel, lui die spreekwoord, is geplavei met goeie bedoelings. Die vyand kry ook ’n stem.
In dié geval het twee vyande taamlik skielik hul ware gesig gewys. Die een is pres. Wladimir Poetin van Rusland (wat nie nou verder ter sprake kom nie); die ander die Midde-Oosterse terreurbeweging wat homself die Islamitiese Staat (IS) noem.
Die IS het Sirië en Irak met die geweld van ’n orkaan getref en het binne enkele weke as een van die grootste gevare vir die streek ontpop.
Die beweging se buitengewone wreedheid in ’n wêrelddeel waar wreedheid iets alledaags is, het wye paniek veroorsaak.
Dit het die internasionale gemeenskap, veral dié in die Weste, met ’n yslike dilemma gekonfronteer. Hoe keer jy die IS se opmars sonder om weer ingesuig te word in ’n burgeroorlog waar die vegtendes nie goeie teen slegte ouens is nie, maar slegtes teen dié wat nóg slegter is?
Obama se toespraak die afgelope week is ’n poging om ’n uitweg uit dié dilemma te vind.
Hy het ’n vierpunt-plan in die vooruitsig gestel:
* Lugaanvalle teen die IS-terroriste in sowel Irak as Sirië. (Laasgenoemde is opmerklik, aangesien hy ’n jaar gelede daarvoor teruggedeins het);
* Die verleen van opleiding, inligting en toerusting aan die IS se teenstanders, te wete die Irakse weermag, die Koerdiese vegters in Noord-Irak, en die gematigde rebelle wat teen pres. Basjar al-Assad se diktatuur in Sirië veg;
* Die bou van ’n internasionale koalisie om die IS aan te pak; en
* Humanitêre hulp aan slagoffers van die IS.
Obama het beklemtoon dat geen Amerikaanse grondtroepe in gevegte betrokke sal raak nie.
Hoogstens word militêre instrukteurs na die konfliktonele gestuur om anti-IS-magte op te lei en te adviseer. Obama wil duidelik nie opnuut in ’n oorlog ingetrek word waar Amerikaanse soldate in lyksakke huis toe kom nie.
Die lugaanvalle is reeds begin. Amerikaanse bomwerpers het al tientalle bombardemente op IS-magte in Irak uitgevoer en hul opmars min of meer help stuit.
Dit sal na Sirië uitgebrei word, want dit het geen sin om aan die IS dáár ’n veilige heenkome te laat nie.
Dit is interessant dat Obama hom met dié toespraak weer met die algemene gevoel onder die kiesers vereenselwig.
Tot onlangs het ’n taamlike oorlogsmoegheid geheers onder die Amerikaners, wat al sedert 9/11 in 2001 in oorloë gewikkel is.
Maar met die gruwelike moord op twee Amerikaanse joernaliste, Jim Foley en Steven Sotloff (wie se koppe lewend voor ’n televisiekamera afgesny is) het die IS ’n groot fout begaan.
Gou het die oorlogsmoegheid in Amerika plek gemaak vir ’n verskriklike woede. Waar slegs 45% van die Amerikaners luidens ’n peiling van The Washington Post en ABC News in Junie ten gunste van lugaanvalle teen die IS in Irak was, het dit die afgelope week tot 65% toegeneem. Bowendien meen 58% Amerika moet die Koerde met wapens steun, en 90% sien die IS as ’n regstreekse gevaar vir Amerikaanse veiligheid.
Hiermee het Obama ’n militêre betrokkenheid aan die gang gesit wat waarskynlik opnuut jare lank sal duur. Sy eie regeertermyn duur nog iets meer as twee jaar, sodat hy ’n nuwe oorlog aan sy opvolger oorlaat.
Maar die IS is geen teenstander wat soos Saddam Hoesein of Moeammar Ghaddafi binne ’n paar weke platgeloop kan word nie. As jy die IS wil aanpak, moet jy ’n lang asem hê.
Voorlopig het Obama Navo agter hom. By dié organisasie se onlangse spitsberaad in Wallis was daar eenparige steun vir militêre optrede teen die IS.
Maar dis nie genoeg nie. Obama het veral politieke en militêre steun van Islamitiese state in die Midde-Ooste en omgewing nodig. State soos Egipte, Saoedi-Arabië en Turkye.
En, gedagtig aan die spreekwoord dat die vyand van my vyand my vriend is, kan hieruit selfs ’n wankelrige, stilswyende bondgenootskap tussen Amerika en sy ou aartsvyand Iran voortspruit. Verreweg die meeste Iraniërs behoort immers tot die Islamitiese minderheidstroming van die Sjiïete, ’n rigting wat deur die meerderheid, die Soenniete, as ketters beskou word.
En die IS is juis Soennities.
Hoe ook al, heelwat bloed sal nog in die Midde-Oosterse woestynsand wegsink voordat die IS verslaan is.
Dr. Leopold Scholtz is ’n historikus en vryskutjoernalis in Nederland.