Share

Vergáder vir vrede? Ondenkbaar.

“As ons nie praat nie, sal dit nooit eindig nie.” Dit is die tragedie van die konflik tussen Israel en Palestina, skryf Shabtai Gold.

In Israel noem die strydlustiges hul militêre offensiewe elke paar jaar in Gaza “grassny”.

Hulle sê hulle het nie ’n keuse nie – sny jy nie jou gras nie, groei dit wild.

Die kans op vrede is nul, sê hulle. Militêre ingryping is die enigste oplossing.

Dis ’n skrikwekkende gedagte vir elke Palestyn wat in Gaza woon, maar ook vir Israeli’s soos die vredesaktivis Meir Javedanfar. Hy is gefrustreerd en sien uit na die dag dat sy land in vrede met ’n Palestynse gebied kan saamleef.

“Daar is mense in Israel wat nie glo dit is moontlik nie,” sê hy. “Maar so lank as wat daar nie vrede met die Palestyne is nie, sal daar nie vrede met die res van die streek wees nie.”

Javedanfar is nie werklik ’n pro-Pale- stynse aktivis nie. Hy glo in ’n Joodse staat, een wat nog ontwikkel. In baie opsigte leef hy die Sionistiese “droom”: ’n Jood wat na Israel verhuis het om te help bou aan ’n tuisland.

Hy is in Iran gebore en het lank in Engeland gewoon voordat hy Tel Aviv toe verhuis het. Dis net in Israel waar hy as Jood waarlik tuis voel, sê hy.

Javedanfar glo die enigste oplossing vir die konflik in die streek is as die Israelse regering en die Palestyne om ’n tafel gaan sit en ’n vredesooreenkoms uittimmer. Vir baie lyk dit egter nie of Binjamin Netanyahu, Israel se premier, enigsins daarin belang stel nie.

Onlangs, in die hitte van die nuutste konflik, het Netanyahu erken dat hy nooit beheer oor die Wesoewer, wat die Israeli’s kragtens die internasionale reg onwettig beset, sal afstaan nie. Honderdduisende Joodse setlaars woon in die gebied.

Javedanfar is bekommerd dat Netanyahu hom nie aan die broeiende krisis weens Israel se uitbreiding aan die Wesoewer sal steur voordat dit te laat is en kwaai sanksies teen Israel ingestel word nie. “Ek wil nie hê Israel moet geboikot word nie, maar dit kán die gevolg van sy beleid wees.”

’n Vredesooreenkoms kan vir Israel deure open, want dan keer min hom om met die olieryke Arabiese lande handel te dryf. Die alternatief is groter isolasie.

’n Paar maande gelede, in April, het die onderhandelinge tussen die Israelse regering en pres. Mahmoud Abbas van die Palestyne met Amerika as bemiddelaar ná nege maande in duie gestort, sonder dat die partye enige vordering kon maak. John Kerry, Amerikaanse minister van buitelandse sake, het toe gewaarsku dat Israel die gevaar loop om ’n “apartheidstaat” te word (hy het later dié gewraakte woord teruggetrek).

Sedert die gesprek ontspoor het, het die spanning en geweld stadig maar seker opgebou, totdat die dood van Israelse en Palestynse kinders die situasie heeltemal laat handuit ruk het. In sommige gemeenskappe het die sentiment verhard in kras rassisme.

Tot dusver is meer as 260 Palestyne dood in die nuutste offensief in Gaza, wat begin het met tien dae van lugaanvalle en toe uitgebrei is na grondaanvalle.

Een Israeli is dood in ’n mortieraanval uit Gaza, wat deur die Islamitiese Hamas-beweging beheer word.

Die groot verskil in die dodetal het ’n eenvoudige verklaring. Israel het ’n gesofistikeerde oorlogsmasjien, onder meer ’n missielverdedigingstelsel wat die Pale- styne se taamlik ruwe mortiere met gemak kan afweer.

Elkeen glo die ander het die spanning in die streek opgejaag en kan ’n spesifieke voorval noem om dit te staaf. Maar dis kwalik die punt, want die konflik het nie nou eers begin nie.

Emeritus aartsbiskop Desmond Tutu sê hulle tree soos kinders ná ’n relletjie op die speelterrein op. Politieke en godsdiensleiers val oormekaar om die ander party daarvan te beskuldig dat húlle die geveg begin het.

“Die wêreld verwag van die Israeli’s en die Palestyne om nou bo hul verskille uit te styg en optree voordat nóg kinders daaronder ly,” sê Tutu.

Sedert sy uitlating ís nog kinders dood.

Volgens die Verenigde Nasies is 80% van die Palestyne wat in Israelse aanvalle sterf burgerlikes. Sowat 60% van die dooies is kinders.

Israel sê hy teiken nie doelbewus burgerlikes nie. Maar hy doen wel lugaanvalle op dig bevolkte gebiede.

Dit is die hele Gaza, want sowat 1,7 miljoen mense woon so te sê op mekaar op dié strook aarde.

Maar daar is nie ’n enkele bomskuiling nie, geen waarskuwingsalarms nie en baie beslis nie ’n verdedigingstelsel wat missiele kan onderskep nie.

Israel hou die grense dig, met ’n mate van steun van die nuwe regering van Egipte. Dit beteken mense kan nie herwaarts of derwaarts nie. Uitvoer is so te sê onmoontlik en invoer word beperk.

Daar is nie veel wat hulle kan doen as die Israeli’s uit die lug aanval nie, sê ­Maha Mehanna, wat saam met haar uitgebreide familie in ’n gebou in die hartjie van die konflik woon.

Wanneer die ontploffings begin, storm hulle af na haar ouers se woonstelletjie op die grondvloer. Dis nie noodwendig veiliger daar nie, maar minstens is hulle dan saam. “Ons sal liefs saam doodgaan,” sê Mehanna. Sy oordryf nie.

In die nuutste geweld was daar verskeie gevalle waar ma’s, kinders, neefs en niggies in dieselfde lugaanval dood is.

Die afgelope week is seuns van tussen nege en 11 jaar oud op die strand opgeblaas terwyl hulle sokker gespeel het. Dit was net ’n paar dae nadat die Duitsers in die Wêreldbeker-sokkertoernooi in Brasilië gewen het.

Die lewe in Gaza is hard en meedoënloos. Die helfte van die bevolking het nie werk nie. Die VN is die grootste werkgewer in die gebied – dit wys hoe afhanklik die bevolking van internasionale hulporganisasies is.

Mehanna se frustrasie het ook ’n persoonlike element. Haar meestergraadstudie hang in die lug omdat sy nie uit Gaza kan kom om haar eksamen in Egipte af te lê nie. Wat haar woedend maak, is dat daar nie ’n behoorlike vredesproses is nie; dis nie die vyand wat sy haat nie.

“Dit is nie regverdig dat die hele Gaza deurloop nie,” sê sy. “Die meeste mense in Gaza wil vrede hê en wil hê dat hul kinders in vrede leef.

Maar hulle laat ons voel of ons nie mense is nie. Ons woon in die grootse opelug-tronk ter wêreld.

“Die mense hier het ál hul hoop in álles verloor,” sê sy.

“Ons loop onder een ronde geweld ná die ander deur. Waarom gee hulle nie vrede ’n kans nie? Die leiers moet ’n manier vind om saam te sit en ’n blywende vredesooreenkoms op te stel.

“Hulle maak al soveel jare oorlog. Vrede kos niks nie, en oorlog kos soveel.”

Die konflik tussen die Israeli’s en die Palestyne strek tot minstens 1948 terug met die sameflansing van Israel. Baie Palestyne is toe van hul grond afgesit.

In 1967 het Israel die Palestynse gebiede beset en sedertdien het honderdduisende setlaars daar inbeweeg. Nie eens in die tyd toe Abbas en Netanyahu se spanne onderhandelaars om die tafel gesit het, het bouwerk opgehou nie.

Byna vier miljoen Palestyne woon aan die Wesoewer en in Gaza en nog 1,5 miljoen in Israel.

Die vraagstuk van Palestynse vlugtelinge is net so moeilik om op te los as die vraagstuk oor die grense. Daar is dié wat glo ’n tweestaat-oplossing is net nie meer moontlik nie. Van die verlinkses glo die beste opsie is ’n enkele, demokratiese staat waar Jode en Palestyne saam woon.

Dit klink dalk na die ideaal, maar dis allesbehalwe eenvoudig. Dit sal die einde beteken van Joodse en Palestynse nasionalisme. Min sal daaraan byt. Mense soos Javedanfar wíl hul eie Joodse staat hê, en baie Palestyne wil onder hul eie vlag woon.

Maar daar is nie ’n kat se kans om ’n oplossing te vind as die twee partye nie gaan sit en praat nie.

Ja, dit is ’n uiters ingewikkelde kwessie. Hamas en Abbas se sekulêre Fatah-party het maar nou eers begin met versoening nadat daar jare lank ’n yslike gaping tussen hulle was. Israel is glad nie bereid om met Hamas te praat nie omdat dié nie die reg op die bestaan van ’n Joodse staat erken nie.

Dit is moeilik om te dink al dié mense kan saam in een vertrek wees, liters koffie drink en ooreenkomste bereik om uit die gemors te kom.

Dit is die grootste tragedie.

Gold is ’n joernalis wat in Istanbul werk. Hy was voorheen in Jerusalem gestasioneer.


Een van die vier Palestynse seuns wat Woensdag gesterf het toe Israelse magte dié strand gebombardeer het.
Foto: Reuters



We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Do airplane mishaps have any effect on which airline you book your flights with?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
No, these things happen. I pick based on price
51% - 179 votes
Yes, my safety matters. I don't take any chances
49% - 171 votes
Vote
Rand - Dollar
19.24
-0.2%
Rand - Pound
23.77
-0.3%
Rand - Euro
20.51
-0.3%
Rand - Aus dollar
12.41
-0.3%
Rand - Yen
0.12
-0.3%
Platinum
916.60
-1.5%
Palladium
1,003.00
-1.2%
Gold
2,304.68
-1.0%
Silver
26.92
-1.0%
Brent Crude
87.00
-0.3%
Top 40
67,720
+0.3%
All Share
73,661
+0.2%
Resource 10
59,240
-2.8%
Industrial 25
102,507
+1.4%
Financial 15
15,777
+1.0%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE