Share

Anderkant die grense

Mark Gevisser neem jou op ’n boeiende en soms angswekkende reis deur Johannesburg, skryf Amanda Botha.

* Bestel die boek hier, en die e-boek hier.

As kind in Sandton het Mark Gevisser hom ure lank vermaak met verbeeldingsreise aan die hand van die straatgids Holmden’s Register of Johannesburg. Vier dekades later, met die verouderde Holmden’s in die hand, probeer hy die leemtes verken. Nou is hy in die rol van “Dispatcher”, as versender van die inligting wat aan die leemtes, ongemerkte en ongekarteerde gebiede vorm en tekstuur wil gee.

Die verouderde straatgids het oor-en-weer-kruisings tussen sekere (woon)gebiede, soos Sandton en Alexandra, nie toegelaat nie. Aan die hand van talle gidse en kaarte ondersoek Gevisser die taboe-gebiede in Lost and Found in Johannesburg. Met ’n gevoel van verwondering en selfs ongeloof vind hy in sy geboorte- en hartstad letterlik en figuurlik onherbergsame gebiede wat begrens word deur onkunde en vooroordeel.

Dit is ’n stad van bevoorregting en bevoordeling met ’n letterlike en metaforiese ondergrond wat talle mensgeforseerde grense – gegrond op historiese vooroordele en vrese – in werking hou. Enersyds word dit begrens deur voorouerlike tradisies en beperk deur ’n onvermoë om ’n post-moderne en globale samelewing te bestuur. Aan die ander kant bewaak ou en nuwe geld die poorte van vrees om die meerderheid uit te sluit wat steeds aan die agterspeen suig.

Gevisser bou ook brûe tussen die weggelate bladsye van Holmden se straatgids na ’n wêreld waar menslikheid seëvier en daar op onverwagte plekke ’n ontdekking is van die hoop wat nie hoef te beskaam nie.

In ’n onderhoud sê Gevisser hy wou die hiaat tussen ’n generasie vul: dié van sy Joodse kinderjare en sy ouers se lewe wat geslyp is deur geleenthede in apartheid-Suid-Afrika, en ’n volwasse lewe in die demokratiese bestel. Hy wou metafories die grense oorsteek wat mense om watter rede ook al van mekaar weggehou het. Veral is dit ’n strewe en uitdaging om as gay man die gedwonge ­“closet” oop te maak wat uitlewing van ’n seksuele identiteit begrens.

Hy skryf as bevoorregte. Hy het ’n stabiele kinder- en jeuglewe gehad met finansiële welvaart. Sy ouers was toegewyd en het liefdevol met hom en sy sibbe omgegaan. Hy verreken sy geskiedenis: Sy Joodse familie se koms na Suid-Afrika en hul lewe en werk wat aan hulle geleenthede gebied het om ’n gemaklike lewe te waarborg. Dit, weet hy, was ook ten koste van swart mense met “hul onderdrukte identiteit as tweedeklasburgers”.

Wat Gevisser nou verken, is nie die grense wat Suid-Afrika, bepaald Johannesburg, vandag definieer nie, maar hoe ons as Suid-Afrikaners ons binne, oor en teen dié grense definieer. Dit word ’n verrekening van die self binne hierdie metaforiese grense wat deur historiese persepsies, ras- en klasvooroordele gedefinieer word.

Dit gaan ook oor wat ondergronds, onder Johannesburg se oppervlak, gebeur. Dit wissel van ondergrondse tonnels van goudmyne (“die mense wat ander se welvaart na bo bring”) tot die “closet” van die gay, lesbiese en transseksuele; van die verskuilde lewe van Afrikane wat dikwels hier aan wrede xenofobiese opvattings uitgelewer is tot begraafplase waar onderskeid tussen liggaam en liggaam ook nie beoordeling kon vryspring nie.

Gevisser begin sy ondersoek by die grense van die voorstedelike huis se jaart. Die skeiding wat dit impliseer tussen twee wêrelde: die huisbewoners en die bediendes van die agterkamer met sy donker geheime, ouers wat van kinders geskei word om ander se kinders en hul behoeftes ter wille te wees. Hy verken die grens tussen Sandton en Alexandra, destyds soos hy dit as kind ervaar het waar die township verbode was en vandag toe hy angsbevange die grens oorsteek om die “ander” te ontmoet.

Hy werk met die grense tussen die ondergrond van die gay-lewe, veral swart mans, en die bewustheid van ’n onderdrukte kultuur waar skynidentiteit ’n voorwaarde vir aanvaarding en oorlewing is. Soms word dit ’n hartverskeurende relaas van mis- en ontkenning. Gevisser voel sterk oor dié begrensde lewens. In sy huidige projek kyk hy globaal na die onderdrukking van seksuele identiteit en hoe dit samelewings beïnvloed.

Vir my as leser was dit ’n boeiende (en angswekkende) ervaring om saam met die skrywer te leef deur ’n rooftog wat hy en twee vriendinne in hul woonstel ervaar. Wat in die bestek van ure afspeel vandat hulle oorval is totdat die polisie op die toneel verskyn het, verplaas jou in ’n apokaliptiese gegewe. Wat volg met die polisie-ondersoek, die parade waar verdagtes uitgewys word en die hofverrigtinge word ’n groteske spel, ’n aanklag van onkeerbare handeling wat alle grense van die verbeelding oorspoel.

Hier is pynlike eerlikheid, ’n behoefte om tussen al die lae van lewe sin te maak. Met wanhoop, veroordeling en haat kan Gevisser nie leef nie. Hy móét oor die onsigbare hekkies van sy onderbewussyn spring na ’n innerlike én uiterlike vryheid. Hy laat hom nie intrek in die opvatting van begrensing waar boosheid sinoniem met menswees is nie. Hy beur verby die grens op soek na ’n begrip van medemenslikheid.

Sy Holmden-straatgids is net wat dit is: ’n nostalgiese herinnering aan ’n minder turbulente tyd. Hy verstaan nou deeglik hy kan hom in sý Johannesburg terugvind met ’n kompas wat medemenslikheid in sy wydste begrip omvat.

Amanda Botha is ’n joernalis en skrywer van Kaapstad.

* Lost and Found in Johannesburg (Jonathan Ball) kos R230. Dit is ook as e-boek te kry (R128,95 op kalahari.com).
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Can radio hosts and media personalities be apolitical?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes, impartiality is key for public trust
33% - 400 votes
No, let's be real, we all have inherent biases
67% - 828 votes
Vote
Rand - Dollar
19.12
+0.2%
Rand - Pound
23.70
+0.5%
Rand - Euro
20.36
+0.1%
Rand - Aus dollar
12.27
+0.2%
Rand - Yen
0.12
+0.2%
Platinum
944.30
-0.6%
Palladium
1,026.00
-0.3%
Gold
2,395.13
+0.7%
Silver
28.63
+1.4%
Brent Crude
87.11
-0.2%
Top 40
67,314
+0.2%
All Share
73,364
+0.1%
Resource 10
63,285
-0.0%
Industrial 25
98,701
+0.3%
Financial 15
15,499
+0.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE