"So, waarom skryf jy nou juis kinderboeke?”
As ek tien rand gekry het elke keer wat ek al hierdie vraag gehoor het, sou ek waarskynlik ’n nuwe HAT kon koop. (My ou osbloedrooie wat van my skooldae dateer, begin nou stadig maar seker ontbind.)
Op die oog af is dit ’n doodonskuldige vraag.
Maar kort op die hakke van hierdie vraag volg dikwels die opvolgvraag: “En wanneer gaan jy nou eendag ’n roman vir volwássenes skryf?” Of nog erger: “Wanneer gaan jy nou eendag ’n régte boek skryf?”
In die byna 13 jaar sedert my eerste kinderboek verskyn het, was my antwoord op hierdie soort vraag nog altyd ’n half apologetiese gestotter.
Dalk is dit tyd dat ek dit eens en vir altyd vir myself uitspel: Waarom skryf ek nou juis kinderboeke?
Allereers, dink ek, omdat ek kan onthou hoe dit voel om ’n kind te wees.
Ek kan onthou hoe dit voel om wakker te word ná ’n nagmerrie en jou verbeelding onder die bed te hoor asemhaal; om bloedsuiers in die plaasdam te vang en jou suster daarmee te jaag; om jou stúkkend te huil oor jou skaaphond wat doodgery is; om Saterdagaande die Here te smeek vir ’n uiters onwaarskynlike reënbui sodat julle op die plaas kan vasreën en jy vir ’n paar dae skool kan misloop.
Ek kan onthou hoe dit voel as tienerhormone jou meteens so deurtoeklap-bedonnerd maak dat jy die wêreld op sy kop wil keer; as Skunk Anansie, Alanis Morissette en Garbage jou beter verstaan as jou eie ma en pa.
Ek skryf kinderboeke omdat dit pret is.
Kleintyd al, in die Karoodorpie waar ek grootgeword het, was boeke my speelplek.
Kan jy ’n keer onthou toe ’n boek jou as kind so laat lag het dat jy nie kon ophou nie? Ek kan. Trouens, ek onthou selfs daardie magtelose gevoel as jy vir een van jou gesinslede probeer verduidelik waarom jy gelag het, en hulle snap nie regtig die grap nie, want hulle het nie die boek gelees nie.
Vandag nog, as ek kinderstories skryf, is dit die plek waar ek speel. In kinderboeke kan jou ouma ’n rock-sterlos dit asb gekoppel. dis die spelling in sy een boek se titelword. ’n Professor kan zombietamaties kweek en tydmasjiene uitvind. Jy kan ’n olifant as troeteldier kry of jou eie band begin.
Die hemel weet, die grootmenswêreld het genoeg vorms om in te vul, genoeg rye om in te wag, genoeg belastingpapierwerk om uit te stryk, genoeg skottelgoed om te was, genoeg oproepsentrums om te bel. Iewers moet daar ’n plek wees waar superheroes nog in jou agterplaas val, waar jy die kulinêre voortreflikhede van wurms met tamatiesous kan besing en waar jy woorde soos “Snotzilla” mag gebruik. As kinderboekskrywer het jy ’n lisensie om pret te hê.
Ek skryf kinderboeke omdat ek van stories hou.
As jy vir grootmense skryf, kan jy hulle maar verveel met bladsye lange beskrywings, koeitjies-en-kalfiesdialoog en diepsinnige filosofering. Hulle gee nie om nie, want hulle is gewoond daaraan om verveel te word. (Vorms, rye, papierwerk, skottelgoed, oproepsentrums – onthou?)
As jy vir kinders skryf, moet jy egter jou storie ken – letterlik. In ’n lekker kinderboek gebéúr daar die heeltyd dinge, dit het die Hardy Boys, Trompie, Enid Blyton, Paul Jennings, Willard Price, Roald Dahl en Paul Zindel my al kleintyd in die dorpsbiblioteek geleer. Die lekkerste boeke is dié waarvan jy die storielyn soos ’n lekker skinderstorie kan oorvertel.
En laastens, ek skryf kinderboeke omdat ek wéét dis wat ek aanmekaargesit is om te doen.
Dis wragtig nie altyd maklik nie. Daar’s dae wanneer ek vir die leë skerm staar en wens ek was eerder ’n onderwyser of ’n loodgieter of ’n vuurpylwetenskaplike. Daar’s dae wanneer ek uitwerk wat die tantième op ’n boek is, ná belasting, en wonder of ek nie medies of B.Rek. moes gaan swot het soos die loopbaanvoorligters aanbeveel het nie.
Maar dan begin ek weer wonder wat sal gebeur as die nuwe skoolhoof by jou skool in werklikheid ’n ruimtewese is wat kinders se breins deur hul ore uitsuig, of ek peins oor wat sal gebeur as jou beste pel jou uitdaag om ’n week lank nie jou tande te borsel nie...
En dan besef ek weer waarom ek mal is oor wat ek doen.
Party mense kan klasgee, lekkende pype regmaak of vuurpyle bou.
Ek kan kinders vermaak met stories.
En tog, as die volgende joernalis my vra waarom ek nou juis kinderboeke skryf, sal ek, in die hitte van die oomblik, waarskynlik maar weer so ’n vasgekeerde kyk in my oë kry.
En dan stotterend antwoord: “Hm... wel, sien... die ding is...”
Jaco Jacobs het al byna 100 kinder- en jeugboeke gepubliseer en meer as 230 boeke in Afrikaans vertaal. Titels uit sy pen sluit in My ouma is ’n rock-ster, Wurms met tamatiesous en Professor Fungus en die skrikwekkende Snotzilla.