In my ouerhuis het ’n geraamde spreuk gehang. Op swart satyn, in goud geborduur, het daar gestaan: “Gezelligheid kent geen tijd.” Dit was ’n geskenk uit Nederland van my pa se broer, André, wat in die 1950’s klassieke tale aan die Universiteit Utrechtstet gestudeer het. Dit was my heel eerste kennismaking met Nederlands.
In Afrikaans sou dié spreuk só klink: “Geselligheid ken nie tyd nie” of, idiomatieser: “Geselligheid steur hom nie aan tyd nie.” Maar met die Afrikaanse dubbele negatief gaan die bondige trefkrag van dié rymende spreuk verlore. Dat hierdie einste dubbele negatief my jare later as poësievertaler dikwels ’n skeelhoofpyn sou besorg, kon ek tóé natuurlik nie weet nie.
My eerste bewuste kennismaking met die Nederlandse literatuur was in die jaar 1964. Ek was toe nege jaar oud en die boek was die Afrikaanse vertaling van die Vlaamse skrywer Leopold Vermeiren se Die Rooi Ridder.
Dae lank het dié Middeleeuse, Laelandse en waterryke wêreld my geboei – dáár in die droë Windhoek waar ons gewoon het. Ek het aangesluit by die “Orde van die Rooi Ridder” en ook die res van die reeks verslind, met my lapelwapentjie (’n eiketakkie met drie akkers) trots op my bors vasgesteek. Totdat die reeks abrup en sonder verduideliking in die middel van die Rooi Ridder se avonture as Kruisvaarder onderbreek is.
Vir al wat ek weet, dwaal daardie dapper Vlaamse ridder steeds in Palestina rond.
In die ou Suid-Afrika, waarvan die destydse Suidwes-Afrika deel was, moes hoërskoolleerlinge ’n Nederlandse boek lees as deel van die vak Afrikaans. Ons voorgeskrewe boek in die vroeë 1970’s was Aart van der Leeuw se De kleine Rudolf. Van die verhaal onthou ek byna niks meer nie. Veel Nederlands het dit my ook nie geleer nie omdat ons onderwyser die boek al voorlesende in Afrikaans vertaal het. Die onderwyser het nooit ’n woordeboek geraadpleeg nie en was sekerlik ook onbewus van die tallose betekenisslaggate tussen Afrikaans en Nederlands. Destyds was daar ook nog nie ’n behoorlike tweetalige woordeboek nie. Die Groot Woordeboek Afrikaans en Nederlands het maar eers onlangs by Pharos verskyn.
Dit was eers aan die Universiteit Stellenbosch dat ek werklik met die Nederlandse letterkunde kennis gemaak het – in lesings aangebied deur professore wat in Nederland gestudeer het in die dae van onbelemmerde kulturele wisseling.
Die bekendste van hulle was ongetwyfeld prof. W.E.G. Louw, wat perfekte Nederlands gepraat het. Hy kon ook gedrae en roerend voordra uit Gorter, Leopold, Achterberg en Nijhoff.
Ondanks die amptelike opskorting van die kulturele betrekkinge tussen België en Suid-Afrika is ek toegelaat om in 1983 aan die Katholieke Universiteit Leuven te studeer. Ek was destyds ’n lektor in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, en daar het ’n informele skakeling tussen die twee universiteite bestaan.
In die universiteitsbiblioteek kon ek al die boeke vind wat destyds in Suid-Afrika verbied was! Dit was vir my ’n openbaring en ’n opvoeding.
Vir die eerste keer het ek besef presies hóé onderdrukkend en onmenslik die apartheidsregering was. Ek het toe ook besef dat ’n kulturele boikot ewe nadelig is as die sensuur van ’n diktatuur. Albei hou mense onkundig. Ek sal die Universiteit Leuven altyd dankbaar bly dat ek in die hoogty van apartheid daar kon studeer.
Een van die hoogtepunte vir my daardie jaar was die Antwerpse Boekebeurs, “Het andere boek”, waar ek die pas vrygelate Breyten Breytenbach in ’n vraaggesprek sien optree het. (Breytenbach is die voorafgaande sewe jaar in gevangenisse in Suid-Afrika aangehou weens beweerde “terroristiese bedrywighede”.) Die gespreksleier was die digter en joernalis Herman de Coninck. By dieselfde boekebeurs het ’n baie jong, bekkige en rebelse Tom Lanoye sy gedigte “perform”.
Nooit het ek tóé kon dink dat ek 12 jaar later Herman de Coninck én Tom Lanoye in Afrikaans sou vertaal nie. En nog minder sou ek kon raai dat ek die Akademieprys 30 jaar later sou kry vir my vertaling van Tom Lanoye se briljante en ontroerende boek oor sy ma se beroerte en gevolglike spraakverlies (afasie). Met die optekening van haar verhaal probeer hy dan haar verlies vergoed deur al die registers van die Vlaamse taal oop te trek. Vlaams is ’n veel ryker taal vanweë die invloed van die dialekte en Frans daarop as Nederlands en Afrikaans.
Dit het dus groot uitdagings aan die vertaler gestel om ’n ewe geskakeerde taalgebruik as in die oorspronklike boek te gebruik. Dit is ongetwyfeld die moeilikste vertaling wat ek al aangepak het, maar uiteindelik ook die bevredigendste.
Sonder uitgewers wat bereid is om die waagstuk aan te gaan en vertalings te publiseer, sal Afrikaanse lesers onkundig bly oor wat in die moderne Nederlandse literatuur geskep word. Nederlandstalige boeke is byna nie in Suid-Afrika te koop nie, en ook nie Engelse vertalings daarvan nie. En selfs al sou Nederlandse boeke algemeen beskikbaar wees, sou min mense dit kon lees omdat die twee tale so ver uit mekaar gegroei het.
Nicol Stassen van Protea Boekhuis verdien ’n medalje vir wat hy doen om die Nederlandse letterkunde in Suid-Afrika bekend te stel.
Daniel Hugo is ’n digter en vertaler.