Share

Rampspoed van Matie-taal

’n Stellenbosse historikus probeer in ’n nuwe boek bepaal wie die skuld moet dra vir die verengelsing van die Matie-kampus, skryf Hermann Giliomee.

Maties en Afrikaans, 1911-2011: ’n Besondere verhouding, deur Pieter Kapp. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R150
*Bestel die boek hier en die e-boek hier.

Pieter Kapp, ’n historikus wat sowel student as professor in geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch (US) was, het die uitdagende taak onderneem om te skryf oor een van die brandendste kwessies van die jongste tyd.

Sy boek, Maties en Afrikaans, 1911-2011: ’n Besondere verhouding (Protea), kyk nie net na die hewige taalstryd aan die US gedurende die laaste tien tot 12 jaar nie, maar werp ook ’n blik op die hele eeu van Afrikaans aan die US.

As president van die konvokasie van US-alumni het Kapp in die eerste dekade van die eeu die mandaat gehad om die standpunt van die konvokasie van US alumni te stel, naamlik die bevordering van Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch binne die konteks van ’n veeltalige, demokratiese Suid-Afrika.

Hy skryf as ’n betrokke medespeler, maar eweneens skryf hy as ’n opgeleide historikus wat sy standpunte en vertolkings kan staaf. Met die oog op ’n boek het hy tien jaar lank alle berigte, lesersbriewe en die beskikbare dokumente van die US-raad oor die taalstryd bewaar en ruim daarvan gebruik gemaak in die verhaal wat hy vertel. Diegene wat wil verskil van sy verhaal en gevolgtrekkings het die verpligting om hul stellings op dieselfde deeglike wyse te bewys.

In die belang van volle openbaarmaking moet ek as resensent my rol as medespeler en my belange verklaar. Ek is in 2006 deur die US-konvokasie gekies om vir die jare 2006 tot 2010 in die US-raad te dien. In die raad en in talle geskrifte, onder meer in ’n boek, het ek saam met ander raadslede gestry vir ’n vaste, volwaardige en volhoubare plek vir Afrikaans as voertaal op Stellenbosch.

So ’n standpunt sluit nie die gebruik van Engels uit nie, maar dring daarop aan dat dit gereguleer, deeglik gemoniteer en streng tot ’n bepaalde verhouding van die aanbod van onderrig beperk word. Die vergelykende getuienis is oorvloedig dat daarsonder Engels oorneem.

Kapp beskryf die eerste agt jaar ná die oorgang tot ’n demokrasie in 1994 as ’n tydperk van “taalrus” voor die versteuring van die vrede.

Daar het wel verskeie bedenkings opgeduik nadat dr. Chris Brink vroeg in 2002 as rektor oorgeneem het, maar hulle is besweer toe die rektor op die konvokasievergadering aan die einde van 2002 die onomwonde versekering gegee het: “Ons wil ’n uitnemende universiteit wees wat in Afrikaans klas gee.”

Hierdie is ’n uitstekende missiestelling. Die groot tragedie is dat die raad nie gesorg het dat dit by wyse van ’n uitdruklike beleid uitgevoer word nie.

Wat gevolg het, is afwykings en verdraaiings van die formele taalbeleid wat die US geen eer aandoen nie.

Min mense sou op hierdie punt voorspel het dat in die volgende dekade die Afrikaansmedium-opsie (A-opsie) radikaal teruggesnoei sou word tot op ’n punt waar daar tans in vier fakulteite geen A-opsie-klasse meer oor is nie. As Afrikaans op die duur wel onherstelbare skade aangedoen word deur wat aan die US gebeur het, sal dit ’n ontsettende kultuurverlies wees.

Dit is derhalwe nodig om duidelik te wees oor watter foute in die verlede gemaak is en wie daarvoor verantwoordelikheid moet aanvaar.

Eerstens, is dit die rektor wat verantwoordelik is?

Brink, wat van 2002 tot 2006 rektor was, word dikwels as die grootste sondaar uitgesonder.

Toe Brink aangestel is, het hy die raad beloof Engels kan ingevoer en tweetaligheid doeltreffend bestuur word op ’n wyse wat Afrikaans nie groot skade sou aandoen nie. Hy kon nie dié belofte gestand doen nie.

Hy het dadelik van die mislukking ’n deug probeer maak.

Toe ek ’n lid van die US-raad was, het hy my baie laat dink aan die karakter in Graham Greene se The Quiet American van wie ’n ander karakter gesê het: “I have never known a man who had better motives for all the trouble he caused.”

Is regeringsdruk verantwoordelik? Ek stem saam met Kapp dat die regering se invloed nie beslissend was nie.

Het die studente daarvoor gevra? Die enigste onafhanklike meningspeiling wat gedoen is, is een wat in 2007 deur wyle dr. Law­rence Schlemmer in opdrag van die US-raad gedoen is.

Schlemmer het gevind dat die gewildste opsie onder Afrikaanse studente Afrikaans-medium is (meer as 80%). Meer as 40% van die Engelssprekendes was ook ten gunste daarvan.

Het markkragte ’n deurslaggewende rol gespeel? Toe ek in die raad was, het daar ook vier groot sakelui gedien wat luidens koerantberigte elkeen meer as R400 miljoen sterk was. ’n Mens kan seker aanneem dat hulle iets van markkragte weet. Van hulle het net een, dr. Edwin Hertzog, voorsitter van die US-raad, hom ten gunste van hoofsaaklik Engelsmedium uitgespreek.

Die ander drie het almal aangedui dat Afrikaans-medium ’n belangrike komponent moet wees.

Waar het die fout dan eintlik gelê?

As mens Kapp se deeglike uiteensetting lees, is dit duidelik dat dit die US-raad is wat die afgelope tien jaar die grootste verantwoordelikheid moet dra vir die afskaling van Afrikaans wat uiteindelik kan lei tot die ondergang van Afrikaans as voertaal aan die US.

Die statuut van die US ken die primêre verantwoordelikheid vir die vasstel van ’n taalbeleid aan die raad toe. Die raad het egter toegelaat dat die topbestuur die verantwoordelikheid oorneem en het steeds passief en reaktief op hul voorstelle gereageer.

Die kern van die probleem is dat die raad nie die laaste tien jaar die US se marknis bepaal het en ook nie vir die bestuur opdrag gegee het om ’n taalbeleid geskoei daarop op te stel nie. Ek vind dit veral verstommend dat die interpretasie van die taalbeleid na die dekane gedelegeer is, wat ná ’n termyn van vyf jaar herkies moet word en dikwels nie bereid is om ongewilde besluite te neem nie.

In die praktyk kom dit daarop neer dat dit aan dosente oorgelaat word om self te kies in watter taal hulle klas wil gee.

Watter rampspoedige en absurde indruk sal dit skep as meer en meer Afrikaanse dosente verkies om in Engels klas te gee en dit aan ’n senior student oorlaat om dit vir ’n oorwegend Afrikaanse klas te tolk?

Dit is ’n weerspreking van alles waarvoor die US nog gestaan het.

Ek het nog nooit gehoor van ’n universiteit waar dosente soveel seggenskap oor die voertaal het nie. Dit opper ernstige vrae oor die raad en die topbestuur se bereidheid om te verseker dat die beleid korrek en konsekwent toegepas word.

Kapp se boeiende en indringende oorsig van ’n eeu van Afrikaans op Stellenbosch laat mens weer opnuut besef hoe onafskeidelik Afrikaans en die US aan mekaar gebonde is. Die taaldrama aan die US gaan voort. Dis die plig van almal vir wie Afrikaans na aan die hart lê om verwikkelinge fyn dop te hou.

Prof. Hermann Giliomee is ’n geskiedskrywer.



We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
How often do you go to the cinema to watch new movies?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Often - nothing beats the big screen
2% - 26 votes
Hardly - I prefer streaming online
66% - 730 votes
Sometimes - it depends on the film release
32% - 350 votes
Vote
Rand - Dollar
19.15
-0.7%
Rand - Pound
23.82
-0.6%
Rand - Euro
20.39
-0.5%
Rand - Aus dollar
12.30
-0.5%
Rand - Yen
0.12
-0.6%
Platinum
950.40
-0.3%
Palladium
1,028.50
-0.6%
Gold
2,378.37
+0.7%
Silver
28.25
+0.1%
Brent-ruolie
87.29
-3.1%
Top 40
67,190
+0.4%
All Share
73,271
+0.4%
Resource 10
63,297
-0.1%
Industrial 25
98,419
+0.6%
Financial 15
15,480
+0.6%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE