Min of meer elke oggend teen so om en by agt-uur tap hy die bad ongeveer half vol water.
Stadig klim hy in. Die spieël teen die muur ignoreer hy. In die bad dink hy oor laas nag, oor vandag en ook oor die nag wat kom. Deur die venster sien hy die kreupelhout. ’n Duif kom sit in die droë takke en kyk stip na hom.
Die man gly dieper onder die skuim in, glimlag skamerig en wonder of die duif ’n mannetjie of wyfie is.
– Flip Theron, Wildernis-Oos
Stoel voor die venster
Sy voel nie goed nie, maar sy het nie vandag tyd vir skete nie. Haar kinders kom kuier.
Hulle is al amper twee weke in die land, maar kuier eers bietjie by hul vriende. Hulle is minder as ’n uur hiervandaan, daarom weet sy dat hulle middagete hier sal wees soos afgespreek.
Twaalfuur is alles gereed en maak sy haar gemaklik in die stoel voor die venster om te wag. Dít is waar haar kinders haar kry toe hulle twee uur later opdaag. Dood in die stoel voor die venster.
– Ronelle Meyer, Bloemfontein
Dit reën daar buite
Die mure omvou hom, versmorend, grys, soos ’n spook in ’n nimmereindigende nagmerrie. Die gedruis van ’n duisend stemme laat hom wegsink, nietig voel. Asof hy nie hier hoef te wees nie.
Die lig is helder, nee, dit is skerp en teregwysend in sy oë. Die kontras is skril met die donkergrysheid buite, die reën en die natheid.
Maar onder die kantoorgeraas druis die reën saggies in sy ore, amper veraf waar sy gedagtes is. Elke druppel is ’n fluisterstem wat hom uitnodigend roep, beloftes maak. Letterlik uitnooi.
En dan staan hy op om nooit weer hiernatoe terug te keer nie.
– De Wet van Biljon, Lonehill
Stuur ’n baie kort kortverhaal van nie meer as 100 woorde nie na boeke@rapport.co.za en staan ’n kans om ’n lekker vet boekprys te wen.