Hier is wat ek dink die interessantste vraag is oor volgende maand se verkiesing: Waarom is daar, ondanks die talle swakhede van die regerende party en ondanks die bagasie wat die presidensiële kandidaat met hom saamdra, so min vooruitsigte dat die opposisie enige beduidende steun by die ANC sal kan afneem?
Waarom, veral, is die DA aktief besig om hul verwagtinge afwaarts aan te pas deur te sê dat hulle nie 30% van die stemme sal kry nie?
Een antwoord is dat politiek in Suid-Afrika, soos in baie ander lande, neerdrukkend onaangeraak is deur groot verskuiwings in party-sentiment.
Groot getalle kiesers kies hul party gegrond op ’n reeks gedeelde, soms mitiese, waardes en verander amper nooit hul mening nie.
Dit is waarom, byvoorbeeld, gesê word dat die Amerikaanse politiek in stamverband bedryf word: Demokrate sal altyd vir hul kandidaat stem, Republikeine vir hulle s’n. Ondersteuners van albei partye sal hul leiers blindelings verdedig wanneer hulle gekritiseer word. Niemand verander ooit van party nie.
Boonop het ons in Suid-Afrika die situasie dat die regerende party ook die party van bevryding is, wat beteken dat die ANC kan steun op reserwes van lojaliteit en toegeneentheid wat dit soveel moeiliker maak vir sy ondersteuners om hul voorkeure te verander.
Dit alles is taamlik bekende terrein.
Maar daar is ook ’n ander manier om na die saak te kyk wat illustreer hoe moeilik dit vir die opposisie is om steun van die ANC weg te rokkel.
Miskien is die beroemdste verkiesingslagspreuk van alle tye dié van Ronald Reagan toe hy Jimmy Carter uitgedaag het en kiesers gevra het om hulself af te vra of hulle nou beter daaraan toe is as wat hulle vier jaar tevore was.
Die briljantheid van die vraag lê in die feit dat dit kiesers slegs vra of hulle beter daaraan toe was vóórdat Carter oorgeneem het. Omdat Carter president was in ’n tyd van verhoogde inflasie en werkloosheid, het Reagan se vraag tot die wortel van kieserongelukkigheid deurgedring.
Ondanks hul probleme van die afgelope paar jaar, het die ANC die meeste mense se lewenstandaard sedert 1994 verbeter. Dit maak dit baie moeilik om kiesers te vra of hulle nou beter daaraan toe is as voorheen.
Al wat die opposisie die kiesers kan vra, is om ’n ander vraag te oorweeg: Sou jy beter daaraan toe gewees het as die ANC nie regeer het nie?
Wat ookal die meriete van die opposisiepartye se antwoord op die meer abstrakte vraag, is dit ’n veel swakker vraag om na kiesers te neem – en een wat ’n veel kleiner kans het om te slaag.