En dit is vir álle partye moeilik, want dit verg van ons om ’n hele paar dinge te konfronteer, erken en aanvaar wat ons nog lank nie gereed is om na die oppervlak te bring nie – dít is hoe ongemaklik dit is.
Vir sommige swart mense – ek kan nie namens alle swart mense praat nie – is die onmiddellike reaksie op swartgeverfde gesigte diepe aanstoot, al kan hulle nie noodwendig verduidelik presies waarom nie. Ja, “blackface” het ’n geskiedenis in die beeldende kunste waar dit gebruik is om swart mense te beledig of om drogbeelde van swart mense te skep.
Daar is die besef dat jou (swart) vel gesien kan word as ’n kostuum wat vir vermaak gebruik kan word, en dus iets is van min waarde of substansie.
Maar tog is daar baie mense, swart en wit, wat die geskiedenis van die verskynsel nie ken nie en die reaksie daarop nie heeltemal verstaan nie.
Dit is bloot net te ver uit hul verwysingsraamwerk.
Die voorval die afgelope week toe twee wit Matie-studente hul gesigte vir ’n partytjie swart gesmeer het as voorstelling van die Williams-tennissusters (Serena en Venus), herinner aan ’n tyd toe ’n swart vel die onderwerp was van vermaak en spot en pret vir wit mense. So asof swart ook vuil is, anders is, taboe is en sonder enige kulturele waarde, herkoms of rykheid. Dis iets om mee te speel.
Maar ons moet aanvaar dit is ’n vel met baie geskiedenis. En dat dié geskiedenis nie noodwendig gevóél kan word deur mense wat nie in ’n swart vel woon nie – en dis oukei.
Dit is iets wat jare al gebruik en misbruik word, en dis tyd dat ons teenoor mekaar erken: “Dit is jul probleem en ek probeer dit nie as niks afmaak nie, maar ek verstaan dit regtig nie.”
As jy swart is, is jy altyd van jou swart vel bewus. Dit is moeilik om te beskryf hoeveel wat sleg is, met swart velle geassosieer word. Mense dink dit gaan net oor arm of ryk wees. Maar dis meer: Dit gaan daaroor dat ’n wit vel jou in die wêreld die voordeel van die twyfel gee.
Dit gaan daaroor om ’n kledingstuk in ’n winkel te dra wat wenkbroue sal laat lig en agterdog sal wek as ’n swart mens dit dra, maar as ’n wit mens dit dra sal hy of sy nie as ’n “verdagte” beskou word nie, bloot weens die wit vel.
Of om in die straat te stap sonder dat die persoon voor of agter jou vrees dat jy hulle skielik gaan aanval. Of dat, as iemand van ’n ander rasgroep jou (wit) vel sou uitbeeld om enige rede, dit net nie dieselfde konnotasies dra nie.
Dit is die soort goed wat wit mense bereid moet wees om te erken as ons wil hê hierdie gesprekke moet enigsins regte vrugte dra. Dis nie maklik nie. Want dit gaan tog ook oor wit mense se bevoordeelde posisie in die land.
Daarom voel ek dit is nie reg om die hele affêre net af te maak as onskuldige studentepret of ’n nietigheid omdat daar “groter issues” is soos misdaad en armoede nie. Dit het niks daarmee te doen nie.
Hierdie is ’n diepgewortelde kwessie wat ons aanhou om net mis te kyk en mis te leef en ons praat net daaroor wanneer ons oor iets aangevat word (soos die afgelope week en by Tukkies ’n paar maande gelede). Dán is ons reaksie vol emosie en is ons nie eintlik meer gewillig om te probeer verstaan wat die ander party sê nie.
In die konteks van Stellenbosch gee “blackface” aanstoot, want net soos swart velle en die spotdrywery daarmee, het Stellenbosch ook ’n geskiedenis. Dit is ’n plek wat steeds groot uitdagings bied vir swart studente wat week ná week nie net herinner word aan hul ras nie, maar ook rasverwante wrywing of voorvalle ervaar. Die feit dat party swart mense die kampus reeds op sekere maniere ervaar, maak die jongste voorval daarom net soveel skadeliker. Dit wys ook weer hoe dit wat ons as onskuldige pret of kwetsend sien, soms deur ons velkleur bepaal word.
Dit gaan nie vir my juis hier oor rassisme nie; eerder oor ’n sensitiwiteit vir wat om ons gebeur; ’n besef dat alles wat ons doen, ’n regstreekse impak op ander mense het. Baie swart studente voel reeds nie baie welkom op Stellenbosch nie, of voel dat hul versugtinge of besware nie regtig gehoor word nie, en dít is waar die probleem begin.
Hulle voel omdat hulle in die minderheid is, is dit maklik om hul stemme stil te maak. Dit is nie net op Stellenbosch waar dit die geval is nie – baie swart Suid-Afrikaners voel vandag nog so.
Die gesprek oor ras is nie eerlik genoeg nie, want dit is ongemaklik. Wit mense wil nie graag erken hoe bevoorreg hulle is nie.
Swart mense moet die feit verwerk dat hulle in velle rondloop met baie bagasie. Dit is uitputtend.
En as ons elkeen ons in loopgrawe gaan ingrawe en ons “eie mense” elke keer net gaan verdedig, stort die gesprek inmekaar. Ek moet weet as ’n swart persoon waarom jy nie verstaan dat ek geraak voel deur mense wat hul gesigte swart smeer nie, hoe ongemaklik die gesprek ook al is. En dat jy nie noodwendig ’n rassis of booswig is as jy nie verstaan nie.
Kom ons brei ons woordeskat uit en leer om meer krities te dink en praat oor komplekse kwessies met lang en ingewikkelde geskiedenisse.
S’thembile Cele voltooi tans haar BPhil-graad in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch en is ’n Mandy Rossouw-beurshouer.