Share

Vergeet van Hlaudi se matriek

Suid-Afrika se wetlike mandaat aan ons openbare uitsaaier is een van die mees progressiewes op die vasteland – indien nie in die wêreld nie.

Op die een of ander manier moet: in al 11 amptelike tale uitgesaai word (eintlik 13 op die radio); gestreef word na ’n hoë gehalte in elkeen van dié tale; en “kykstof en nuus in die openbare belang” moet gelewer word, “wat die hoogste standaarde van joernalistiek weerspieël en ook gebalanseerd en billik is én onafhanklik van die regering of kommersiële oorwegings”.

Dié wet word nie regtig meer nagekom nie. Eintlik word selfs die bedoeling agter die wet al lank verontagsaam.

Die wet is geskryf in daardie gespanne, dog belowende tyd tussen apartheid en die eerste regering na bevryding.

En dis juis só gestel omdat geen een van die partye – nóg die ANC nóg die apartheid-regime – ’n monopolie op die mag gehou het nie.

Die land het destyds pas uit ’n tydperk van (onder meer) barbaarse noodtoestande gekom, waartydens daar strawwe maatreëls teen die media ingestel is.

Tog het ’n sterk burgerlike samelewing dié tyd oorleef. Dit het ’n anti-sensuur-koalisie ingesluit wat uit vakbonde en menseregte-groepe bestaan het. Die ANC het ’n doelwit gemeen gehad met dié groepe, so hulle het saamgestaan teen apartheid.

Hierdie koalisie het gefokus op die openbare uitsaaier, die SAUK. Hulle het optogte en betogings gehou, veral teen planne van FW de Klerk se regering om sy eie taakspan in te stel om die uitsaaier te herstruktureer.

Op dié manier het die uitsaai-beleid ’n integrale rol in die oorgang na demokrasie gespeel. Die ANC het gepraat van die “monopolie van die staatsbeheerde media om miljoene Suid-Afrikaners te kan bereik... Die eindresultaat is dat mense onvermydelik verwronge en bevooroordeelde inligting ontvang.”

Die ANC het ’n beroep gedoen dat die “openbare media” in die beheer van ’n onafhanklike, tussentydse gesag geplaas word om “regverdigheid, neutraliteit en onpartydigheid te verseker”.

Dit beteken die Uitsaaiwet het selfs voor die eerste demokratiese verkiesings ’n openbare, eerder as ’n staatsuitsaaier omskryf.

Die vroeë dae van dié mandaat was hoopvol. Toe ek ’n politieke redakteur was in 1995 het ek een keer uitgevaar teenoor die destydse minister van kommunikasie, Pallo Jordan, nadat hy een van ons verslaggewers aangespreek het. Hy het heeltemal goedgunstiglik op my stellings gereageer. Dít is ’n onvoorstelbare scenario in vandag se toestande.

En die gehalte van die werk het nuwe hoogtes bereik. Al het ek reeds my “kwota” van Afrikaanssprekende verslaggewers in die politieke span gehad, is ek tog toegelaat om Antjie Krog aan te stel as ’n “spesialis”-verslaggewer.

Haar skerp oor en haar ingestelde oog vir nuanse en verandering het ons radionuusberigte laat sing. Wie anders, in daardie tyd óf nou, kan die koningin van Engeland beskryf as “enigiemand se tannie van P.E. af, met ’n John Orrs-handsak en skoentjies van Stuttafords”?

Ons verslaggewers moes nuwe woorde vind in Afrikatale vir alles van “hit squads” tot “mediation and arbitration”. En, anders as in die verlede toe swart verslaggewers vir hul onderskeie stasies verslag gelewer het, was daar nou een nuuskantoor met gemeenskaplike redakteurs, stories en uiteindelik – het ons gehoop – gemeenskaplike waardes.

Maar soos wat die ANC homself in mag toegewikkel het, is die gees van die wet stadig ondermyn.

Dié verwikkeling is nie uniek in die geskiedenis nie. Thomas Jefferson, ’n argitek van die Amerikaanse Revolusie, het eens gesê hy soek eerder koerante sonder regering as regering sonder koerante. Maar dit was voor hy president geword het. Daarná het sy geesdrif vir persvryheid verkrummel en talle joernaliste is in die tronk gegooi vir “laster”.

In Suid-Afrika is dit nie soseer die wet waarmee gepeuter is nie. Dit is eerder die regulasies wat die verhouding bepaal tussen die regering en die SAUK-raad, wat toesig moet hou oor die uitsaaier, wat agterweë gelaat is.

Wyle Roy Padayachee het as minister van kommunikasie dié regulasies aangepas sodat die minister die reg sou hê om regstreeks bedryfshoofde aan te stel. Dit is hoekom die nuwe minister van die vreemd hergestruktureerde departement van kommunikasie, Faith Mutha­mbi, regstreeks vir Hlaudi Motsoeneng as bedryfshoof kon aanstel, al is die pos nooit geadverteer nie én in weerwil van die openbare beskermer se verslag oor hom.

Dit is deel van die groeiende beheer wat die regering oor die uitsaaier uitoefen. Dikwels, en hier lê die angel, is mag verraderlik. Daar word nie vir dié magte voorsiening gemaak in die wet nie, ook nie in die SAUK se eie regulasies nie, en tog kan dit nie teëgegaan word nie.

Daarom kon Snuki Zikalala, voormalige hoof van nuus, sonder teenstrydigheid aankondig dat hy slegs regstreeks verantwoording doen teenoor die raad en nie teenoor die destydse hoof, Peter Matlare, nie.

Op dieselfde manier het Motsoeneng gewys waar die regte mag lê. Toe die laaste raad hom in 2013 as “waarnemende” bedryfshoof uit die kussings gelig het, het die raad net drie weke gehou. Die parlement het die raad die volgende maand ontbind nadat al die ANC-lede uit die raad bedank het.

Die grootste uitdaging by die SAUK is die gebrek aan deursigtige bestuur.

Die bron van mag bly onsigbaar, al is die mag self oral duidelik. Die ophef in die gedrukte media oor Motsoeneng se aanstelling het nie regtig hierdie probleem geïdentifiseer en uitgewys nie. Trouens, dit het gegrens aan ’n soort klasse-snobisme oor sy swak Engels (iets wat hy, terloops, tot sy voordeel gebruik). Een gereelde kommentator noem hom die “matrieklose Hlaudi”, so asof dít die groot probleem is met ’n man wat op die platteland in Qwaqwa grootgeword het te midde van ’n warrelwind van geweld en onteiening eie aan die laaste jare van apartheid – en wat nou geklim het tot ’n posisie van ongeoorloofde mag.

Toe ek ’n dekade gelede by die SAUK gewerk het, was dit algemene kennis dat Motsoeneng nie ’n matrieksertifikaat gehad het nie. As hy probeer voorgee hy het wel een, hoekom het hy dan vir homself sulke swak uitslae op die SAUK-aansoekvorm ingevul? Die vraag moet wees: Hoe en hoekom het hy soveel mag gekry dat hy die raad – en inderdaad die hele openbare instelling – as gyselaar kan hou?

Dis gewild om te sê die SAUK word deur belastingbetalers onderhou. Eintlik toe nie. Sowat 11% van sy inkomste is van lisensiegeld en minder as 5% kom van die staat. Die res kom alles uit advertensiegeld.

Dit is amper die enigste openbare uitsaaier met so ’n moeilike mandaat – 11 tale, nuuskwotas, minderheid-sport-kwotas, ensovoorts – wat ook amper heeltemal uit winste gefinansier word.

En dís die ding. Die huidige status kan nie voortduur nie. Adverteerders verloor vertroue soos wat nuus geloofwaardigheid en programme kreatiwiteit verloor. Óf die regering hou die SAUK se kop bo water óf hy moet ’n deel van sy mandaat laat vaar.

Dit mag dalk die einde beteken van die huidige magsbalans. Dit gaan nie oor die matrieksertifikaat of die “sonskyn”-nuus nie. Dit gaan oor die syfers op die bankstaat.

Pippa Green is ’n voormalige politieke redakteur en hoof van radionuus by die SAUK.
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Can radio hosts and media personalities be apolitical?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes, impartiality is key for public trust
32% - 419 votes
No, let's be real, we all have inherent biases
68% - 886 votes
Vote
Rand - Dollar
19.07
+0.5%
Rand - Pound
23.60
+1.0%
Rand - Euro
20.32
+0.3%
Rand - Aus dollar
12.24
+0.5%
Rand - Yen
0.12
+0.4%
Platinum
943.20
-0.8%
Palladium
1,035.50
+0.6%
Gold
2,388.72
+0.4%
Silver
28.63
+1.4%
Brent Crude
87.11
-0.2%
Top 40
67,314
+0.2%
All Share
73,364
+0.1%
Resource 10
63,285
-0.0%
Industrial 25
98,701
+0.3%
Financial 15
15,499
+0.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE